Estimated reading time: 7 minutes
Die 193ste Swellendam-skou, wat vanjaar van 27 Februarie tot 1 Maart gehou is, was ten spyte van die erge reën die laaste dag van die skou wat meegebring het dat die perdekampioenskappe afgestel moes word, weer ’n groot sukses, het Susaan Smit, voorsitter van die skou, na afloop daarvan gesê.
Plaas Media is die trotse media-borg van Swellendam-skou.
Van die hoogtepunte op vanjaar se program was die landbou-oggend wat deur 240 mense bygewoon is, en ’n perde-, Angus-, pluimvee-, katte- en ’n jeugskou. “Die eerste twee dae van die skou was daar definitief meer besoekers as die vorige jare, maar die reën op die laaste dag het meegebring dat minder mense die skou besoek het”, het Smit gesê.
Volgens haar het die skou die afgelope vyf jaar R1,9 miljoen aan onderhoud en verbeteringe spandeer om te verseker dat hulle die beste geriewe vir die vertoners, uitstallers en die besoekers kan bied. “Hierdie geriewe stel die skou in staat om ander aktiwiteite tot voordeel van die dorp en die gemeenskap aan te bied. Net een van die aktiwiteite bring R12 miljoen na die dorp, terwyl die skou net R30 000 daaruit kry.”
Sy het beklemtoon dat die skou nie aan die skoubestuur nie, maar aan die hele gemeenskap behoort. Sonder die landbougemeenskap kan die skou nie voortbestaan nie, daarom moet meer boere by die skou betrokke raak, het Smit gesê.
Waardevolle inligting gedeel
Die skou het afgeskop met ’n suksesvolle landbou-oggend wat deur 240 boere en ander rolspelers in die landbou bygewoon is. Die twee genooide sprekers was JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder en konsultant vir Nedbank Private Wealth, en dr Johan van Deventer, afgetrede hoof uitvoerende beampte van Freshmark en nou mede-eienaar van Domaine Brahms.
Landman het gesê Suid-Afrika moet aanvaar dat die African Growth and Opportunity Act (AGOA) vir hom verlore is, dat uitvoerders na Amerika tariewe van 24 % of 25 % sal moet betaal, en dat Amerika enige geld waaroor hy ’n sê het, van Suid-Afrika sal afsny.
“Ons sal met verloop van tyd sien dat Suid-Afrika se produkte wat na Asië uitgevoer word, sal toeneem en landbou sal hier ’n al groter rol speel. Saoedi-Arabië, Katar en die Verenigde Arabiese Emirate sal met verloop van tyd die grootste invoerders van Suid-Afrikaanse kos en landbouprodukte word.”
Boerdery ’n trotse beroep
Van Deventer het gesê Suid-Afrika se boere moet trots op hul beroep wees. “Ons het die beste boere in die wêreld. Ek sal dit van enige platvorm af sê. Suid-Afrikaanse boere maak sonder die ondersteuning van die regering altyd ’n plan om struikelblokke te oorkom en te oorleef.”
Volgens hom kan Amerikaanse boere nie met Suid-Afrikaanse boere meeding nie. Hulle kry voortdurend subsidies, word vergoed vir rampe en oorproduksie en het alle hulp waarvan ’n boer net kan droom. “Hulle sal nie vir ’n jaar in Suid-Afrika oorleef nie”, het van Deventer gesê.
Wenlam haal R7 000
Altesame 40 lammers is vanjaar vir Swellendam-skou se slaglamkompetisie ingeskryf. Die kampioen lam (enkelkarkas aan die haak) is ’n Dorperlam wat deur Dirkie Steyn van die plaas Voorhuis, Swellendam, ingeskryf is. Die lam se lewende en slaggewig was onderskeidelik 42kg en 20,1kg, met ’n A2 gradering.
Die lammers in die tweede en derde plek in die afdeling enkellam aan die haak, is onderskeidelik deur H&S van Zyl Boerdery van Swellendam en Kobie Smit van die plaas Lekkerbly, Swellendam, ingeskryf. Die lammers wat die eerste drie plekke in die afdeling vir enkelkarkas aan die haak behaal het, is vir onderskeidelik R7 000, R5 500, en R4 200 op die slaglamveiling verkoop. Die koper van die wenkarkas is Esmari Schoonwinkel van Ruggens Boerdery, Swellendam.

Angusskou groei
Swellendam het vanjaar vir die tweede jaar ’n Angusskou aangebied. Sewe Rooi en Swart Angus-telers het met 45 beeste aan die kampioenskappe deelgeneem.


RC Malherbe van Hertzogville, die hoofbeoordelaar van die Angusse, het na afloop van die skou gesê die diere wat aan die skou deelgeneem het, was van hoogstaande gehalte.
Die opperste kampioen vroulike dier van die skou, die Rooi Anguskoei, Groote Post PNP180005, is deur Peter Pentz van Groote Post Farms, Darling, vertoon en die opperste kampioen manlike dier van die skou, die Swart Angusbul, Joyce’s Ox Nche, deur Seymour Currie van Joyce’s Angus, Wolwedans, Malmesbury.


Jeugskou een van grootste streekskoue
Die jeugskou op Swellendam is elke jaar een van die grootste streekjeugskoue in die Wes-Kaap. Vanjaar het meer as 180 kinders van regoor die Wes-Kaap aan die jeugskou deelgeneem. Die kinders het in drie ouderdomsgroepe in 13 kategorieë meegeding, het Johannes Human, organiseerder van die jeugskou gesê.
Die skou se goeie fasiliteite bring mee dat die jeugskou van krag tot krag gaan. Selfs met die erge reënweer kon die kinders droog skou, het Human gesê.
Katteskou goed ondersteun
Swellendam-skou is die enigste skou in die Wes-Kaap wat ’n katteskou aanbied. Leonard Ferreira, organiseerder van die katteskou, het na afloop van die skou gesê daar het vanjaar 64 katte aan die skou deelgeneem.
Die grootkampioen kat is deur Stephen Whines en Georgina Greeff van Asgard Maine Coons van Table View, Kaapstad, ingeskryf. – Hugo Lochener, Plaas Media