Die wolmark handhaaf die onlangse indrukwekkende stygings en verhandel slegs ’n skamele 1,4% en 258 punte laer, om te sluit teen ’n waarde van R180,92/kg vir skoonwol. Die Australiese EMI het met 1,5% afgeneem. Die Cape Wools Allewol-aanwyser het met 1,5% verlaag.

Handelaars was beïndruk deur die mark se volgehoue prestasie ten spyte van die hoër prysvlakke en is van mening dat die mark koers hou as gevolg van die deurlopende sterk vraag na goeie gehalte lang wol. Die uitwerking van die versterkende rand op die mark was onbeduidend.

Die verlaagde hoeveelheid wol wat op die tweede veiling van die seisoen aangebied is, het mededinging tussen die kopers aangevuur.

Die rand het vir R13,24 teenoor die Amerikaanse dollar en R15,60 teenoor die euro verhandel. Die rand was onveranderd teenoor die Amerikaanse dollar en 0,5% laer teenoor die euro in vergelyking met die vorige veiling.

Altesaam 98,8% van die 8 363 bale wol wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Modiano (2 025), Standard Wool SA (1 826), Lempriere SA (1 548) en Tianyu SA (1 245).

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18,0 mikron daal met 2,8% en sluit teen R217,41/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 1,5% en sluit teen R210,22/kg.
  • 19 mikron verlaag met 2,1% en sluit teen R201,17/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 1,5% en sluit teen R188,14/kg.
  • 20 mikron neem af met 1,7% en sluit op R181,07/kg.
  • 20,5 mikron is 0,4% sterker en sluit op R178,37/kg.
  • 21,0 mikron styg met 1,1% en sluit op R174,49/kg.
  • 21,5 mikron het 3,4% afgeneem en sluit op R169,79/kg.
  • 22 mikron daal 1,7% en sluit op R163,34/kg.
  • 22,5 mikron is 0,8% swakker en sluit op R160,18/kg.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 6 September 2017, wanneer sowat 10 847 bale aangebied gaan word. – Markverslag

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY