Estimated reading time: 4 minutes
Die Nasionale Wolkwekersvereniging van SA (NWKV) se produksie-adviesdiens publiseer elke twee maande ‘n lys van bestuursaksies wat as belangrik vir die volgende twee maande beskou word, en produsente moontlik kan help om hul veekudde beter te bestuur.
Lees meer oor Cape Wools hier.
Bestuursaksies wat aandag gedurende Augustus en September geniet, behels die volgende:
- Dragtige ooie (wat in Maart en April gepaar is) en die aksies hieronder moet vier weke voordat die ooie lam afgehandel wees:
- Mikskeer of skeer die ooie. Jong lammers is dom en sal aan enigiets wat langwerpig en rond is suig, selfs al is dit lox. Maak seker dat die uier ook skoongeskeer is.
- Ent ooie teen pasteurella en bloednier. Enting vir blou-uier, rooiderm en bloedderm is opsioneel, afhangend of daar ‘n probleem daarmee is, of nie.
- Doseer of spuit ooie teen lewerslak en peervormige slak indien daar simptome is (lewerslak vertoon kwakkeel by skape, en die peervormige slak gaan gewoonlik gepaard met swart diarree). Hierdie twee parasiete is veral ‘n probleem in kampe met grondwater waar daar gronddamme is.
- Spuit of doseer die ooie met Vitamien A en minerale, veral as hulle lanklaas groen weiding gehad het.
- Monitor die ooie se kondisie weekliks vir die laaste agt weke van dragtigheid. Ooie wat maer is wanneer hulle lam, maak hul lammers swak groot. Gee vroegtydig kos/lekke indien dit nodig sou wees. Maak seker dat hierdie ooie nie kondisie verloor nie. Kondisiepunt die ooie weekliks en gee voer of lek sodra hul kondisie begin verswak. Let veral op na die kondisie van meerling- en tweetand-ooie. Hierdie ooie lyk gewoonlik goed omdat hulle buike baie uitsit, maar hul kan maklik kondisie verloor sonder dat dit sigbaar is. Ooie wat in ‘n swak kondisie lam, se melkproduksie is swak en daarom groei die lammers swak, wat daartoe lei dat die daaropvolgende besetting swakker sal wees.
- Ooie wat gepaar gaan word in Oktober en November:
- Skuif die ooie na vars kampe 14 dae voordat die ramme by die ooie is om hulle op ‘n natuurlike wyse te prikkel/koggel. Die afskeer van ooie is ‘n ander natuurlike manier om hulle te prikkel/koggel.
- Mikskeer die ooie (indien nodig) voordat hulle gepaar gaan word. Dit help die ramme om hulle gemakliker te dek.
- Spuit of doseer vitamien A en minerale sowat ‘n maand voor paring, veral as die ooie lanklaas groen weiding gehad het.
- Ent ooie ongeveer ses weke voor paring teen ensoötiese aborsie as die siekte in jou kudde voorkom.
- Maak seker dat die ooie skoon is van bosluise.
- Doseer of spuit ooie teen lewerslak en peervormige slak indien daar simptome is (lewerslak lei tot kwakkeel en peervormige slak veroorsaak swart diarree). Hierdie twee parasiete is veral ‘n probleem in kampe met grondwater (bv. gronddamme).
- Ramme (die aksies wat hieronder volg, moet minstens agt weke voor paring afgehandel wees om tydelike steriliteit te vermy):
- Maak seker dat daar genoeg ramme is om die ooie te dek. Koop aan indien nodig.
- Skeer die ramme en doen alle nodige inentings, doserings en aanvullings van minerale vir die lenteparing.
- Sorg dat die ramme in ‘n goeie kondisie is voor paring. Prikkelvoeding soos hawerpitte of ‘n goeie lek gee goeie resultate. Wees versigtig vir skoon mielies of sjokolade mielies, aangesien dit tot die versameling van vet om die testis kan lei wat die ramme se vrugbaarheid aantas. ‘n Lek wat hoog is in proteïen word aanbeveel. Sorg vir genoeg vreetspasie sodat die ramme almal gelyktydig kan vreet.
- Ramme moet pers tussen die voor- en agterbene wees wanneer hulle na die ooie gaan.
- Laat toets die ramme vir vrugbaarheid en geslagsiektes.
- Doseer ramme 20ml koringkiem per week vir die laaste vier weke voor hulle na die ooie gaan.
- Spuit of doseer die ramme met vitamien A en minerale, veral as hulle lanklaas groen weiding gehad het.
- Maak die ramme fiks.
- Doseer of spuit met ‘n breëspektrum middel teen rondewurms (veral haarwurm) en neuswurm. Die ramme se neuse moet skoon wees om die ooie wat op hitte is ordentlik te kan ruik.
- Maak seker dat die ramme skoon is van bosluise.
- Doseer of spuit ramme teen lewerslak en peervormige slak.
- Koggelramme (noodsaaklik hierdie tyd van die jaar):
- Koggel die ooie vir nege dae voor paring. Haal koggelramme uit teen laatmiddag van dag nege en vervang met ramme.
- Predatore: Begin om kampe waarin daar gelam gaan word te monitor vir ongewenste predatore. Tref vroegtydig voorsorg en pak gate onder deur drade toe. Moenie dit uitstel tot die ooie begin lam nie, want dan het die ooie u volle aandag nodig.
Belangrik: Lees alle dieregesondheidprodukte-pamflette deeglik deur om seker te maak dat dit veilig is vir dragtige ooie en hoe om die produk veilig te gebruik.
Kontak jou plaaslike veearts as jy oor enige van bogenoemde dieregesondheid-aanbevelings twyfel. Moenie dragtige ooie of ooie wat binnekort gepaar gaan word, met lewendige entstowwe vir bloutong en slenkdalkoors inent nie, want dit kan aborsies of swak besetting veroorsaak. Lees alle entstof-, doseermiddel- en voerpamflette deeglik deur om jouself te vergewis van die veilige gebruik daarvan.
Lees ander bestuurskalenders: