Estimated reading time: 3 minutes
Gegewe die uitdagende ekonomiese tye waarin die wêreld homself bevind, moet die veerkragtigheid van wolprodusente geloof word. So het Niel du Preez, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die Oos-Kaap, tydens die tweejaarlikse kongres in Oos-Londen gesê. Ten spyte van ’n afname in wolpryse, bly die verkope van hoë-gehalte wol sterk en is ’n teken van die bedryf se aanpasbaarheid.
Du Preez het ook lig gewerp op huidige wolpryse, met kommersiële produsente wat gemiddeld tussen R105 en R115/kg vir hulle wol kry. Hy het die hoop uitgespreek dat ondersteuningsprogramme soos ’n ramskema weer ingestel sal word om die kommunale produsente te ondersteun. Wat pryse betref is die beste kommunale produsente tans op gelyke voet met kommersiële produsente.
Uitdagings en positiewe verwikkelinge
Die wolbedryf staar verskeie uitdagings in die gesig. Dit sluit onder andere ’n afname in die vraag in en kan deels toegeskryf word aan die wêreldwye ekonomiese impak wat die konflik tussen Rusland en Oekraïne het, asook die algemene styging in die koste van goedere en dienste. Du Preez het egter ook positiewe ontwikkelings beklemtoon, soos die NWKV Oos-Kaap se suksesvolle roetevergaderings, studiegroepe, en opleidings- en skeerkursusse wat ’n merkbare verskil maak, veral in die kommunale gebiede. Hy het ook die belangrikheid van volhoubare oudits uitgelig.
Du Preez, wat ook as voorsitter van Predasiebestuur Suid-Afrika dien, speel ’n sleutelrol in die koördinering van grensdraadpatrollies en die verwerking van permitaansoeke vir die beheer van probleemdiere soos luiperds wat mense se lewens en vee bedreig. Hy het die hoop uitgespreek dat hierdie permitte eerder vroeër as later in die jaar uitgereik sal word.
Leon de Beer, wat vir 20 jaar by die NWKV betrokke was en 18 jaar as bestuurder gedien het, sal aan die einde van April aftree. Du Preez het hom vir sy toegewyde diens en bydraes tot die organisasie bedank. De Beer het die belangrikheid van die NWKV se betrokkenheid by die Cape Wools Verantwoordelike Wolstandaard beklemtoon en die hoop uitgespreek dat die genetiese verbeteringsprogram spoedig, met die nodige befondsing, in werking sal tree en dat die organisasie sal aanhou groei.
Dan Kriek, ’n bekende in landboukringe, sal op 1 Mei die leisels by De Beer oorneem. Met sy ervaring as president van Agri SA en sy diens op die presidensiële adviespaneel vir grondhervorming en landbou, sowel as sy huidige rol in die Raad van die Universiteit van die Vrystaat, bring Kriek ’n magdom kennis en ervaring na die posisie.
Kommunale betrokkenheid
Lawrence Maduna, die NWKV se adjunkvoorsitter vir kommunale sake, het die betrokkenheid van die kommunale sektor beklemtoon, en gesê 696 produsente het verlede jaar aan die NWKV se wolhanterings- en verbeteringskursusse deelgeneem. Dit is ook bemoedigend dat 16 gemeenskappe by die NWKV se inligtingsdae betrokke was.
Prof Frikkie Maré, die uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), was die gasspreker. Hy het die ekonomiese uitdagings wat Suid-Afrikaners in die gesig staar, sowel as die wêreldwye makro-ekonomiese druk, bespreek. Prof Maré het die belangrikheid van elke produsent se rol binne die gemeenskap vir die behoud van die land se landbou-erfenis beklemtoon.
Die toekoms van wol
Billy van Zyl, nasionale voorsitter van die NWKV, het die organisasie se voortdurende soeke na nuwe markte en geleenthede uitgelig. Hy het verwys na die potensiaal van wol as isolasiemateriaal in elektriese voertuie, wat dit ‘n waardevolle uitvoerproduk maak. Jacques le Roux, hoof van wol en bokhaar by OVK, het die uniekheid van wol teenoor sintetiese produkte beklemtoon en die aankoop van wolprodukte aangemoedig.
Du Preez het die dag se verrigtinge afgesluit deur ’n beroep op alle produsente in die Oos-Kaap te doen om saam te staan en die geleenthede wat die landbousektor kan bevorder, aan te gryp. – Carin Venter, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Niel du Preez by 072 126 5950 of per e-pos by nielessenbos@gmail.com.