Friday, October 18, 2024

Williston-landbouskou 2024: ‘n Vertoonvenster van uitnemendheid

Estimated reading time: 9 minutes

Williston het van 22 tot 24 Februarie 2024 die platteland aan die gons gehad met ‘n verskeidenheid aktiwiteite en uitstallings wat tydens die jaarlikse landbouskou plaasgevind het. Hierdie Noord-Kaapse skou brei jaarliks uit en neem toe in gewildheid. Die hoogtepunte was die slaglamkompetisie, jeugskou en perdeskou.

Slaglamkompetisie

Slagvee is reeds op Donderdag, 22 Februarie, vir die beoordeling op die hoef ingeskryf. Die volgende dag is die lammers by Williston-abattoir geslag en aan die haak beoordeel.

Bertus Steenkamp het vanjaar die slaglamkompetisie gewen en sy seun, Roux Steenkamp, het die tweede plek ingeneem. Hulle het ook die eerste en tweede plekke ingeneem in die groepkarkas-afdeling. Op die foto ontvang Bertus sy prys van Sybrand Venter van die Rooivleisprodusente-organisasie.

Volgens Hernus le Roux, een van die skou se organiseerders, het vanjaar se kompetisie ’n rekordgetal skaap- en boklaminskrywings ontvang. ’n Totaal van 252 lammers is beoordeel en die kompetisie was straf. Die verskil tussen die eerste en derde plek was uiteindelik ‘n skamele 0,75%.

Le Roux voorspel dat die nasionale kampioene dalk alreeds by hierdie skou gekroon is. Bertus Steenkamp van Carnarvon en sy seun, Roux, het die eerste en tweede plekke in die enkelkarkasafdeling ingepalm. Hulle het ook die groepkarkasafdeling oorheers. Bertus is as die wenner aangewys en Roux as die naaswenner. Atka Trading van Williston het in albei kategorieë derde geëindig.

Samic se beoordelaars was uiters tevrede met Williston se slaglammers. Le Roux vertel dat die Williston-skou vanjaar die hoogste algehele punt nóg van Samic in die slaglamkompetisie ontvang het.

Nasionale Afrikanerskaap-kampioenskap

Die nasionale Afrikanerskaap-kampioenskap is tydens die skou aangebied en is, sover bekend, die enigste Afrikanerskaap-skou in die land. Gys van Wyk van Carnarvon het die kampioen-ooi vertoon en Le Roux het die reserwekampioen ooi opgelewer. Die kampioenram is deur JF van Wyk van Williston vertoon en die reserwekampioen is deur Le Roux vertoon.

Die nasionale Afrikanerskaap-kampioenskap is tydens die skou aangebied. Sover bekend is dit die enigste Afrikanerskaap-skou in die land. Die reserwekampioen is deur Hernus le Roux (links) van Williston vertoon en die kampioen ram is deur JF van Wyk (regs), ook van Williston, vertoon. Saam met hulle in die middel is Dries Wiese, beoordelaar, en die twee hanteerders voor is Solton Koopman en Bertus van Wyk.

Johan van der Colff, ’n ervare landbouer en vooraanstaande rolspeler in georganiseerde landbou en in die gemeenskap, sê die Afrikanerskaap is nie ’n algemene ras in Suid-Afrika nie. Alhoewel hierdie nog nie ’n groot kompetisie vir die ras is nie, bied dit aan telers in die omgewing ’n goeie geleentheid om hul kuddes se rasstandaarde te verhoog.

“Om die Afrikanerskaap in een van die raskompetisies te betrek, is ’n goeie bousteen vir die sukses van die Williston-skou. Op dié manier word die gehalte van kuddes elke jaar verbeter,” sê Van der Colff. ’n Bekende Afrikanerskaapteler, Dries Wiese, het as beoordelaar opgetree.

Melkbokke

Meer as 70 melkbokke is vanjaar by die Williston-skou vertoon. Na ’n strawwe kompetisie is ’n ooi van Philip van Schalkwyk van die plaas Waalkraal in die Fraserburg-distrik, as die grootkampioen aangewys. Ockert Vermeulen, ook van Fraserburg, het die reserwekampioen vertoon.

Williston-skou het ’n uitstekende melkbokkompetisie aangebied en hier het Phillip van Schalkwyk met die louere weggestap. Ockert Vermeulen het die reserwekampioen vertoon. Van links is Pierre Human melkbokbeoordelaar, Ockert Vermeulen, reserwekampioen, Phillip van Schalkwyk, kampioen, en die hanteerder is Wickus Beukes.

Melkbokprodusente meen dat die Williston-distrik die hartland van melkbokke in Suid-Afrika is. Tot 120 bokke is al op een slag geskou. Die melkbokbedryf het egter onlangs agteruitgegaan en baie plase het net ’n handjievol bokke oor. Goeie genetika het ook in die proses in die slag gebly.

Williston se melkboktelers het egter ’n paar jaar gelede besluit om die standaard van melkbokke in die gebied te verhoog. Om kompetisies op skouvlak aan te bied, was een van die metodes om hierdie doel te bereik. Sodoende kan produsente hulself met mekaar vergelyk.

In die proses het die aantal melkbokke op plase vermeerder en het die standaarde tot so ’n mate verbeter, dat daar nou elke jaar in Augustus tydens die Williston-kleinveeveiling ’n ekstra dag vir bokke aangebied word, waarvan melkbokke ‘n groot deel uitmaak. Kopers kom van regoor die land om melkbokke by hierdie veiling aan te skaf.

Dohne Merino’s

Dohne Merino-wolskape is tydens die Williston-skou op grond van bouvorm en wol beoordeel. Hannes van der Westhuizen van OVK en Thinus van Schalkwyk van BKB was die beoordelaars, en Jan Esau het as ringmeester opgetree.

Die wenners in die klas vir ongeskeerde lammers was Euvrard en Mariëtte van Schalkwyk van Fraserburg. Hulle het ook die reserwekampioen in hierdie klas vertoon. ’n Teler van die Moorreesburg-omgewing, Jannie Kitshoff van HL Kitshoff en Seuns, het die beste groep geskeerde lammers vertoon.

Tydens vanjaar se Williston-landbouskou is wolskape op grond van hul bouvorm en wol beoordeel. Die wenners in die klas vir ongeskeerde lammers was Euvrard en Mariëtte van Schalkwyk van Fraserburg. Hulle het ook die reserwekampioen in hierdie klas vertoon. Hierdie span het ook die Dohne Merino met die beste bouvorm vertoon. Agter van links is Hannes van der Westhuizen van OVK, die hoofborg, en Euvrard en Mariëtte van Schalkwyk. Voor van links is die hanteerders Brian Daniels en Willem de Wee. Die wolkampioen het uit die kudde van Keith Coetzee gekom.

Die grootkampioen met die beste bouvorm is ook deur Van Schalkwyk vertoon en die grootkampioen met die beste wol, deur Keith Coetzee van Skipperskloof Boerdery naby Williston. Coetzee, die skoupresident, was die organiseerder van hierdie kompetisie. Hy vertel dat vyf telers saam 65 stuks vee geskou het en dat die skeerseisoen ’n invloed op getalle gehad het.

Boerbokke

Sowat 133 Boerbokke het aan die Williston-skou deelgeneem, maar sowat 100 moes ongelukkig onttrek.

Daar was kwaai kompetisie onder die Boerbokke en meer as 100 bokke het deelgeneem. Corrie Avenant van Williston, derde van regs, het die seniorkampioen ram sowel as die reserwekampioen by die skou vertoon. Die beoordelaar was Charles Willemse van die SA Boerboktelersvereniging, tweede van links, en Johannes van Wyk, links, het met die beoordeling gehelp. Heel regs is Breyton Milford van die borg, Agri-Expo. Die hanteerders is Cornel en Cornelius Fredericks.

Die grootkampioen ooi sowel as die reserwekampioen ooi is deur Connie Coetzee van CNC Boerdery van Prieska vertoon. Martin Compion het die pryse namens die boerdery ontvang.

Die grootkampioen ram is deur Corrie Avenant van Atka-stoet in Williston vertoon en die reserwekampioen is deur Bertus van der Merwe van Clanwilliam vertoon.

By die Boerbokke het Connie Coetzee van Prieska, se ooie met die louere weggestap. Die kampioen- en reserwekampioen Boerbok-ooi kom uit sy kudde. Coetzee se bestuurder, Martin Compion, het die diere namens hom kom skou. Van links is die beoordelaar, Charles Willemse van die SA Boerboktelersvereniging, Compion, en Vonnie Lambrechts van MSD Animal Health wat die prys oorhandig het. Die hanteerders is Cornel en Cornelius Fredericks

Charles Willemse van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging het die Boerbokke beoordeel en was beïndruk met die standaard van die diere. Die vertoners het van Williston, Prieska, Calvinia, Clanwilliam en Ceres gekom.

Dorperskape

Sewe plaaslike telers het gesamentlik 100 Dorpers in ’n kommersiële kuddeskou geskou. Frans Louw van Williston het die eerste drie plekke in die klas vir ooilammers onder 40kg ingepalm. Hy het ook eerste plek in die klas vir ooilammers bo 40kg gewen, met Hannes Esterhuysen in die tweede plek. Coleen van der Merwe, van die Dorper-skaaptelersvereniging, het die Dorpers beoordeel.

Frans Louw en Hannes Esterhuizen het baie goed gevaar in die Dorperkompetisie. Frans het die eerste drie plekke in die klas vir ooilammers onder 40kg opgeraap en was ook die wenner in die klas vir ooilammers bo 40kg. Hannes se ooi was die reserwekampioen in die klas vir ooilammers bo 40kg. Op die foto is Frans Louw (junior) wat die kompetisie georganiseer het, Hannes Esterhuizen, Coleen van der Merwe, ’n inspekteur van die Dorper-telersvereniging, Frans Louw en Izak van der Colff, een van die organiseerders. Voor is die hanteerders, Jan Hoepel en Keanan Malgas.

Jeugskou

Die jeugskou was weereens ‘n hoogtepunt by vanjaar se Williston-skou. Altesaam 120 leerders van Williston, Kakamas, Upington, Clanwilliam, Carnarvon, Loxton, Fraserburg, Riversdal, Klaarstroom en ander nabygeleë dorpe het hulle talente in verskillende klasse gedemonstreer.

Perde en pluimvee

Die perdeskou het heelwat besoekers gelok. Philip van Schalkwyk, ’n skoukomiteelid, vertel dat 95 perde in 90 klasse geskou is. Saalperde, trekperde soos Fries- en Vlaamperde, en ryperde het almal aan die kompetisie deelgeneem. Deelnemers het Bredasdorp, Graafwater, Fraserburg, Calvinia, Sutherland, Clanwilliam, Loxton, Stellenbosch en Williston verteenwoordig.

Sowat 150 stuks pluimvee is tydens die Williston-skou beoordeel, waarvan die meeste uit die hokke van Gys van Wyk van Goraas in Williston gekom het.

Van Schalkwyk sê hierdie skou was goeie voorbereiding vir Bloemskou wat oor twee maande plaasvind. Ernest Langer, ’n bekende naam in Karoo-perdeskoukringe, was die organiseerder. Perdry is gewild onder Karookinders en die Calvinia Perdryskool het ook deelgeneem.

Die kinders was veral bekoor deur die pluimveeskou. Honderd en vyftig stuks pluimvee het aan die kompetisie deelgeneem, meestal van Gys van Wyk van Goraas in die Carnarvon-omgewing. Pluimvee was ook na afloop van die skou te koop.

Williston se skoukomitee was ingenome met die hoeveelheid skougangers en die besoekers was dit eens dat die Williston-skou een van die beste skoue is wat hulle al bygewoon het. – Koos du Pisanie, Plaas Media

The fight against bovine brucellosis: Is there a solution?

Estimated reading time: 6 minutes Brucellosis is a notifiable zoonotic disease that requires immediate reporting...

Trigomoniase: As jy nie toets nie, sal jy nie weet nie

Estimated reading time: 4 minutes Trigomoniase is die algemeenste geslagsoorgedraagde siekte ter wêreld by ekstensiewe...

Verantwoordelike versorging van melkkalwers

Estimated reading time: 7 minutes Verbruikers se aankoopbesluite word meer beïnvloed deur dierewelsyn, smaak en...

Cattle selection decisions based on objectives, resources and environment

Estimated reading time: 9 minutes Genetics are a crucial aspect of the livestock industry, influencing...