Wednesday, December 17, 2025
HomeMagazinesWolskaapramme: Noukeurige seleksie is nodig

Wolskaapramme: Noukeurige seleksie is nodig

Estimated reading time: 4 minutes

  • Dit is belangrik om te onthou dat ’n wolskaap sowat 70% vleis en 30% wol produseer.
  • Die ideaal is dat elke ram die maksimum aantal lammers tydens die dekseisoen verwek.
  • Produsente en telers moet die teelwaardes en geskiedenis van elke ram op die plaas ken, want dit gee ’n aanduiding van die lammers wat hulle kan verwek.
  • Doseer teelramme vier tot ses weke voor paring teen bloednier en neuswurm.
  • Hoe korter die lamtydperk, hoe makliker is toesig tydens lam en die bestuur van die lammers daarna.

Wanneer wolskaapramme geselekteer word, is dit belangrik om te onthou dat ’n wolskaap sowat 70% vleis en 30% wol produseer. Daarom moet ook vir die vleiseienskap geselekteer word. Die volledige prentjie maak saak – nie net die ooglopende eienskappe soos bouvorm, wollengte en -gehalte en loopvermoë nie, maar ook liggaamsgewig, groeivermoë, vaggewig, mikron en skoonopbrengs.

Juan Venter, ’n produksie-adviseur by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), sê die ideaal is dat elke ram die maksimum aantal lammers tydens die dekseisoen verwek. Goeie rambestuur sal tot die winsgewendheid van die boerdery bydra. “Om wins te genereer op ’n wolskaapplaas, moet lammers (vleis) verkoop kan word. Daarom is ramvrugbaarheid belangrik.”

Rol van doeltreffende ooie

Produsente en telers moet die teelwaardes en geskiedenis van elke ram op die plaas ken, want dit gee ’n aanduiding van die lammers wat hulle kan verwek. ’n Ram se moeder se ooiproduktiwiteitsindeks (OPI) is ’n belangrike seleksiehulpmiddel om voortplantingsdoeltreffendheid te verhoog. “Die OPI vergelyk ooie binne ooi-ouderdomsgroepe in dieselfde kudde met mekaar. ’n Positiewe waarde beteken die ooi het onder dieselfde omstandighede, beter as haar tydgenote voortgeplant.”

Dit is altyd belangrik om na die ma en ouma se syfers te kyk en selfs verder in die ram se geskiedenis terug te gaan. Die moeder se teelprestasies gee ’n goeie aanduiding van aspekte soos die ram se beraamde teelwaardes (BLUP) vir die totale gewig van gespeende lammers, haar OPI, en sy geboortestatus en speenindeks.

Praktiese wenke

  • Klas ou ramme uit en vervang hulle vroegtydig met jong ramme. Gee voorkeur aan ramme uit vrugbare moederlyne met goeie produksiesyfers.
  • Omdat ouer ramme se dekvermoë afneem, is dit goed om jaarliks ongeveer 25 tot 30% ou ramme met jonges te vervang.
  • Indien toestande dit regverdig, kan ramme twee maande voor dektyd prikkelvoeding asook vitamien A-, D- en E-aanvulling ontvang. Dit sal ’n positiewe uitwerking op ooie se besettingspersentasie hê.
  • Ramme moet voor paartyd fisies fiks gemaak word. Begin deur hulle so ses weke voor paartyd daagliks, geleidelik oor langer afstande aan te jaag.
  • Ramme is gewoonlik baie aktief in die eerste 24 uur tussen die ooie. Sit hulle eerder laatmiddag, wanneer dit koeler is, vir die eerste keer tussen die ooie om hitte-uitputting te voorkom.
  • Waak daarteen om die helfte van die gebruiksramme vir 17 dae en die ander helfte vir die res van die paarseisoen by die ooie te jaag. Ooie wat gekoggel is kom in groot getalle op hitte en te min ramme kan tot laer besetting lei.
  • Sorg vir voldoende skadu en skoon drinkwater.
  • Groot kampe met meer as een waterpunt kan ’n negatiewe ram:ooi-verhouding tot gevolg hê. Maak ooie minstens een keer ‘n week bymekaar om te verseker die ramme kom by al die ooie uit.
  • Ondersoek ramme gereeld vir klou-, testes- en ander probleme soos brommeraanvalle, veral rondom horingbasisse.
  • Doseer teelramme vier tot ses weke voor paring teen bloednier en neuswurm. Hulle moet ooie op hitte kan ruik en neuswurm kan die reuksintuig nadelig beïnvloed. Entstof (soos teen bloutong), wat ’n koorsreaksie tot gevolg het, moet ná die paarseisoen gespuit word omdat dit tydelike onvrugbaarheid tot gevolg kan hê.
  • Paar met kortwol, want langwol verhoog hittespanning wat libido (geslagsdrang) nadelig beïnvloed. Indien nodig, skeer jou ramme voor die paarseisoen.
  • Probeer om nie korter as ses weke voor paring te skeer en dip nie, en staak alle ander aktiwiteite en hantering twee weke voor paring.
  • Gebruik merkers om aan te dui watter ooie reeds gedek is. So kan ooie wat eerste op hitte kom uitgehaal word, want hulle gaan eerste lam. Lamtroppe kan sodoende verklein en meer doeltreffend bestuur word.
  • Viriele, vrugbare ramme met goeie libido en dekbehendigheid, wat gesond en goed gevoed is, is noodsaaklik vir maksimum besetting van ooie.
  • Doseer ramme vier weke voor paartyd met 20ml koringkiem per week.

Vir natuurlike paring word ramme gewoonlik vir twee hittesiklusse by die ooie gesit. Ooie kom elke 16 tot 17 dae op hitte en die ramme word vir nagenoeg 35 tot 45 dae by die ooie gelos. Die mikpunt is om minstens 80% van die ooie gedurende die eerste siklus dragtig te kry. Hoe gouer die ooie beset raak, hoe korter is die lamtydperk en hoe eenvormiger die groep lammers wat gebore word. Hoe korter die lamtydperk, hoe makliker is toesig tydens lam en die bestuur van die lammers daarna. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Juan Venter by 079 693 1953.

RSG Landbou – 16 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels ons oor handelsooreenkomste met Wolfe Braude van Agbiz en dr Ben Greyling van...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied for the establishment of a Section 7 Committee to conduct...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South Africa’s red meat sector

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with the North-West University (NWU), will host the Agri X Fusion...

RSG Landbou: 15 Desember 2025

In vandag se RSG Landbou gesels Agbiz oor hulle fokuspunte vir 2026, ons vind uit wie die 2025 Nasionale...

LandbouRadio: 15 Desember 2025

In Maandag, 15 Desember se LandbouRadio, kan jy uitsien na 'n die volgende: Prof Charlie Reinhardt, navorser oor onkruid en...

Samic: Protector of red meat quality

Estimated reading time: 5 minutes If you thought the South African Meat Industry Company (Samic) is just about carcass competitions,...

Keep exploring...

Landboumarkte: Desember se geelmielieprys die hoogste van 2024

Estimated reading time: 2 minutes Die rand het ’n wisselvallige maand beleef tenoor die dollar en sluit die maand af teen R18,86 teenoor die Amerikaanse...

RMAA Price Information System report for week 5 2025

Estimated reading time: 2 minutes The Red Meat Abattoirs Association (RMAA) is an independent membership-based organisation, which was established in February 1991 with its primary...