Estimated reading time: 7 minutes
- Hoewel ons nie in ’n staat van builepes verkeer nie, is die rotbevolking in Suid-Afrika besig om met rasse skrede toe te neem.
- Die Wêreldgesondheidsorganisasie het reeds in Oktober 2012 ‘n waarskuwing aan nege lande in Suider-Afrika, waarvan Suid-Afrika een was, uitgereik om voorsorgmaatreëls teen ’n rotverpesting te tref.
- Muise en rotte kan ’n verpesting raak op plase, in store en in landerye as hulle nie behoorlik beheer word nie.
- Daar is egter ander maniere om van knaagdiere ontslae te raak, soos om die natuur in te span.
- Dis noodsaaklik om knaagdierdoders streng volgens die bepalings op die etiket van die gifverpakking te gebruik, ten einde sekondêre vergiftiging en ander skade te voorkom.
Builepes, beter bekend as die Swart Dood, het tussen 1345 en 1360 ongeveer twee derdes van die Europese bevolking uitgewis. Hierdie bakteriese infeksie wat deur die organisme Yersinia pestis veroorsaak word, het in die vroeë 1900’s skrikwekkende gevolge in Suid-Afrika gehad. Dit is ’n direkte gevolg van knaagdierplae soos muise en rotte.
Hoewel ons nie in ’n staat van builepes verkeer nie, is die rotbevolking in Suid-Afrika besig om met rasse skrede toe te neem, veral in die stedelike gebiede waar swak beheer by stortingsterreine en op strate toegepas word. Mense rapporteer gedurig groter hoeveelhede rotte.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het reeds in Oktober 2012 ‘n waarskuwing aan nege lande in Suider-Afrika, waarvan Suid-Afrika een was, uitgereik om voorsorgmaatreëls teen ’n rotverpesting te tref. Daar is nie werklik veel aandag hieraan gegee nie en vandag sit Suid-Afrika op die rand van ’n uitbreking van builepes as elke Suid-Afrikaner nie die knaagdiere in sy eie omgewing gaan beheer nie.
‘n Verpesting op plase
Muise en rotte kan ’n verpesting raak op plase, in store en in landerye as hulle nie behoorlik beheer word nie. ’n Paar jaar gelede was daar ’n nagmuisuitbreking in die Kalahari. Die knaagdiere het groot dele weiding opgevreet. Die rede vir die plaag was toegeskryf aan die skielike vermeerdering van kos in die veld na ’n lang droogte. Dit was net ’n tydelike probleem en die nagmuiskolonies het hulself weer herstel toe die kos begin minder word.
Op plaaswerwe, in store en landerye waar kos altyd in groot hoeveelhede beskikbaar is, kan dit ’n meer permanente probleem raak as die knaagdiere nie beter beheer word nie. Dr Gerhard Verdoorn van Croplife Suid-Afrika sê muise op plase is nie tans so ’n groot probleem nie. Volgens hom maak hulle maar slegs 10% van die infestasieprobleem uit, terwyl rotte 90% van die probleem is.
Bruinrotte of skeepsrotte is dwarsdeur die jaar ’n probleem op plaaswerwe, in store, pakhuise, voerkamers, melkerye en voerkrale. Muise, aan die ander kant, kom meer sporadies voor en meestal in store en voerkamers waar hulle hulself tuismaak.
Beheer van knaagdiere op plase
Dr Verdoorn vertel dat dit nie so maklik is om muise en rotte te beheer nie. Daar is verskillende soorte lokaas wat onder verskillende omstandighede gebruik kan word. “Daarom moet jy eers ’n goeie opname en studie maak van die omgewing waar die knaagdiere hulself help, voordat jy besluit watter lokaas of gif die beste gaan werk.
“In store, voerstore en voerkrale is daar altyd kos beskikbaar vir die knaagdiere en daarom moet jy met oorleg werk om van hulle ontslae te raak .
“Dit is waarom die tipe lokaas van situasie tot situasie sal verskil. Die pasta-tipe lokaas is veral goed in store en voerstore omdat dit hoogs aanloklik is vir die muise en rotte, terwyl die wasblok-lokaas minder aanloklik is. Graanlokaas is dikwels nie so suksesvol soos pasta-lokaas nie, omdat daar gewoonlik ander kos beskikbaar is vir die diere. Dit is beter om met ’n kenner van gifsoorte te beraadslaag voordat jy ’n plan van aksie uitwerk om jou veldslag teen die muise en rotte te loods,” maan hy.
Laat die natuur vir jou werk
Daar is egter ander maniere om van dié knaagdiere ontslae te raak, soos om die natuur in te span. Uile, slange en ander klein roofdiere is uiters handig om te help om hierdie probleem die hoof te bied. In die meeste gevalle gebruik produsente gif én ander roofdiere om die probleem aan te spreek.
Dit is belangrik om seker te maak jy dien gif binne die wet toe. In die eerste plek moet knaagdierdoders altyd in lokaashouers aangewend word sodat daar so min as moontlik ander diere van dié doders inkry. In die tweede plek moet produsente kyk na lokaas wat moontlik versoenbaar is met uile indien hulle op die werf voorkom.
“Lokaas moet sistematies aangewend word en nie voortdurend nie, aangesien dit die ekosisteem op die werf kan benadeel. Dit beteken dat lokaas vir kort periodes van 14 dae aangewend moet word en dan heeltemal verwyder moet word, sodat predatore en uile nie langdurig aan die knaagdiere wat lokaas ingeneem het, blootgestel word nie.
“Dooie knaagdiere moet elke dag opgetel en vernietig word om hulle uit ander diere se voedselketting te haal. Op dié manier kan jy die muis- of rotplaag beter beheer sonder om die ekosisteem te benadeel,” verduidelik hy.
Hy voeg by dat hoewel knaagdoders doeltreffend is, dit glad nie veilig is nie. Die knaagdiere word vergiftig maar daar is altyd ’n kans op sekondêre vergiftiging wat weer ’n gevaar vir ander predatore, soos uile wat jou grootste bondgenoot in die stryd is, kan wees.
Lees meer oor hoe om vlieë te beheer op jou plaas.
Muise in landerye
Dr Verdoorn vertel verder dat muise en rotte nie net op persele en in store ’n probleem is nie – hulle kan ook in landerye voorkom. Die veldmuise en streepmuise wat op landerye voorkom, was nog nooit problematies vir produsente nie. Aan die ander kant kan nagmuise op kontantgewaslanderye groot skade berokken as hulle nie streng en vroegtydig beheer word nie.
Uile bly die nommer een muis- en rotvanger. Daar is maniere om hulle te ondersteun deur goeie behuising en ‘uitkyktorings’ te verskaf.
“Sitplekke van 4m hoog en uilkaste (soos JoJo-uilkaste) bied goeie sit- en broeiplek vir die uile, maar dan moet daar omsigtig te werk gegaan word met gif wat op die lange duur sekondêre vergiftiging kan veroorsaak. Die uile hou die knaagdiere se getalle en hul bewegingsvryheid in toom. Daar is reeds talle graanprodusente wat uile met groot sukses ingespan het om nagmuise te help beheer. Dit is veral gevlekte-ooruile en nonnetjiesuile wat die beste bondgenote is.
’n Nonnetjiesuilpaartjie kan maklik tot agt kuikens uitbroei en versorg. Die broeipaar moet dan soms tot 60 muise per nag vang om die kroos te voed. ’n Paar gevlekte-ooruile wat net twee kuikens in die nes het, kan tot agt rotte per nag of sowat 20 muise vang. Hulle is dus ’n groot aanwins vir die plaas.
Hierdie uilsoorte is verdraagsaam teenoor die teenwoordigheid van mense en honde. Die meeste honde, soos ’n Jack Russel, sal uit sy nate bars as daar ’n muisjagtog is en kan help om die plaag te beheer. Ander roofdiere soos slange en die bruin jakkalsvoël sal ook help om die muiskolonie onder beheer te hou.
Hy beklemtoon egter dat dit noodsaaklik is om knaagdierdoders streng volgens die bepalings op die etiket van die gifverpakking te gebruik, ten einde sekondêre vergiftiging en ander skade te voorkom. “Hou veral in gedagte dat alle knaagdierdoders dodelik vir honde kan wees. Daarom moet dit geplaas word op plekke waar dit buite bereik van kinders en troeteldiere is.
Moets en moenies
- Hou knaagdierdoders buite die bereik van kinders en troeteldiere en sorg dat dit nie sigbaar is nie.
- Moenie kinders toelaat om knaagdierdoders te hanteer nie.
- Hou knaagdierdoders toegesluit wanneer dit nie in gebruik is nie, en moet dit nie laat rondlê nie.
- Moenie ongeregistreerde plaagdoders gebruik om knaagdiere dood te maak nie.
- Dien knaagdierdoders altyd toe in ‘n lokaashouer wat teen ‘n muur aangebring is en raak veilig ontslae van enige knaagdierdoder wat gemors is.
- Moenie knaagdierdoders met voedsel soos grondboontjiebotter meng nie.
- Versamel en raak veilig ontslae van knaagdierkarkasse.
- Hou die telefoonnommer van die Gifinligtingsentrum byderhand in geval van toevallige inname: 082 446 8946. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting oor watter knaagdierdoders die veiligste gaan wees vir uile en ander diere, stuur ’n WhatsApp aan dr Verdoorn by 082 446 8946.
