Estimated reading time: 5 minutes

Met ’n naam soos Angus in die rooivleisbedryf, en ’n van soos Shepherd in die wolbedryf, hoe kan ’n mens verkeerd gaan? Dit was die woorde van die geleentheidspreker, Quinton Coetzee, tydens die laaste van ‘n reeks streeksvergaderings wat die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) onlangs by Cedarville in KwaZulu-Natal aangebied het.

Quinton het natuurlik na Angus Williamson, voorsitter van die RPO in KwaZulu-Natal, en dr Ariena Shepherd, voorsitter van die provinsie se NWKV, verwys.

Van die produsente wat die vergadering op Swartberg bygewoon het.

Met verwysing na die sosiale struktuur van die San-gemeenskappe in die sentrale Kalahari, het Quinton sekere fundamentele beginsels geïdentifiseer wat op besighede, insluitende boerderye, van toepassing is. Die belangrikste hiervan, het hy beklemtoon, is die drang om ten alle koste te oorleef, en die bereidwilligheid om aanpassings te maak wat nodig is om dit te kán doen.

Biosekuriteit en volhoubaarheid

Volhoubaarheid en naspeurbaarheid was prominente temas in beide die boodskappe van die twee provinsiale voorsitters. Volgens Angus is die nakoming van die Raad van Landbouprodukte-agente (APAC) se regulasies by veeveilings ’n uiters belangrike aspek, ten spyte daarvan dat dit in die kort termyn ongemak mag veroorsaak.

Lees ander artikels oor die rooivleisbedryf.

APAC reguleer spesifiek die voorsorgmaatreëls tydens die verhandeling van lewendehawe om die risiko van die verspreiding van aanmeldbare siektes tydens veilings te verminder.

Shane Simpson van Simpson and Son Farming by Kokstad (regs), ontvang die Kuilvoerkoning van die Jaar-toekenning vir 2020 van Angus Williamson. Simpson and Son Farming het die Santam Nasionale Kuilvoerkompetisie in 2020 gewen, maar kon destyds nie die oorhandigingsgeleentheid bywoon nie, omdat Shane se seun in daardie tyd tragies in ’n veldbrand gesterf het. Dié toekenning is tydens die vergadering op Swartberg aan hom oorhandig.

Eweneens is biosekuriteit in die veebedryf ’n prioriteit, asook volhoubaarheid regdeur die waardeketting en ’n bewese etiese kode op grond waarvan landbouprodukte geproduseer word. Dit is waarom die wolbedryf ’n sertifiseringstandaard bekend as die volhoubare Cape Wools-standaard (Sustainable Cape Wools Standard, of SCWS) geformuleer het.

Gesertifiseerde, naspeurbare wol

Wol, het dr Ariena Shepherd verduidelik, is maar een van baie vesels waarvan klere gemaak word, en dit ding mee met ander natuurlike en sintetiese vesels. Verbruikers is egter toenemend gesteld op aspekte soos volhoubare produksie, dierewelsyn, etiese standaarde en omgewingsvriendelike vervaardiging in hul keuse van vesel wanneer hulle kledingstukke koop.

Die sprekers tydens die onlangse NWKV/RPO-streeksvergaderings. Van links is Annelize Smit van Niekerk, produksie-adviseur by die NWKV, wat die volhoubare Cape Wools-standaard verduidelik het, Pierre van Zuydam, ondervoorsitter van die NWKV in KwaZulu-Natal, Quinton Coetzee, die gasspreker, Angus Williamson, voorsitter van die RPO in KwaZulu-Natal, Freddie van Tonder, veediefstalspesialis by die RPO in KwaZulu-Natal, en Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Nasionale RPO. Die voorsitter van die NWKV in KwaZulu-Natal, dr Ariena Shepherd, het later aangesluit.

Naspeurbaarheid en deursigtigheid regdeur die waardeketting speel ’n toenemende rol in die wolbedryf en dra by tot die ‘verhaal van wol’, wat al hoe belangriker vir die verbruiker is.  

Suid-Afrikaanse wolprodusente is baie geneë om aan die volhoubare Cape Wools-standaard deel te neem, het sy opgemerk, veral wanneer ’n mens in gedagte hou dat, hoewel Suid-Afrika maar ongeveer 2% van die wêreld se wol produseer, ons 20% van die gesertifiseerde wol in die wêreld lewer. Dit is ’n besonderse prestasie wat die Suid-Afrikaanse skeersel uiters gunstig posisioneer.

Dr Ariena Shepherd in aksie, terwyl Angus Williamson die voorsitterstoel beklee.

Dit is ook ongetwyfeld so, het sy benadruk, dat gesertifiseerde wol ’n premie bo ongesertifiseerde wol behaal.

Rooivleisbedryf op goeie koers

Die uitvoerende hoof van die Nasionale RPO, Gerhard Schutte, het die toer meegemaak en benadruk dat die rooivleisbedryf ’n baie opwindende storie het om te vertel. “Die bedryf word as die slapende reus van die landbou beskryf. Die ontsluiting van hierdie potensiaal berus op die bedryf self, en baie van die werksaamhede van die RPO is juis hierop toegespits.”

Beesvleisuitvoere, wat tans op ongeveer 5% staan, kan na 20% groei, en skaap- en bokuitvoere kan van 1% na 5% styg, indien sekere maatreëls in plek gestel kan word.

“Die belangrikste van hierdie maatreëls gaan oor dieregesondheid, voldoende entstofvoorsiening en ’n doeltreffende naspeurbaarheidstelsel. Hoewel die owerheid positief teenoor die rooivleisbedryf staan, sal die implementering van hierdie maatreëls uit eie geledere gedryf moet word, en sal die bedryf dit self moet befonds deur middel van ’n statutêre heffing,” het Gerhard gesê. – Izak Hofmeyr, AgriOrbit

Vir meer inligting, kontak die NWKV in KwaZulu-Natal by 82 497 0655, of die RPO in KwaZulu-Natal by rpoadmin@kznatal.co.za.