Die 2021/22-wolseisoen is op 9 Februarie 2022 voortgesit met ’n een-dag-veiling waarop 9 009 bale wol aangebied is.

Die verslag formaat het verander en die aanwyser is verdeel in Responsible Wool Standard– (RWS) wol en nie-RWS-wol. Dit is genoodsaak weens die fluktuerende volumes van gesertifiseerde wol wat op die veilings aangebied word. Sommige vergelykings is derhalwe weggelaat.

Die nie-RWS-aanwyser het met 0,5% gedaal om teen R165,40/kg te sluit, terwyl die RWS-aanwyser met 1,4% gedaal het om teen R195,44/kg te sluit. Die algehele verkoopspersentasie was 91,2%.

Die aanbod het hoofsaaklik uit 20 mikron en fyner wol bestaan (72%), maar slegs 39% van die aanbod het uit langwol bestaan en 21,4% van die aanbod was gesertifiseerde wol.

Die Australiese mark het met 1,9% (Australiese dollar) gedaal, vergeleke met die vorige veiling wat op 3 Februarie plaasgevind het.

Die beweging in die onderskeie mikron-groepe is in tabelle uiteengesit en kan hier gesien word.

Die volgende veiling is vir 16 Februarie 2022 geskeduleer, waar sowat 7 041 bale aangebied sal word. – Persverklaring, Cape Wools SA