Estimated reading time: 7 minutes
- Die bestuur en verbetering van natuurlike hulpbronne vir volhoubare diereproduksie en natuurbewaring, oftewel veldbestuur, is die sleutel tot ’n meer winsgewende beesboerdery.
- Verskeie aspekte rondom veldbestuur, soos die beweging van diere, veldversterking en brandbestuur speel ‘n rol in die praktyk.
- Veld moet in ’n goeie kondisie bly, gegewe populasiegroei wat toenemend meer druk op voedselproduksie in Suid-Afrika plaas.
- Oorbeweiding kan weer ’n tekort aan genoegsame veldrus meebring en veroorsaak dat grasse, veral smaaklike grasse, nie die nodige reserwe voedingstowwe in die wortelstelsel kan opbou nie.
- Spesie-selektiewe oorbeweiding skep ’n probleem, omdat daar ’n groot verskil tussen smaaklike en onsmaaklike grasse in suurveld is.
Die bestuur en verbetering van natuurlike hulpbronne vir volhoubare diereproduksie en natuurbewaring, oftewel veldbestuur, is die sleutel tot ’n meer winsgewende beesboerdery. Frits van Oudtshoorn, ’n weidingkundige van Africa Land-Use Training en Working on Grass, het tydens die Rhys Evans-groep se Huntersvlei-beesinligtingsdag naby Viljoenskroon in die Vrystaat, hierop gefokus.
Volgens hom is daar verskeie aspekte rondom veldbestuur wat in die praktyk ’n rol speel. Dit sluit onder meer in die beweging van diere, beheer van dieregetalle en ongewenste plante, veldversterking of -restourasie, brandbestuur, die ontwikkeling en onderhoud van infrastruktuur, en goeie beplanning en rekordhouding. Hy sê bestuurspraktyke moet sodanig toegepas word, dat dit die toestand en drakrag van veld volhoubaar maak en selfs verbeter. Daarmee saam moet veldagteruitgang, wat tot die agteruitgang van goeie weidingsgrasse en gronderosie kan lei, ten alle koste vermy word.
Lees meer oor veldagteruitgang kán gestuit word hier.
Veld moet in ’n goeie kondisie bly, gegewe populasiegroei wat toenemend meer druk op voedselproduksie in Suid-Afrika plaas. Daarmee saam is natuurlike veld die goedkoopste bron van ruvoer. “Wanneer veld verswak weens swak bestuur, moet ruvoer dikwels met hooi aangevul word en dit bring ekstra kostes mee.” Van Oudtshoorn is daarom oortuig dat bewaringsboerdery die regte pad is om te volg.
Boer met goeie gras
Gras, sê hy, speel die belangrikste rol in ekstensiewe diereproduksie waar daar in wese met gras geboer word. Die dier is slegs die fabriek wat die gras in die eindproduk (kalwers of lammers) omskakel. Dit kom daarop neer dat indien meer gras beskikbaar is, die drakrag sal verhoog sodat meer diere gevoed kan word en die produsent meer geld in sy sak kan kry. Goeie en smaaklike grasse bevat die meeste voedingstowwe wat diere benodig vir groei. Die inname van hierdie grasse is ook hoër weens die smaaklikheid daarvan.
Van Oudtshoorn meen daar moet in praktyk meer gefokus word op die hoeveelheid goeie, smaaklike weidingsgrasse en dat die behoeftes van hierdie grasse in ag geneem moet word. Veldrus is byvoorbeeld noodsaaklik om groeikragtigheid en saadproduksie te bevorder. Daarsonder kan die hoeveelheid goeie grasse in die veld nie onderhou of vermeerder word nie.
Leer meer oor veldbestuur in soetveldgebiede.
Oorbeweiding kan weer ’n tekort aan genoegsame veldrus meebring en veroorsaak dat grasse, veral smaaklike grasse, nie die nodige reserwe voedingstowwe in die wortelstelsel kan opbou nie. Groeikragtigheid en saadproduksie word in die proses belemmer.
Verskillende tipes oorbeweiding
Hy onderskei tussen twee tipes oorbeweiding, naamlik spesie-selektiewe en area-selektiewe weiding. Spesie-selektiewe oorbeweiding kom algemeen in suurveld voor wanneer smaaklike spesies herhaaldelik bewei word sonder veldrus. Grasse kan nie genoeg vog, minerale en voedingstowwe opneem nie en dit lei tot onsmaaklike grasse wat verder vermeerder aangesien dié grasse juis nie oorbewei word nie.
“Spesie-selektiewe oorbeweiding skep ’n probleem, omdat daar ’n groot verskil tussen smaaklike en onsmaaklike grasse in suurveld is. Wanneer onsmaaklike grasse (sterk meerjarige grasse) dominant is, raak dit moeilik om daarvan ontslae te raak.” Boere steek in sommige gevalle hierdie onsmaaklike grasse aan die brand of dien LS 33 toe sodat dit bewei kan word. Die ideaal is egter dat smaaklike grasse weer hul regmatige plek in die veld moet terugkry.
Area-selektiewe oorbeweiding, aan die ander kant, vind veral in soetveld plaas waar smaaklike gedeeltes in laerliggende gebiede met mineraalryke grond, herhaaldelik sonder veldrus bewei word. “Die verskil tussen smaaklike en onsmaaklike grasse in soetveld is nie so groot soos in die geval van suurveld nie. Indien oorbeweiding wel in soetveld plaasvind, kan kaal kolle en swak grondbedekking voorkom wat tot gronderosie kan lei.”
Uitwerking van hoëdrukbeweiding
Hoëdrukbeweiding, wat hoofsaaklik nie-selektiewe beweiding is, is ‘n poging om die ‘natuur se manier’, veral in terme van historiese migrasies en die impak van roofdiere, na te boots. Waar oorbeweiding plaasgevind het, behoort die ekologie met die toepassing van nie-selektiewe beweiding te verbeter.
Daar is egter beperkte navorsing rakende die impak van hoëdrukbeweiding op veldekologie en Van Oudtshoorn het daarom besluit om hom daarop toe te spits. Hierdie navorsing word op Danie Slabbert se plaas, Vanrooyenswoning, by Reitz gedoen nadat Slabbert in 2017 met ultrahoëdruk (UHD)-beweiding begin het.
Leer meer oor rivieroewers se rol in veldbestuur.
In hierdie studie word ’n stuk veld waarop nie-selektiewe beweiding plaasvind, vergelyk met gedeeltes waar selektiewe beweiding en geenbeweiding plaasvind. In die UHD-beweidingstelsel loop 500 koeie in ’n 100m breë baan, wat elke uur 10m aangeskuif word (Oktober tot April). Dit kom neer op 5 000 grootvee-eenhede of GVE/ha, wat ’n belading van 1,2ha/GVE per jaar is. In die selektiewe beweidingstelsel word ’n tweekampstelsel gebruik en dit kom neer op 4ha/GVE. Op nog ’n stuk grond het daar sedert 2017 geenbeweiding plaasgevind nie.
Studie-opnames is in 2019, 2021 en 2023 gedoen met die fokus op grasspesiesamestelling en die verandering daarvan oor tyd, asook veldblomsamestelling en grasbiomassaproduksie. Opnames vir grasse in die studie is in die vorm van ’n lynopname gedoen. Van Oudtshoorn glo dit is nog te vroeg om tot ’n finale gevolgtrekking te kom, maar die studie vorder goed en die resultate lyk belowend.
Resultate van grasse
In die studie oor grasspesiesamestelling is bevind dat veldtoestande met nie-selektiewe beweiding verbeter, hoewel dit stadig geskied. Tabel 1 toon dat gemiddeld meer grasspesies (17) per opnamepunt by nie-selektiewe beweiding voorgekom het. By selektiewe beweiding was daar tien grasspesies en by geenbeweiding was daar 12 spesies.
“Die persentasie goeie weidingsgrasse wat by nie-selektiewe beweiding voorkom was ook die meeste. Interessant genoeg was die goeie grasse wat hier die meeste in die vier-jaar studietydperk toegeneem het, grasse met risome. Hierdie grasse sluit in swartsaadmannagras (Setaria nigrirostris), persvingergras (Digitaria tricholaenoides) en ruspergras (Harpochloa falx).”
By die nie-selektiewe aanslag het van die goeie weidingsgrasse in vier jaar vanaf 11 na 27% vermeerder, terwyl daar by selektiewe beweiding slegs 11% goeie grasse in die algemene samestelling was en by geenbeweiding slegs sewe. Die veldtoestandtelling wat gemeet word volgens ’n persentasie uit 100, was die hoogste (41,3%) by nie-selektiewe beweiding.
Aanslag | Grasspesie/punt (gem) | Goeie grasse (%) | Veldtoestand (VTT) (%) |
Nie-selektief | 17 | 27 | 41,3 |
Selektief | 10 | 11 | 35,4 |
Geenbeweiding | 12 | 7 | 25,4 |
Grasbiomassaproduksie resultate
In hierdie opname is die hoeveelheid grasbiomassa per weidingsaanslag gemeet. Die grootste grasvolume (6,7 ton/ha) is by geenbeweiding gemeet, gevolg deur 5,2 ton/ha by nie-selektiewe beweiding en 3,1 ton droë gras/ha by selektiewe beweiding.
Volgens Van Oudtshoorn is die grasbiomassaproduksie by geenbeweiding juis hoog weens geenbeweiding en omdat dit gebrand is. By nie-selektiewe beweiding het bykans 80% van al die grasse hergroei en by selektiewe beweiding was daar heelwat Gongoni-steekgras, wat nie bewei kan word nie. By geenbeweiding het grasbiomassa opgebou en oor die jare het lae-gehalte, ou grasmateriaal (hoofsaaklik terpentyngras) gegroei.
In hierdie studie is biomassa en veldtoestande ook in ag geneem om die hoeveelheid grasproduksie per millimeter reën te bepaal. By nie-selektiewe beweiding is 7,7kg gras/mm reën geproduseer en by selektiewe beweiding 4,7kg gras/mm reën. By geenbeweiding is 10kg gras/mm reën geproduseer, wat volgens hom ’n ‘skewe prentjie’ skets, omdat dit onsmaaklike en ou gras is.
Weidingsaanslag | Grasbiomassaproduksie (kg droë materiaal/ha) | Kg gras/mm reën |
Nie-selektief | 5 212 | 7,7 |
Selektief | 3 153 | 4,7 |
Geenbeweiding | 6 760 | 10 |
Lees meer oor veldbestuurstelsels.
Daar is in hierdie studie ook opgemerk dat die indringer, slangbos, goed deur hoëdrukbeweiding beheer word, meestal weens die swaar, maar kort, trap-aksie. Groot, onsmaaklike polgrasse word ook matig bewei en swaar getrap, maar word steeds nie so goed soos smaaklike grasse deur diere benut nie. In sekere gevalle begin nuwe smaaklike grasse, soos rooigras, in vertrapte onsmaaklike graspolle groei. – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Frits van Oudtshoorn by frits@alut.co.za.