Tuesday, February 4, 2025

Anderster Royal-skou was ’n groot sukses

Estimated reading time: 10 minutes

Die jaarlikse Royal-skou by Pietermaritzburg, vanjaar genoem die Royal Landbou-uitstalling, was vanjaar in ’n paar opsigte anders as gewoonlik. Eerstens is verwag dat die skou vanjaar reeds by sy nuwe tuiste by Hilton aangebied sou word. Dit, sê Angus Williamson, voorsitter van die vee-afdeling van die Royal Agricultural Society (RAS) wat die skou aanbied, het verander toe die nuwe eienaars van die huidige skouterrein die RAS gevra het om die perseel tot einde Julie te gebruik, wat beteken het die terrein was beskikbaar om die skou aan te bied. Dit het die druk verlig om die nuwe perseel binne ’n baie kort tyd gereed te kry.

Die tweede ongewone verskynsel was dat die skou uitsluitlik op landbou gefokus het. Baie van die tradisionele uitstallers uit ander bedrywe was dus nie teenwoordig nie en die skouterrein het effens leeg gevoel.

Die skou was nietemin ’n groot sukses. Volgens die bekende interrasbeoordelaar, Jan de Jong, was hulle weereens beïndruk met die gehalte van die vee. Jan kan die besonderse prestasie agter sy naam skryf dat hy die interrasbeoordelaar in beide die kleinvee- en grootvee-afdelings was. Dit gebeur nie maklik of dikwels nie.

“As beoordelaar is dit vir ons belangrik om spesifiek klem te lê op die funksionele doeltreffendheid van die diere wat voor ons staan. As diere pragtig gevoer is en ’n prentjie vorm, maar hulle beweeg byvoorbeeld moeilik, beteken hulle eintlik min as winsgewende eenhede in ’n boerdery-onderneming. Daarom is ons redelik streng daarop. Eweneens is die vermoë om maklik kondisie te handhaaf om maklik beset te raak en ’n goeie lam of kalf te produseer, baie belangrike ekonomiese eienskappe.”

Royal se interraskompetisie

Die Royal is bekend vir ’n spoggerige interraskompetisie. Wenners in beide die kleinvee- en grootvee-afdeling word tydens die bekende Gold Cup-parade aangewys.

Die skaap-interraswenners was ’n Dormer en ’n Suffolk. Die Dormer was die grootkampioen-ram en die Suffolk die grootkampioen-ooi. Die Dormer-ram is die eiendom van Hatari Farming, met eienaars Jan en Marius Eksteen. Die Suffolk-ooi behoort aan die bekende Steenekamp broers, Tjaart en Steyn, van Twee Seuns Suffolks.

Die Simmentalers het weereens uitgestaan tydens die skou en het die titels van grootkampioen-bul en -koei opgeraap. Die grootkampioen-koei is die eiendom van Peter en Lucille Abrahamse van River Valley Simmentalers en die bul behoort aan Ken en Tessa Baxter van die Mont-Beau Simmentaler-stoet.

Kyk gerus na die video Interbreed championships at Royal Agricultural Exhibition – a judge’s perspective op die Plaas/Farm TV YouTube-kanaal om te hoor wat Jan de Jong oor die diere te sê gehad het.

Jong afslaers maak hul stemme dik

Die KwaZulu-Natalse (KZN) streeksrondte van Plaas Media se bekende Toyota SA Nasionale Jongafslaerskompetisie het weer vanjaar by die Royal plaasgevind. Vyf deelnemers het meegeding om hul plek in die finaal vas te maak. Twee ou bekendes in die kompetisie, John Cannon, eerste, en Fiso Hadebe, tweede, dring deur na die finaal wat in September by Nampo Kaap gaan plaasvind.

Plaas Media bied sedert 2022 die junior-afdeling van die kompetise, bekend as die Toyota SA Nasionale Jeugskou Afslaerskompetisie, in samewerking met die Nasionale Jeugskou aan. Die KZN Jeugskou-kampioenskap het tydens die Royal plaasgevind en so ook ’n streeksrondte van die jeugskou-afslaerskompetisie. Die wenner in die seniorkategorie (15 tot 18 jaar) was Noah Manning en die wenner in die juniorkategorie (11 tot 14 jaar) was Siphesihle Mbhele.

Nasionale Dormer-kampioenskap

Een van die hoogtepunte op die program by vanjaar se Royal-skou was die Dormer-skaaptelersgenootskap se heel eerste nasionale kampioenskap. Omdat die genootskap vanjaar hulle 80ste bestaansjaar vier, het die raadslede dit goedgedink om met die ras te skou, aangesien die genootskap voel dit is ’n goeie manier om die gehalte van die Dormer in Suid-Afrika ten toon te stel.

Die raad het goeie ondersteuning vanaf die telers ontvang. Marius Eksteen, raadslid van die Dormer-skaaptelersgenootskap, het gesê 12 telers het met altesaam 183 skape aan die skou deelgeneem. “Dit is glad nie sleg vir ’n eerste keer nie.” Die titels van grootkampioen-ram en opperste kampioen het aan Hatari Dormers gegaan. Die grootkampioen-ooi titel is aan Vredesig Dormers toegeken.

KZN Brahman-klub se plaaslike skou

Die KZN Brahman-klub is bekend vir hul goeie gehalte vee en puik prestasie op skoue – nie net by die Royal-skou nie, maar selfs op nasionale vlak. Die klub is al vir etlike jare by die Royal betrokke en was een van die eerste genootskappe om ’n klubhuis daar te vestig. Hulle het ook elke jaar die meeste diere op die skou.

Vanjaar het sowat 15 telers aan die KZN Brahman-skou deelgeneem met 107 haltermak en 45 nie-haltermak diere. Jamica Brahmane van Janco en James Prinsloo het die senior- en grootkampioen-koei vertoon en die Arc-en-Ciel grys- en rooi-Brahmanstoet die senior en grootkampioen-bul.

Plaaslike Simbra-skou

By die Simbra-skou het een stoetery, die Joshlin Simbra-stoet, se diere beide die titels van grootkampioen-bul en -koei verower. Die eienaar van die stoet, Joel Lutge, glo hulle sukses kan toegeskryf word aan die tipe Simbra wat hulle teel en dat dit die tipe bees is waarmee die ras wil vorentoe gaan. Die tipe, verduidelik hy in ’n onderhoud met Plaas/Farm TV, is gefokus op drie fundamentele punte: hormonale balans, inherente diere-kondisionering, en funksioneel-doeltreffende diere.

Plaaslike Simmentaler-skou

Die Simmentaler-ras is die afgelope paar jaar baie prominent by die Royal-skou. Ed Barry, lid van die rasverbeteringskomitee van die Simmentaler-beestelersgenoorskap van Suid-Afrika, verduidelik dat die diere fenotipies baie sterk is en dat die ras aanhou verbeter ten opsigte van genotipiese eienskappe. Dit het duidelik uitgestaan by die skou.

Die bekende Simmentaler-teler, Peter Abrahamse, wat by die nasionale Simmentaler-skou tydens Bloemskou skoonskip gemaak het, het by die Royal nog ’n grootkampioen-koei-titel verower. Die grootkampioen-bul was ’n bul van Ken Baxter van Mont-Beau Simmentaler-stoet.

Plaaslike Rooi- en Swart Angus-skou

Die Angus-beestelersgenootskap het ook ’n plaaslike skou tydens die 2024 Royal-skou aangebied. Hoewel dit nie ’n groot skou met baie diere was nie, was die gehalte van die diere duidelik. James Kelly van Southern Block Farming het die grootkampioen-koei vertoon en dr Robbie Kleinloog van Netherwood Angus se unieke bul was die grootkampioen-bul.

Kommersiële verse-kompetisie

Nog ’n hoogtepunt was die kommersiële verse-kompetisie. Rustin Shawe, ‘n bekende boer in Noord KwaZulu-Natal en Kwanalu se 2018 Jongboer van die Jaar, se Droughtmaster-verse het uitgeblink.

Karkaskompetisie en -veiling

Oudergewoonte was daar vanjaar weer ’n karkaskompetisie en -veiling met die gewone vark-, bees- en skaap-afdelings. Die titels van kampioenkarkas is oorhandig aan Antcara Pigs (varkkarkas), Ferrero Bonsmara (beeskarkas) en Twee Broers Dormers (skaapkarkas).

Na die aankondiging van die karkaskompetisiewenners is die veiling deur AAM-afslaers aangebied, met die bekende stoetvee-afslaer, Brandon Leer, wat die hamer vasgehou het. Die hoogste pryse vir karkasse op die veiling was R50/kg by die varkkarkasse, R100/kg by die beeskarkasse, en R600/kg by die skaapkarkasse.

Maak gerus ‘n draai op die Plaas/Farm TV YouTube-kanaal ’n draai om te hoor wat Brandon Leer oor die veiling te sê gehad het in die video Royal Agricultural Exhibition: The breeder’s display window.Izak Hofmeyr en Deidré Louw, Plaas Media

Korrekte bewyslewering is belangrik

Estimated reading time: 4 minutes Tydens dissiplinêre verhore en arbitrasieverrigtinge is die werkgewer verantwoordelik om...

As die SAPD weier om klagtes te aanvaar en ondersoeke nie vorder nie

Estimated reading time: 5 minutes Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word deur die Grondwet van die...

The consequences of not reporting livestock theft

Estimated reading time: 5 minutes South Africa is unique in publishing official livestock theft statistics,...

Predation takes on new dimensions

Estimated reading time: 7 minutes Jackals and caracals remain Karoo livestock producers’ greatest concern, with...