Monday, December 15, 2025
HomeMagazinesWol of vleis: Agt jaar se finansiële syfers vir die Sentraal-Karoo

Wol of vleis: Agt jaar se finansiële syfers vir die Sentraal-Karoo

Estimated reading time: 9 minutes

Een van die grootste uitdagings vir landbouprodusente is om uit te pluis watter kombinasie van bedryfstakke onder ’n gegewe stel omstandighede die beste opbrengs bied. In die Karoo is dit eintlik ’n eenvoudige vraag wat op raskeuse neerkom. Is wolboerdery voordelig, of is dit beter om net op vleis te fokus? En verander die antwoord as daar saad ook ter sprake is?

Die syfers in die artikel is oor ’n tydperk van nege jaar by 73 boere ingesamel. Dit gee dus ’n goeie aanduiding van wat werklik bereik is, en is nie dieselfde as wat teoreties haalbaar behoort te wees nie. In dié tyd was weitoestande gemiddeld tot droog, hoewel dit op baie plekke eers in die 2020-boekjaar ernstig droog geword het.

Hoe werk inflasie?

Die syfers wat hier aangedui word, is reëel in die sin dat dit inflasie buite rekening laat. Inflasie is ’n algemene prysverhoging in die ekonomie wat veronderstel is om die koopkrag onveranderd te laat. Wat in werklikheid gebeur, is dat insette produkpryse verbysteek, wat die landbou se ruilvoet met die res van die ekonomie verswak. Die groot sondaars is die minimumloon en brandstof- en elektrisiteitspryse, die sogenaamde geadministreerde pryse.

Tabel 1: Die effek van inflasie op nominale pryse.

  Prys van plaasbakkie  
JaarBakkieNominale prysReëele prys (2019)VPIRuilvoet in slaglammers
1969Corona1 17688 6482,1138
1978Cortina3 780127 3144,7210
1988Isuzu24 500214 27318,1255
1996Isuzu64 824236 44343,4301
2009Isuzu182 228481 58159,9311
2019   158,3 
2023Isuzu (gebruik)420 000343 497193,5333
Bron: Elias Basson, Sutherland.

Die prys van ’n plaasbakkie het oor die afgelope 50 jaar 350-voudig toegeneem, hoofsaaklik as gevolg van inflasie. Om die 2019 reële waarde van die ou bakkies te bereken deel ’n mens die nominale prys deur die verbruikersprysindeks (VPI) vir die jaar (met ander woorde deur 2,2 vir 1969 of deur 4,7 vir 1978), en maal die antwoord met die VPI vir die teikenjaar (2019).

So gemaak, kan die 1978 Cortina se prys direk met die 1996 Isuzu-prys vergelyk word. Selfs in reële terme was die 1996 bakkie 86% duurder as die 1978 bakkie, en dit word weerspieël in die aantal slaglammers benodig om die bakkies te betaal. Die lammers nodig om ’n plaasbakkie aan te skaf, het van 210 tot 301 toegeneem (43%), waaruit afgelei kan word dat skaapvleispryse in die tyd ook reëel gestyg het.

Die feit dat die ruilvoet in 2023 effens afgeneem het, kan moontlik daarop dui dat die 2023-bakkie nie meer heeltemal in dieselfde klas as sy 2009 voorganger is nie. Dis ’n algemene feit dat die Karoo se rygoed saam met sy paaie agteruitgegaan het.

Reële netto boerdery-inkomste

Boerderywins word in drie stappe bereken. In stap een word direkte uitgawes van bruto inkomste afgetrek om bruto marge te bepaal. Dit word apart vir elke bedryfstak gedoen. In stap twee word oorhoofse koste soos permanente arbeid of landgoedverbeteringe van totale bruto marge afgetrek om netto boerdery-inkomste (NBI) te bereken. In stap drie word vreemdefaktorkoste soos die salarisse van gehuurde bestuur en die koste van grondhuur afgetrek om boerderywins (of verlies) te bepaal. Eers daarna staan die eienaar(s) van die grond en die boerdery in die ry vir betaling. (Lees meer oor die berekening in Standard Bank se Finansies en die Boer.)

Die rede vir die drie stappe is omdat ’n Overbergse produsent moet weet hoeveel beter sy gars- as sy kanolavertakking vaar, en daarna of alles saam die plaas se oorhoofse koste kan dra, en eers dan of sy skuld nie dalk te veel is nie. Omdat mense nie graag van skuld en erfgoed praat nie, is boerderywins selde beskikbaar. Meestal is daar net syfers tot op NBI-vlak.

Vroeër het bedryfstakbegrotings (combuds) net tot by bruto marge gegaan, wat myns insiens ’n verkeerde beeld van die winsgewendheid van Karooboerdery kan skep. Wanneer ’n mens net met Dorpers in die Koup boer, soos baie mense doen, moet die Dorpertjies vir alles betaal. As hulle nie die plaas se oorhoofse koste kan dek met genoeg oor vir ’n loon vir die ondernemer nie, is die besigheid nie volhoubaar nie, al sê bruto marge ook wat. Oorhoofse koste vorm dus deel van my berekening in Tabel 2.

Winsgewendheid 2012 tot 2019

Slegs voltydse boere is by hierdie studie betrek, en ons kyk in Tabel 2 net na die kleinveevertakking. Waarnemings bestaan uit ‘plaasjare’, met ander woorde dieselfde boerdery genereer twee waarnemings in twee verskillende jare. Aan die einde van die 2019-boekjaar was daar in totaal 424 waarnemings wat in drie groepe verdeel is, naamlik vleisprodusente (47%), wolprodusente (streng gesproke veselprodusente, aangesien ’n paar Angorabokke ook betrokke is) (32%) en gemengde boerderye (21%).

Vleisprodusente se inkomste kom 98% uit veeverkope. Wolboere se inkomste bestaan uit 52% vleis, 44% vesel, 3% gewasse en 1% allerlei. Dit gee onder meer ’n inkomste van R59/ha vir die vleisprodusente en R95/ha vir die wolprodusente. Gemengde boerderye kry 48% van hul inkomste uit gewasse (hoofsaaklik saad), 37% uit veeverkope en 9% uit wol. Die orige 7% kom uit jag, toerisme of allerlei. Vee genereer R64/ha vir die groep. Hieruit kan ’n mens aflei dat saadproduksie meer dikwels met ’n Dorper- as met ’n Merinovertakking gekombineer word, en dat vee dan soms ’n bysaak in die groter geheel word.

Die syfers verteenwoordig reënval van minder as 150mm/jaar tydens ’n effens onder-normale siklus. In werklikheid is gemiddeld 113mm/jaar sedert 1912 in Laingsburg gemeet. Vir Beaufort-Wes, waar die reeks in 1878 begin, is die syfer 238mm/jaar. In die Koup, halfpad tussen die twee, waarvandaan die meeste waarnemings kom, is die verwagte reënval 138mm/jaar.

Normale weitoestande

Weitoestande was tot in 2016 normaal, gevolg deur ‘n droogte in 2017, 2018 en 2019. Tussen 2012 en 2019 was die Beaufort-Wes-omgewing 10% droër as gewoonlik, en Laingsburg sowat 20% droër as normaalweg, nog glad nie die rampdroogte wat later ontwikkel het nie. Daar is dus voerkoste aangeteken, wat later baie toegeneem het.

Tabel 2: Bedryfstakbegroting vir kleinvee in 2019 R/ha.

   Vleis n = 199Wol n = 137Vee in gemengde boerdery n = 88Totale steekproef n = 424
Bruto inkomste59,1695,9264,6572,18
Voer en veemedisyne13,6814,9728,4817,17
Roofdierbeheer1,120,961,261,10
Brandstof en vervoer9,388,1010,079,11
Arbeid14,5722,4819,2218,09
Onderhoud: voertuie4,174,024,264,14
Onderhoud: landgoed6,984,624,835,77
Elektrisiteit3,551,6112,774,84
Totale koste53,5756,7780,8960,29
NBI5,8539,15-16,2312,04
Grondhuur3,239,233,085,14
Boerderywins voor rente2,4729,93-19,326,84
Bron: Karoo Management Panel.

Dit is duidelik uit die verspreiding van bruto inkomste per groep, dat wol ’n voordeel bo suiwer vleisproduksie bied. Aan die kostekant verg wol ’n groter arbeidsinset as vleis, maar daar is min verskil tussen die twee in terme van die ander uitgawes. Vir vleisprodusente is die winsmarge bitter dun, slegs 10% van bruto omset. Wolboere vaar heelwat beter met ’n marge voor vreemdefaktorkoste van ongeveer 40%. Daarteenoor is die veevertakking in die gemiddelde gemengde boerdery nie winsgewend nie.

In die geval van die gemengde boerdery is oorhoofse koste proporsioneel tot omset aan die veevertakking toegeken. Dis duidelik uit die buitensporige lynitems vir krag en arbeid, dat dit moontlik nie die regte aanname was nie. Saadprodusente is nie gretig om hul saadsyfers te deel nie.

Meer wol- as vleisprodusente huur grond. Gemengde boerderye huur gewoonlik net landerye, wat die groot koste per hektaar oor die hele plaas versprei. Daar is nie betroubare inligting oor skuldvlakke beskikbaar nie. Nietemin, met die tipiese Karooboerdery, bedoel ons die geweegde gemiddeld van vleis en wol, soos in die vierde kolom van Tabel 2 aangedui.

Skuld is gevaarlik

Tussen 2012 en 2019 het die tipiese skaapvertakking R72,18/ha verdien, en dit het R60,29/ha gekos om in produksie te wees. Dit laat ’n NBI van R12,04/ha onder redelike weitoestande. Hoewel grondhuur ’n groot hap uit NBI vat, was die meeste skaapboerderye in die gebied in die tyd winsgewend, mits hulle nie skuld gehad het nie. Dis algemeen bekend dat skuld ’n gevaarlike ding in die Koup is, en die syfers bevestig dit.

Gekapitaliseer teen 3%, verteenwoordig hierdie NBI-vlakke ’n produktiewe grondwaarde van R400/ha oor goeie en slegte jare, mits die grond groot genoeg is om ’n bestaan op te maak en die produsent nie skuld het nie. Dis ’n fraksie van markpryse wat steeds deur beleggers op onvolhoubare vlakke bo R1 800/ha gehou word.

Tussen 2016 en 2021 het die Wes-Kaapse Departement van Landbou droogtehulp van R521 miljoen (reëel 2020) aan bona fide-boere beskikbaar gemaak. Die gebruiklike een derde veevermindering is nie vereis nie, alhoewel kuddes aan die nuwe drakragnorme van 2018 moes voldoen. Die maksimum hulp per boerdery was genoeg vir 20 grootvee-eenhede (volgens Meissner, nie volgens Herselman nie). In die Sentraal-Karoo het die subsidies op tussen 11 en 43% van die groep se werklike voerbehoefte neergekom. Voersubsidies is nêrens aangeteken nie, en word nie in Tabel 2 in berekening gebring nie.

Gevolgtrekking

Die syfers wat hier aangebied is, skets ’n donker prentjie. As wolproduksie haalbaar is, is dit die oplossing, maar dis nog ’n ope vraag in watter gebiede wolproduksie haalbaar is, en waar nie. Die invloed van die minimumloon op die winsgewendheid van wolproduksie kan gerus aandag kry.

Saadproduksie kom tans tot die redding van baie Karooboere wie se somme nie meer klop nie. Gewasproduksie verg egter skaars grondwater, ’n moeilik-reguleerbare bron. In hierdie verband maak ons staat op grondbewaringskomitees met tegniese ondersteuning van Land Care. As die stelsel faal, kan die een boer se brood die bure se dood word. Ek twyfel sterk of gewasproduksie ’n volhoubare oplossing vir die Sentraal-Karoo bied.

Daar is baie oor die milleniumdroogte in Australië geskryf. Die slotsom is dat langdurige droogtes produsente en hul finansies uitmergel. In die Australiese geval was hulp beskikbaar, waarvoor kleiner produsente dikwels te laat aangemeld het.

’n Mens kan drie lesse uit hul ondervinding leer:

  • Meld betyds aan. Praat met jou bedryfsleiers en plaaslike voorsitters. Die bedrywe moet natuurlik ook hulle planne agtermekaar kry.
  • Elke produsent moet selfversorgend wees. Droogte is die nuwe normaal. Voorverlede jaar se herfsreën was laat en dit was verlede vanjaar weer so. Reënval word op 80 plekke in die Sentraal-Karoo gemeet. Ten tyde van die skryf van die artikel het die gemiddeld sedert Oktober 2024 op slegs 32mm gestaan. ‘n Vyfde van die groep het op daardie stadium nog geen of bykans geen reën gehad nie, terwyl die gelukkigste 5% al op 60mm gestaan het. In April het dit goed gereën, gemiddeld 40mm en die totaal sedert Oktober staan tans op 150mm (30 April).
  • Dis onmoontlik om binne in ’n droogte vir ’n droogte voor te berei. Dit moet in goeie tye gedoen word. Die saak moet voortdurend opgehaal word, al wil mense nie daaroor praat nie. – Prof Beatrice Conradie, medeprofessor in Ekonomie, Universiteit van Kaapstad

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan prof Beatrice Conradie by Beatrice.Conradie@uct.ac.za.

Must Read

Agri Skills Transfer awarded Stakeholder Excellence Award

Agri Skills Transfer proudly took home the coveted Stakeholder Excellence Award at the Agri SETA Excellence Awards Ceremony held in Durban last night. Recognised...