witluis
Hewige sitruswitluis besmetting op Eureka-suurlemoene. Die gevolge van witluisbesmetting hang af van die graad en tyd van besmetting, maar dit kan die oes onbemarkbaar laat as die luise nie betyds en doeltreffend bestry word nie. Verskeie witluisspesies kom by sitrus voor, waaronder sitruswitluis, oleanderwitluis en karoodoringwitluis.

Alle sitrusboere het al kennis gemaak met witluis. Die afgelope jare was daar ’n groot toename in witluisbesmetting by sitrus weens verskeie faktore, waaronder warmer winters.

Read it in English.

In Suid-Afrika plant produsente jaarliks nuwe sitrus by, wat bydra tot ‘n monokultuur sisteem wat ’n meer gunstige habitat vir die plaag skep. Ons het boonop in die noordelike produksiestreke ook warmer winters beleef, wat veroorsaak het dat meer witluise deur die winter oorleef. Daar word dan chemikalieë gebruik vir ander plae soos blaaspootjie, wat nadelig is vir witluispredatore en parasiete.

Klein gogga, groot skade

Die skade wat witluise aanrig, hang ten nouste saam met die tyd en graad van infestasie. Witluise kan knoppe of duike op vrugte veroorsaak of vrugte misvorm. Witluise skei ook ‘n tipe heuningdou af wat roetskimmel-swamgroei op die vrugte kan veroorsaak en ander peste en plae lok of vererger.

Al hierdie simptome kan vrugte totaal onbemarkbaar laat en hewige infestasies kan ook lei tot vrugval en opbrengsverlies. Die heuningdou-afskeiding van die witluise lok ook ander plae, soos karobmot. Die larwes kan die vrug se skil binnedring en vrugval veroorsaak.

Lewende en geparasiteerde sitruswitluise op Delta-valencias

Die heuningdou-afskeidings kan ook lei tot die opbou van mierbevolkings in sitrusboorde, wat weer nadelig is vir die biologiese bestryding van ander plae. Miere ondersteun witluisverspreiding en beskerm die luise teen roofinsekte en parasiete om heuningdou te bekom. Witluis kan ook die voorkoms van siektes soos Alternaria kernvrot vererger, sodat gehalte en opbrengs verlaag. Blaarmisvorming is ook algemeen. Dit bied skuilplek aan ’n reeks plae en gee aanleiding tot verlaagde fotosintese.

Vat witluise vas

Bestrydingstrategieë word oorweeg na aanleiding van deeglike monitering en moet reeds in die winter of voorseisoen begin. Maak die bome met snoeiwerk oop genoeg sodat toestande binne-in die bome ongunstiger is vir die plaag en voldoende binnedringing van spuitstof bewerkstellig word vir die seisoen wat voorlê. Dit is ook die tyd om alle dooie hout te verwyder, asook “buite-seisoen”-vrugte waar witluise oorwinter.

Met hewige besmettings kan dit nodig wees om witluis chemies te bestry in die winter, na-oes en verkieslik na-snoei.

Witluis is in die meeste gevalle ’n terugslagplaag weens monokultuurpraktyke in ’n oorvereenvoudigde landbou-ekostelsel. Gevolglik is dit noodsaaklik om strategieë te ontwikkel wat bevorderlik is vir biologiese bestryding, omdat witluis beswaarlik met chemikalieë alleen bestry kan word.

Parasitisme van die sitruswitluis deur die parasiet Anagyrus pseudococci.

Kies chemiese programme op so ’n wyse, dat dit die minimum impak op roofinsekte en parasiete van plae het. Hierdie praktyk kan die behoefte aan chemiese middels verminder en meer speling bied om bykomende insekparasiete of roofinsekte vry te laat.

Die bestryding van miere moet vroegtydig begin ten einde die aanvanklike opbou van witluisbevolkings te verhoed.

Oorweeg geregistreerde chemiese middels op grond van:

  • Witluisspesie en besmettingsvlak.
  • Residu-risiko en teikenmark.
  • Integreerbaarheid met biologiese bestryding.
  • Tydsberekening vereistes.
  • Chemiese verenigbaarheid en toedieningsvereistes.

GrootplaasGeskryf deur Gys Helm, besigheidontwikkelingsbestuurder: Laeveld Agrochem. Vir meer inligting, skakel jou Laeveld Agrochem-verteenwoordiger of besoek die webwerf by www.laeveld.co.za, stuur ’n e-pos aan info@laeveld.co.za of skakel 012 940 4398.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY