Estimated reading time: 7 minutes
Plaas Media se jaarlikse Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie 2021 het baie interessante data opgelewer. In die agtste jaar van hierdie gewilde kompetisie was daar ’n totaal van 103 inskrywings bestaande uit 72 mielie-, 18 hawer- en sewe voersorghumkuilvoere, en ses kuilvoerbale. Laasgenoemde was inskrywings in ‘n toetskategorie en word derhawe nie hier bespreek nie.
Mikotoksiene in kuilvoer: Hoe gemaak?
Die monsterneming en ontleding van die inskrywings was ’n groot taak wat deur ’n toegewyde span aangepak is. Hierdie span was Deidré Louw van Plaas Media as logistieke koördineerder, met die ondersteuning van Rochelle George, die administratiewe bestuurder; Richardt Venter van Agsci Unlimited as projekkoördineerder; en nagraadse veekundestudente van verskeie Universiteite, naamlik Gerrit Putter en JG Els van die Universiteit van die Vrystaat, Timothy Chilemba van die Universiteit van Pretoria, en Henlo Smit van die Universiteit van Stellenbosch.
Die monsters is deur dr Elrisa Taljaard en haar kundige span by Labworld getoets. Die data-ontleding is deur prof Robin Meeske van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Outeniqua Navorsingplaas gedoen.
Die samestelling van vanjaar se mielie-, hawer- en voersorghumkuilvoerinskrywings word in Tabel 1 aangedui.
Stadium van inkuiling
Die optimale droëmateriaalinhoud (DMI) vir mieliekuilvoer is 35%. In die verlede was heelwat van die mieliekuilvoerinskrywings te vroeg ingekuil (25 tot 30%), wat ’n verlaagde opbrengs, laer styselinhoud en laer energie-inhoud van die kuilvoer tot gevolg gehad het.
In die 2021-kompetisie het slegs 9,7% van die mieliekuilvoere wat ingeskryf was, ’n DMI van minder as 30% gehad. ’n Totaal van 67% van die mieliekuilvoere se droëmateriaalpersentasie (DM %) was tussen 30 en 40%. Daar is dus goeie vordering gemaak met die regte stadium van inkuiling vir mieliekuilvoer, soos in Figuur 1 aangedui. Die DM % van die hawer- en voersorghumkuilvoere was ook in die kol.
Samestelling van kuilvoer
Die ruproteïeninhoud van die voersorghumkuilvoer was baie laer as dié van die mielie- en hawerkuilvoere. Die energiewaarde en styselinhoud van die mieliekuilvoer was weer aansienlik hoër as dié van die hawer- en voersorghumkuilvoere. Die styselinhoud van die mieliekuilvoere het egter baie gewissel, met nog heelwat mieliekuilvoere wat minder as 33% stysel bevat het.
Die energiewaarde van mielies word grootliks deur graanvulling bepaal. Produsente kan nie tevrede wees met mieliekuilvoer wat minder as 30% stysel bevat nie. Die veselinhoud (neutraalbestande vesel of NDF %) van mieliekuilvoer was baie laer as dié van hawer- en voersorghumkuilvoere. Daar moet gepoog word om die NDF % van hawerkuilvoer onder 55% te kry.
Fermentasie-eienskappe
Die suurheidsgraad (pH) van kuilvoer is een van die belangrikste en maklik meetbare eienskappe van kuilvoer. Die gemiddelde pH van al die kuilvoere was laer as 4, wat op goeie preservering dui. Swak bolaagpreservering en bolaagverliese word deur ’n duidelike styging in die pH van kuilvoer uitgewys.
Daar was verskeie inskrywings waarvan die pH van die boonste 10cm, dieselfde was as die pH van die monster wat op 20 tot 40cm geneem is. Dit word met uitstekende bolaagkompaksie en verseëling van die bunker geassosieer.
Die gemiddelde pH van die boonste 10cm van al die inskrywings was egter aansienlik hoër as die gemiddelde pH van die kuilvoermonster op 20 tot 40cm. Preservering van die bolaag behoort meer aandag te geniet om verliese te beperk. Indien kuilvoer effens agteruitgaan, sal die pH styg.
Melksuur het die grootste impak op die daling van die pH gehad, met vlakke wat van 4 tot 6% gewissel het oor al die kuilvoere.
Asynsuur verbeter die aërobiese stabiliteit van kuilvoer, aangesien dit giste en swamme inhibeer. Asynsuurvlakke van 1 tot 2% is voldoende hiervoor. Omdat asynsuur ’n skerp, suur reuk het, kan dit die smaaklikheid en inname van die kuilvoer benadeel indien asynsuurvlakke hoër as 2% styg.
Bottersuur is die vlugtige suur wat ’n slegte reuk en smaak aan kuilvoer gee. Dit word deur Clostridia tyrobutyricum geproduseer wat onder anaerobiese toestande in die kuilvoer vermeerder, vir so lank as wat die pH bo 5,5 is. Dus, indien kuilvoer wel bottersuur bevat, beteken dit dat die pH te stadig tydens inkuiling gedaal het. Die pH van mieliekuilvoer daal gewoonlik drasties van 6 na onder 4 binne 24 tot 48 uur. Geen van die mieliekuilvoerinskrywings het enige bottersuur bevat nie.
In teenstelling hiermee was daar beduidende vlakke van bottersuur in veral die hawerkuilvoere. Dit is dus ’n goeie idee om ’n doeltreffende homofermentatiewe inokulant op hawer toe te dien tydens inkuiling. Dit sal verseker dat die beperkte suikers in die hawer doeltreffend benut word om hoofsaaklik melksuur te produseer.
Stabiliteit by lugblootstelling: Mieliekuilvoer
Die meeste mieliekuilvoere was goed gepreserveer. Die aërobiese stabiliteit van mieliekuilvoer bly egter ’n groot uitdaging. Ongeveer een derde van die mieliekuilvoere was onstabiel ná vyf dae van lugblootstelling, en die pH het met 1 gestyg. Uit die 72 mieliekuilvoere was 44 met ’n inokulant en 28 daarsonder ingekuil.
Van die mieliekuilvoere wat met ’n inokulant behandel was, was 84% stabiel by lugblootstelling en 16% onstabiel. Van die mieliekuilvoere wat sonder ’n inokulant ingekuil is, was slegs 29% stabiel en 71% onstabiel. Die toediening van ’n doeltreffende inokulant op mieliekuilvoer, het in baie gevalle die aërobiese stabiliteit verbeter.
Die maklikste manier om die stabiliteit van die kuilvoer vas te stel, is om kuilvoer uit die bunker te haal en die pH daarvan te bepaal. Plaas kuilvoer in ’n emmer met gate aan die kante en laat dit vir vyf dae staan. Meet daarna wéér die pH en indien dit gestyg het, byvoorbeeld van 4 tot 5 ná lugblootstelling, is die kuilvoer onstabiel.
Melksuur en suikers word deur giste en swamme benut, met die gevolg dat die kuilvoer warm raak en die pH styg. Behalwe die daling in voedingswaarde, word kuilvoerinname ook benadeel, wat melkproduksie weer beperk. ’n Verdere risiko is dat mikotoksiene wat deur swamme geproduseer word, die diere se gesondheid nadelig affekteer.
’n Styging van slegs 0,2 in die pH tydens lugblootstelling, verlaag reeds die punt wat aan die kuilvoer toegeken word in die kompetisie. Daar was heelwat kuilvoere wat geen styging in pH getoon het ná vyf dae van lugblootstelling nie en dus stabiel was.
Stabiliteit in hawer- en voersorghumkuilvoere
In die hawerkategorie was daar 18 inskrywings waarvan 17 met ’n inokulant ingekuil is. Daar was slegs een hawerkuilvoer wat aërobies onstabiel was, hoewel dit ook met ’n inokulant ingekuil was.
Omdat hawer beperkte suikers bevat, moet die suiker doeltreffend deur homofermentatiewe melksuurbakterieë benut word om goeie preservering te bewerkstellig. Toediening van ’n heterofermentatiewe inokulant kan preservering benadeel, omdat dit suikers minder doeltreffend benut.
Indien suikers op raak voordat die pH laag genoeg gedaal het, sal die kuilvoer nie goed preserveer nie. Dit is dus uiters belangrik om die regte tipe inokulant te kies om op hawer by inkuiling toe te dien.
Uit die sewe voersorghumkuilvoere was ses met ’n inokulant ingekuil, hoewel al die kuilvoere stabiel was ná lugblootstelling.
Kompaksie
Goeie kompaksie is noodsaaklik om suurstofindringing in die kuilvoerbunker te beperk. Die kompaksie van mieliekuilvoer in ‘n bunker behoort 240kg DM/m3 te wees. Die gemiddelde kompaksie vir die mieliekuilvoerbunker-inskrywings was voldoende. Daar was egter heelwat bunkers wat swakker gekompakteer was. Bolaagkompaksie behoort beslis steeds meer aandag te geniet, want dit kan op baie van die plase verbeter.
Die kompaksie van die mieliekuilvoer in silosakke was slegs 72% van dié van die mieliekuilvoerbunkers. Kompaksie van kuilvoer in silosakke bly belangrik om kostes so laag as moontlik te hou en lugindringing tydens die uitvoer van kuilvoer, te beperk.
Finale opmerkings
Soos altyd is die oogmerk van die kompetisie om produsente aan te moedig om beter gehalte, smaaklike kuilvoer met ’n hoë voedingswaarde, en wat stabiel is wanneer dit aan lug blootgestel word, te maak. Water en lug bly die twee grootste vyande van kuilvoer en moet ten alle koste uitgesluit word.
Die toediening van ’n heterofermentatiewe inokulant op mieliekuilvoer dra tot verbeterde aërobiese stabiliteit by. Hawerkuilvoer kan heelwat verbeter word deur die tempo van pH-daling en preservering te verhoog met die toediening van ’n homofermentatiewe inokulant.
Die voedingswaarde van die voersorghumkuilvoere was beduidend laer as dié van die mieliekuilvoere. Waar daar ruimte vir verbetering is, behoort dit ten volle benut te word. – prof Robin Meeske, Wes-Kaapse Departement van Landbou (Outeniqua Navorsingsplaas), en Richardt Venter, AgSci Unlimited
Vir meer inligting, stuur ’n epos na prof Robin Meeske by robinm@elsenburg.com.