Estimated reading time: 2 minutes
Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se produksie-adviesdiens verskaf tweemaandeliks ’n ondersteunende lys van bestuursaksies aan kleinveeprodusente in die somerreënvalgebiede. In hierdie uitgawe van Veeplaas val die kollig op die maande Julie, Augustus en September.
Aksies vir Julie
Suiplammers (Maart en April se lammers)
- Doseer alle lammers ouer as 12 weke teen lintwurm en rondewurms. Verskaf vitamien A en minerale (inspuitbaar of oraal). Doseer lammers jonger as drie maande teen melklintwurm.
- Ent alle lammers, veral ooilammers wat ouer as 12 weke is teen siektes soos bloutong, Slenkdalkoors, bloednier en Pasteurella. Ent die vervangingsooilammers teen ensoötiese aborsie. Waar moontlik, maak van kombinasie-entstowwe gebruik. Moenie lammers wat jonger as drie maande oud is inent nie, aangesien hulle waarskynlik genoeg teenliggame het danksy die bies in die ooie se melk.
- Speen alle lammers en selekteer jou vervangingsooie.
- Sodra die lammers drie maande oud is, kan kruipvoeding gestaak word. Voorsien ’n goeie proteïenlek, veral vir die vervangingsooie, asook voldoende deurvloeiproteïen.
Ooie wat in Maart/April gepaar is:
- Skandeer die ooie vyf tot ses weke nadat die ram uitgehaal is.
- Verkoop die ooie wat droog skandeer en belê in dragtige en verkieslik tweetandooie.
- Ooie moet ses weke voordat hulle lam teen Pasteurella, bloednier, blou-uier en, indien dit in die omgewing voorkom, rooiderm en bloedderm ingeënt word. Doseer vir inwendige parasiete en neuswurm. Let veral op vir lewerslak en peervormige maagslak wat gewoonlik volop is by oop drinkwater (gronddamme).
- Gee vitamien A en ’n mineraaltoediening.
- Sorg dat die ooie in ’n goeie kondisie bly met behulp van ’n weeklikse kondisiepunt en verskaf ekstra kos of lekke indien nodig. Let veral op die kondisie van meerling- en tweetandooie wat gewoonlik goed sal lyk omdat hul buike baie uitsit. ’n Ooi wat in ’n swak kondisie is, se melkproduksie neem gewoonlik af en lei tot lammers wat swak groei asook ’n swak daaropvolgende besettingsyfer.
- Beveilig die lamkampe teen predatore en let op na die bewegingspatrone van roofdiere.
Ooie met lammers
Doseer die ooie, veral as hulle lanklaas groenweiding gehad het, met vitamien A en minerale. Let veral op vir blindheid wat ’n simptoom van ’n vitamien A-tekort kan wees.
Ramme
Hierdie is ’n goeie tyd om die ramme teen bloutong in te ent, aangesien hulle gewoonlik nie dié tyd van die jaar werk nie.
Lees ander artikels in hierdie reeks: