Met die 2022-parstyd op hande verwag Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente ʼn ietwat kleiner wyndruifoes as in 2021. “Dit sal egter steeds ’n groot oes wees, wat groter as die vyf-jaar-gemiddelde-wyndruifoes (1 335 153 ton) sal wees,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediens.

Die oesskatting is in die derde week van Januarie deur wingerdboukundiges en produsentekelders gedoen en is die tweede van vier oesskattings.

Schutte sê die droogtejare het veral 2018 en 2019 se oeste nadelig geraak. Volgens die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsel (SAWIS) was die totale oes in 2018 en 2019 onderskeidelik 14 en 11% laer as die tien-jaar-gemiddeld. In 2020 was daar ’n verbetering, maar die oes was steeds 5% onder die tien-jaar-gemiddeld.

“Die tendens het gelukkig in 2021 omgedraai en was die totale wyndruifoes van 1 458 556 ton (1 129,9 miljoen liter) ongeveer 3% groter as die gemiddelde oes oor tien jaar.

Oes verskil van streek tot streek

Schutte sê 2022 se kleiner oes kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ʼn afname in wingerdstand, hoë siektedruk en hittegolwe in sekere streke.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is oor ʼn groot aantal verbouingsgebiede regoor die Wes- en Noord-Kaap versprei, met dikwels uiteenlopende klimaatstoestande. Vanweë hierdie variasie word die oes in sekere streke opwaarts en ander afwaarts geskat,” sê Schutte.

Die oes word kleiner geskat in die meeste wyndruifverbouingstreke, met die uitsondering van die Stellenbosch, die Kaapse Suidkus en die Klein Karoo streke.

Hy skryf die algehele afname in die 2022-wyndruifoes toe aan wingerduitkappings in veral die Noord-Kaap-, Olifantsrivier- en Robertsonstreke, tesame met hoë donsskimmel- en witroesinfeksies in sekere streke. Hittegolwe in Desember en Januarie het wingerde ook plek-plek onkant gevang en sonbrandskade aan druiwe veroorsaak.

Goeie seisoen

“Wyndruifprodusente het andersins ʼn uitstekende seisoen beleef,” sê Schutte. “Ons het ’n baie goeie na-oesperiode gehad en die winterstoestande was uitstekend en gekenmerk deur meestal bogemiddelde koue-eenhede, soos weerspieël deur gereelde sneeuneerslae op bergpieke en ʼn hoër as normale reënval wat grondwatervlakke aangevul het.”

Schutte sê weens ʼn koel, nat lente was bot algeheel sewe tot 14 dae later as normaal, maar deurgaans mooi egalig. Die koel weer het ook aanvanklike groei vertraag, maar die meeste wingerde het gedurende blomtyd ingehaal en sowat vyf dae later as gewoonlik geblom. “Ons het goeie blom en settoestande gehad met relatief min wind.”

Die somer het koeler as normaal gebly tot Desember. “Die seisoen is dus steeds laat en die wingerde is nou eers by deurslaan. Omdat deurslaan later is, verwag ons dat die oes later sal wees en dat ons later as normaal sal pars.”

Wenke vir parstyd

“Met deurslaan het ons gesien dat die normale volgorde van kultivars omgeswaai is, so ons verwag ook dat die normale rypwording van kultivars anders as gewoonlik mag wees,” sê Schutte. In terme van monsterneming is dit dus vanjaar belangrik dat jy op die rypwordingskurwe bly om te weet wat in die wingerde aangaan. “Dit mag dalk beter wees om eerder trosmonsters as korrelmonsters te neem en ook om eers ’n toetsvrag na die kelder te stuur om seker te maak dat ons by die regte analises uitkom voor ons die wingerd begin pars.”

Hy sê baie van die wingerde is tans besig met deurslaan. Gedurende deurslaan word omtrent 70% van die kleur en die geur van die blare getranslokeer na die trosse toe. “Ons wil geen stres by die wingerde gedurende deurslaan hê nie. Dit sal dus ’n goeie praktyk wees om die wingerde goed tydens deurslaan te besproei.”

Schutte sê daar heers altyd groot opwinding gedurende parstyd. “Ons sien daarna uit om voort te bou op die uitstekende gehalte wyndruiwe en wyne wat ons jaar na jaar in die wingerde en kelders sien. Ons wens al ons produsente, wynmakers, wingerdboukundiges en hul spanne alle sterkte toe vir ’n voorspoedige 2022-oes.”

Die volgende oesskatting deur wingerdboukundiges en produsentekelders word in die derde week van Februarie 2022 uitgereik. – Hugo Lochner, AgriOrbit