Estimated reading time: 5 minutes
Die vorige artikels in hierdie reeks het gefokus op verskeie aspekte wat verband hou met die produksie van lusernhooi in Suid-Afrika. In die laaste aflewering word gefokus op die winsgewendheid van lusernhooiproduksie.
Lusernhooi is nie net een van die vernaamste bydraers tot veevoerproduksie in Suid-Afrika nie; die winsgewendheid daarvan kan ook met dié van enige ander kontantgewas in ons lusernproduksiegebiede meeding. Die winsgewendheid van die lusernhooibedryf word bepaal deur die inkomste wat daaruit gegenereer word en die produksiekoste wat aangegaan word (Klonsky, Reed en Putnam, 2007).
Stygende insetkoste en druk
Internasionale kunsmiskoste het sedert die begin van 2021 skerp gestyg. Dit het die winsgewendheid van alle kontantgewasse beïnvloed en tot tussen 30 en 50% van produksiekoste bygedra (Louw en Maluleke, 2021). Daarmee saam het die dieselprys in 2021/22 met 40% gestyg – brandstofkoste maak sowat 10% van ’n produsent se totale insetkoste uit (Esterhuizen en Caldwell, 2021). Die afgelope paar jaar se stygende insetkoste het toenemende druk op kontantgewasprodusente geplaas en hul winsmarges laat krimp (Sihlobo, 2021).
Onder normale omstandighede bied die produksie van lusernhooi ’n meer bestendige kontantvloei en laer risiko as wisselvallige, hoë-risiko gewasse. Dit is omdat lusern tussen vier en tien keer per jaar gesny word. Lusern bied ook verskeie finansiële en agronomiese voordele, insluitend gewasrotasie, verlaagde stikstofbehoeftes, verbeterde waterinfiltrasie, hoër grondgehalte en doeltreffender onkruidbeheer. Hierdie voordele help om produksiekoste te verlaag en algehele winsgewendheid te verhoog (Klonsky, Reed en Putnam, 2007).
Suid-Afrika se lusernhooiproduksiekoste, -inkomste en -produsentepryse vir die tydperk vanaf die somer van 2019 tot die winter van 2023 word in Figuur 1 uiteengesit. Hoë internasionale kunsmis- en brandstofpryse tesame met hoë wêreldwye kommoditeitspryse, was die vernaamste drywers van skommelinge in die winsgewendheid van lusernhooiproduksie.
’n Skerp styging in produksiekoste is vanaf 2021 waargeneem. Die prys van diesel het tussen 2021 en 2022 met sowat 40% gestyg, wat tot ’n beduidende toename in produksiekoste en produsentepryse tussen die somerproduksieseisoene van 2021 en 2023 gelei het. Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne het ekonomiese groei met tot 0,5 persentasiepunte verminder, wat die begrotingsvooruitsigte vir 2022/23 en die vermoë van die ekonomie om van die Covid-19-krisis te herstel, beïnvloed het.
Produksie, pryse en risiko
Vir die doel van die berekeninge hier, is produksie konstant op 22 ton/jaar gehou. Die produsenteprys van hooi dien as ’n gemiddeld van lusernhooipryse oor die verskillende hooigrade wat tot die totale opbrengs in ’n produksieseisoen bydra: Prima (35%), Graad 1 (55%) en Graad 2 (10%) (Profarmer, 2024).
Wanneer marges bo die lusernhooiproduksiekoste met dié van ander kontantgewasse wat om dieselfde hulpbronne meeding vergelyk word, blyk dit dat lusernhooi ’n winsgewende opsie vir produsente is wat gewasse onder besproeiing verbou (Figuur 2), omdat dit met ’n somer- en ’n wintergewas meeding (Profarmer, 2024).
Ondernemingsbegrotings neem egter nie produksie- en prysrisiko in ag nie. Dit is ook moeiliker om die risiko’s van lusernhooiproduksie te bepaal as van ander kontantgewasse. Die implikasies van weerstoestande en die invloed daarvan op lusernhooiproduksie en -gehalte is nog nie vasgestel nie. Die uiteindelike uitkomste is dus onseker indien ongunstige weerstoestande gedurende die produksieseisoen sou voorkom.
Lusernhooiproduksie kan in twee hoofkomponente verdeel word: produksie tot en met die sny van die luserngewas, en die hooimaakproses. Weerstoestande beïnvloed veral laasgenoemde, aangesien gunstige toestande nodig is om blaarverliese tot die minimum te beperk.
Twee gevestigde beginsels geld in die lusernhooimark. Eerstens behaal hoë-gehalte lusernhooi konsekwent ’n premieprys, terwyl die produksiekoste daarvan in wese dieselfde bly as dié van laer-gehalte lusernhooi. Tweedens kan lusernhooiproduksie in vergelyking met ander gewasse soos mielies en koring, na ’n aanvaarbare en baie winsgewende opsie lyk. Tog word blootstelling aan produksie- en prysrisiko nie by die ondernemingsbegroting ingereken nie, en ’n akkurate aanduiding van winsgewendheid bly dus onseker en grootliks afhanklik van die weerstoestande gedurende die produksieseisoen.
Gradering en pryse van lusern
In Suid-Afrika dra lusernhooi tot die veevoer- en breër landboubedrywe by, omdat dit as ’n geskikte rotasiegewas beskou word en finansieel help om kontantvloei-uitdagings te bestuur. Die Nuwe Lusernkwaliteitsindeks (NLKI) is ‘n graderingstelsel op grond waarvan lusernhooi in verskillende gehaltegrade geklassifiseer word. Dit word in die veevoerbedryf vir verskeie doeleindes aangewend en vervang subjektiewe gehaltebepaling met ’n objektiewe metode wat meer struktuur bied.
’n Duidelike onderskeid in produsentepryse kan tussen die verskillende grade lusernhooi getref word, insluitend hoe pryse deur veranderinge in vraag en aanbod beïnvloed word. Weerstoestande is die belangrikste drywers van veranderinge in die gehalte en beskikbaarheid van lusernhooi in Suid-Afrika. Die ontwikkeling van die NLKI, asook deelname van produsente en die bedryf, het bygedra tot die ontsluiting van nuwe internasionale markte vir Suid-Afrikaanse lusernhooi, wat meeding met die grootste uitvoerders ter wêreld.
Hetsy positief of negatief, die impak van ’n vraagtoename in die wêreldmark word in Suid-Afrikaanse produsentepryse weerspieël. Benewens bestaande internasionale markte, het die oopmaak van Chinese markte beduidende ondersteuning aan produsentepryse gebied. Daarteenoor het ’n daling in die vraag Suid-Afrikaanse lusernhooiprodusente op grond van ‘n ooraanbod en verminderde vraag tydens die vorige produksieseisoen benadeel.
Tot op hede is beskikbare inligting oor die lusernbedryf beperk en moet dit vasgelê word sodat ’n deeglike analise van die waardeketting gedoen kan word.
Die lusernhooibedryf is klein in vergelyking met ander landboubedrywe. Dit speel weliswaar nie ‘n sleutelrol in die plaaslike landbou nie, maar kan nietemin groei moontlik maak. In vergelyking met ander landbousektore in Suid-Afrika is die lusernhooibedryf in sy kinderskoene en heelwat belangrike aspekte moet nog ondersoek word. – Hermias van Niekerk, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat
Vir meer inligting of verwysings, stuur ’n e-pos na vNiekerkHN@ufs.ac.za
Lees die vorige artikels in hierdie reeks:
