Die knellende droogte is vir die meeste wild- en veeboere ’n nagmerrie. Voer is skaars en baie duur en daarom moet dit reg gebruik word. Waar kapitaal beskikbaar is nadat die las van voer afgetrek is, kan wildboere die benarde situasie in ’n geleentheid omskep om met minder maar beter wild en verbeterde weiding die toekoms aan te pak.

Wild (gras- en blaarvreters) het net soos vee die regte hoeveelhede voedingstowwe in die regte verhouding nodig om te produseer en te reproduseer, sê Craig Shepstone, ’n bekende veekundige van Wildlife Nutrition Services.

In die natuur is die voedingsbalans gehandhaaf deurdat die diere gemigreer en agter goeie weiding en water aangetrek het. Plaasheinings verhoed egter deesdae sulke migrasie en die boer moet nou sorg dat die voedingsbalans in die beperkte toestande gehandhaaf word. Intensiewe boerderymetodes met skaarswild verhoog die boer se verantwoordelikheid verder.

By vee is daar weliswaar baie rasse, maar die spesies is beperk en dit is dus betreklik maklik om algemene riglyne vir dierevoeding, byvoeding en lekaanvullings te gee. By wild is dit ’n ander storie en daarom is dit soveel belangriker om kundiges se raad in te win, minstens totdat die boer die kinkels van die voerpad bemeester het.

Nuwe uitdagings weens droogte

Craig sê in die droogte tree verskeie nuwe uitdagings na vore. Die mededinging vir beskikbare weiding styg skerp, die smaaklikheid van droë weidings neem af, diere neem minder daarvan in en daarby is die voedingswaarde van die weiding ook laer.

Hy sê dit is nou al op sommige plekke so droog dat daar nie meer voldoende ruvoer op die veld is nie en die diere hooi moet kry. “Hooi is nou so skaars en duur, dat boere soms ook nie kieskeurig oor die gehalte van die hooi kan wees nie, en dat aanvullings nodig kan wees om die diere aan te moedig om dit te vreet én om die verteerbaarheid daarvan aan te wakker.

“Waar nog weiding beskikbaar is, maar die voedingswaarde is laag en dit is onsmaaklik, kan ’n boer middels in die diere se drinkwater gooi wat hul vreetlus sal stimuleer om meer van die onsmaaklike grasse, blare en struike te vreet. So kan ’n mens verseker hulle kry genoeg ruvoer in en dan hoef net die voedingstowwe wat ontbreek, aangevul te word.

“Dit behels egter meer as net die gras en blare se voedingswaarde, en omvat ook ’n kombinasie van die dier se vreetgewoontes en die simbiose met die mikro-organismes in die dier se grootpens. Diere kan dan minder van die ruvoer afbreek en verteer, die verteerbare proteïenfraksie daal en die diere verloor kondisie.

“In sulke tye raak dit noodsaaklik om ruvoer sowel as byvoeding en lekke oordeelkundig te voer. Onder ekstensiewe toestande waar nie voortdurend gevoer word nie, is voerbakke nie noodsaaklik nie omdat diere in elke geval van die grond af vreet. Waar voerbakke gebruik word, moet daar genoeg bakke wees wat so geplaas is dat alle diere vreetruimte het en mededinging beperk word. Skoon en genoeg drinkwater is altyd ’n vereiste,” verduidelik hy.

Optimale prestasie

Craig sê uitstekende voerkorrels en -pille is vir wild beskikbaar, maar hy glo ernstige wildboere behoort hul grond en gras te laat ontleed om te bepaal wat die stand van minerale en elemente in die weidings is sodat byvoeding en lekke so geformuleer kan word dat die diere optimaal kan presteer.

Die meeste voermeulens in Suid-Afrika kan voerpille net met ’n kort vesellengte (4mm tot 12mm) maak, terwyl lang vesel (minstens 35mm) nodig is om die herkou-aksie van wild in stand te hou. Met die kort vesellengte van die voerkorrels vloei die voer te vinnig deur die dier se grootpens en word al die voedingstowwe nie optimaal opgeneem en benut nie.

Die diere behoort net pille en korrels te kry as hulle by die voerbakke is, en boere behoort te kyk of die bokke dan al die voer opvreet. As daar voer oorbly, behoort die hoeveelheid met die volgende voersessie aangepas te word. As daar altyd voer in die bakke is, kan dit gebeur dat van die diere later terugkom, hul pense vol vreet en bestaan die gevaar dat hulle suurpens en/of rooiderm kan opdoen.

Riglyne vir hooi en pille

Craig sê hooi en pille behoort verkieslik nooit saam in een bak gevoer te word nie. “Voer dan eerder ’n langvesel-volvoer of sit die hooi in aparte voerbakke of in hooirakke. Ruvoer kan heeltyd beskikbaar wees.

“As pille en hooi in een bak gevoer word, kan ’n mens verwag dat klein troppies wild deur die dag by die voerplek sal aankom. Die wild wat eerste daar aankom, sal hoofsaaklik die pille vreet (wat nadelig vir hulle kan wees) en dié wat later kom, sal hoofsaaklik ruvoer kry wat nie die nodige voedingswaarde het nie.

“Dit is ook beter om klein hoeveelhede voer twee of drie keer per dag te gee. Só het die diere altyd vars voer en hoop die voer nie op en raak onsmaaklik nie. Die ou voer kan ook muf en probleme skep.”

Gehalte van ruvoer

Craig meen die gehalte van die ruvoer is ook belangrik omdat dit inname sal bevorder. Proteïenblokke sal die inname verbeter, maar dit moet verkieslik min (hoogstens 10%) of geen ureum bevat nie.

Navorsing toon dat groot diere (olifante, renosters, ens.) sowat 1,5 tot 2% van hul liggaamsmassa ruvoer op ’n droëmateriaal-grondslag per dag vreet, middelslag wild (buffels tot njalas) vreet ongeveer 2 tot 2,5% van hul liggaamsmassa en vir kleinwild is dit sowat 3 tot 4%.

Die voedingsamestelling van die ruvoer (of veld as dit beskikbaar is) moet bepaal word om sinvol byvoeding vir die wild te formuleer.

Met byvoeding vul die boer die voedingstowwe aan wat die dier nie uit die weiding of ruvoer kan kry nie. Voerkorrels en pille moet dus net gegee word as die gras/blare dit nie kan voorsien nie en dan moet die boer probeer verseker dat elke bok sy porsie elke dag inkry.

Lek en byvoeding

Lek en byvoeding is egter ook nie net vir oorlewing in droogtetye nie. Dit hou die diere in ’n goeie kondisie en verhoog die lam- of kalfpersentasie, laat die diere vinniger uitgroei sodat hulle vroeër gepaar of bemark kan word, en dit verbeter die wild se weerstand teen siektes en parasiete.

Craig sê: “Goeie weidingsbestuur is op die lang duur die beste wapen teen droogtes en weidingskaarste.

Waar weens die droogte spasie ontstaan het om meer diere aan te hou, kan boere beter teeldiere aanskaf om geneties vinniger te vorder om beter diere te kan bemark.” -Andries Gouws, Veeplaas.

Vir meer inligting, skakel Craig Shepstone by 083 305 1380 of stuur ’n epos aan craig.shepstone@gmail.com.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY