Estimated reading time: 3 minutes
Die vervaardiging van veilige veevoer hang van die mate van gehaltebeheer tydens die produksieproses af. Voermol Voere volg ten alle tye noukeurige riglyne om aan alle veiligheidstandaarde te voldoen.
Die gehaltewaarborgketting van hul veevoer begin by die aankoop van hoë-gehalte, geregistreerde grondstowwe vanaf erkende plaaslike en internasionale verskaffers, en eindig waar die finale produk aan die klant gelewer word.
’n Goeie vervaardigingspraktykprogram sluit dus die grondstowwe, vervaardigingsproses, en finale produkontleding in.
Gehaltebeheerproses
Die vervaardiging van hierdie wetenskaplik-geformuleerde voere vir goeie veeproduksie word beheer deur ’n bedryfstelsel wat die voedingstowwe in kritieke stadiums tydens die mengproses monitor.
Daarbenewens maak die laboratorium seker dat die nodige gehaltestandaarde met elke besending op peil is. Tydens die vervaardigingsproses ontleed die laboratorium noodsaaklike voedingstowwe en herhaal die proses voor versending, nadat die produk verpak is.
’n Gehaltebeheerproses is in elke stap van die veevoervervaardigingsproses ingebou. Die proses kan slegs na die volgende stap aanbeweeg indien die produk die voorafgaande stap in die gehaltebeheerproses slaag.
’n Ontleding van die finale produk geskied aan die einde van die vervaar-digingsproses. Dit bevestig of die voer al die nodige voedingstowwe volgens die formule se spesifikasies bevat en soos dit ingevolge die Wet op Misstowwe, Veevoedsel en Middels, 1947 (Wet 36 van 1947) geregistreer is. Eers daarna is die produk goedgekeur vir verpakking en verspreiding.
Verpakkingsinligting
Die veevoerproduk word dan in die goedgekeurde verpakkingsmateriaal met die nodige produkinligting en gebruiksaanwysings daarop verpak. Hierdie stap is nodig om te verseker dat die produk korrek gebruik en geberg word.
Verpakkingsinligting sluit die volgende in:
- Produkspesifikasies.
- Die produkregistrasienommer.
- Gebruiksaanwysings en waarskuwings soos voorgeskryf deur die Registrateur van Voere (byvoorbeeld die NPN-inhoud of die byvoeging van enige veemedisyne).
Riglyne moet duidelik uiteensit wat die insluitingsvlakke van medikamente, soos ionofore, of ander bymiddels in die veevoer is. ’n Veevoerproduk wat sulke bestanddele bevat, mag slegs as ’n veevoer geregistreer wees indien die betrokke geneesmiddels deur die nodige owerhede goedgekeur is. Verdere inligting soos die verbetering van rumenfunksie, veevoerdoeltreffendheid, en die verbetering van produksieprestasie moet ook beskikbaar wees.
Gehalte-ouditprogramme
Die gehaltebeheerproses moet streng nagekom word om veilige veevoer-produksie te verseker. Voermol Voere is hiertoe verbind en gebruik daarom talle gehalte-ouditprogramme, soos dié van die ISO 9001:2015-gehaltebestuurstelsel en die Veevoervervaardigersvereniging (AFMA) se gedragskode.
Voermol Voere onderskryf hierdie standaarde, dus kan die maatskappy verseker dat al sy gehaltebeheerstelsels op peil is. Alle laboratoriumtoerusting word behoorlik onderhou en die akkuraatheid van ontledings word ook gemonitor. Die klant kan daarom gemoedsrus hê dat ’n maatskappy soos Voermol Voere ’n veilige produk van topgehalte verskaf.