Suid-Afrika het ʼn unieke versameling wilde diere wat, sedert ʼn waarde aan wild gekoppel is, tot ʼn welvarende wildbedryf gelei het. Dié bedryf moet nou hervorm word sodat almal daarin kan deel.

Finansiering en toegang tot grond is die twee grootste struikelblokke in die pad van hervorming in die Suid-Afrikaanse wildbedryf. Daar is talle geleenthede vir werkskepping, opleiding en bemagtiging in die bedryf wat jaarliks sowat R7 miljard tot die land se bruto binnelandse produk bydra.

Op ʼn werk-indaba oor hervorming in die wildbedryf het Adri Kitshoff-Botha van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) gesê die visie van dié organisasie, naamlik om ʼn nuwe golf van groei en voorspoed in die wildbedryf te skep deur die krag van die natuurlike hulpbronne in te span tot voordeel van alle Suid-Afrikaners, bevestig die bedryf se erns oor hervorming en bemagtiging.

Vier pilare

Die trofeejagbedryf lewer nie net ʼn groot bydrae tot die land se bruto binnelandse produk nie, maar bied ook ʼn wye verskeidenheid werkgeleenthede vir veral jong mense.

Die wildbedryf dra beduidend by tot biodiversiteit, dierewelsyn en voedselsekerheid deur beter diere- en plante-diversiteit, beter grond- en waterbeskerming, genetiese diversiteit en vleisproduksie. Die feit dat gewasproduksie al hoe meer uitdagend raak en klimaatsverandering veeboerdery riskanter maak, sorg vir ʼn bestendige stroom boere wat wild begin gebruik om veral marginale grond beter te benut.

Die wildbedryf staan op vier pilare, wildteling en -produksie, jag, ekotoerisme en vleisproduksie. Ekotoerisme is ʼn benadering eerder as ʼn produk. Sowat 80% van alle toeriste wat SA besoek, neem aan die een of ander vorm van ekotoerisme deel. Sowat 75% van die besoekers aan SA se nasionale wildtuine is Suid-Afrikaners en ekotoerisme is die tweede belangrikste toeriste-aktiwiteit.

Die bedryf bied talle werkgeleenthede in herberge, vir natuurgidse, toerleiers en daar is wildboere wat dit met ander bedrywighede soos fotografie-kursusse, opleiding om wildgeregte voor te berei, ens. kombineer wat nog geleenthede skep.

Jagters bestee sowat R7 miljard per jaar in Suid-Afrika wat geleenthede bied vir vennootskappe tussen nuwe toetreders en wildboere. Jag kan ook saam met ekotoerisme benut word wat bykomende werkgeleenthede kan skep wat wissel van kampwerkers tot beroepsjagters. Die trofeejagbedryf sorg vir ʼn inkomste van R1,65 miljard en dit bied meer gevorderde werkgeleenthede en toetredingsmoontlikhede.

Daar is groter uitdagings om ontluikende boere in die kommersiële wildboerdery en -teling op te neem omdat dit groot beleggings verg. Boere wat tot dié vertakking wil toetree, sal hulself moet vergewis van die sake-omgewing waarin hulle hul begeef, die infrastruktuur wat nodig is en wat die opbrengs op hul belegging gaan wees.

Groot geleenthede

Sowat 80% van die toeriste wat die land besoek, neem ook aan die een of ander vorm van ekotoerisme deel.

Groot geleenthede in die wildvleisbedryf lê nog braak. Sowat 120 000 tot 150 000 ton wildvleis per jaar (sowat 20% van die totale rooivleisverbruik), word nou benut. Dit is ʼn unieke, gesonde en natuurlike Suid-Afrikaanse produk.

Kitshoff-Botha het gewaarsku dat wildboerdery nie ʼn vinnig-rykword-skema is nie maar toewyding en harde werk verg. Om van ontluikende tot kommersiële wildboer te vorder, is gestruktureerde ontwikkeling van landelike ondernemings en kommunale grond noodsaaklik, moet ʼn veeldoelige georganiseerde omgewing geskep en duidelike doelstellings, aksieplanne, beleide en strategieë daargestel word.

Andrew Aphane van die African Game Ranchers Assosiation (AGRA), het gesê swart boere het vroeër nie die kennis gehad oor en die waarde besef van wild nie en het gevra hoeveel voorheen benadeeldes deel in die inkomste van die meer as R7 miljard van die bedryf.

Baie gemeenskappe sit met wild op hul grond, maar weet nie wat die waarde daarvan is nie, wat om daarmee te doen, hoe om dit te ontwikkel en te benut nie. Baie van hulle het nie toegang tot markte nie en as hulle dit nie kan bemark nie, het hulle nie geld vir voer vir die diere nie.

Die uitdagings is onvoldoende toegang, eienaarskap en benutting van grond, gebrekkige ontwikkeling van infrastruktuur en ondersteuning vir voorheen benadeelde entrepreneurs, te min wild om mee te begin boer, gebrek aan voldoende strukture in gemeenskappe, ʼn tekort aan tegniese vaardighede en onvoldoende toegang tot finansiering.

As die regering geld bewillig, word dit dikwels nie reg aangewend nie en gaan verlore. Wat nodig is, is mense, en veral kundige wildboere, om vrywillig betrokke te raak en nuwe wildboere te ondersteun en te onderrig, anders is dit ʼn doodloopstraat.

Antwoorde op vrae

Die koedoe is naas leeus en buffels die gewildste op jagters se lys.

Die vrae wat beantwoord moet word, is: Wat het die bedryf tot nou toe gedoen, het die nasionale en provinsiale regerings genoeg gedoen en wat kan gedoen word om ʼn werklike verskil te maak om ʼn beduidende hervorming in die bedryf teweeg te bring?

AGRA se leuse is: Niks oor ons sonder ons nie. “Ons moet as swart wildboere met die private sektor en die regering saamwerk om ons hervormingsdoelwitte te bereik.”

Xola Mkefe, direkteur van natuurlewe-ekonomie van die Departement van Omgewingsake, het gesê die grootste uitdagings vir die wildbedryf is die bekamping van armoede, werkskepping, die uitskakeling van ongelykhede en ekonomiese groei.

Hy het verwys na die daarstelling van die Wildlife Economy Lab, ʼn gesamentlike instelling van die Departement van Toerisme en van Omgewingsake met die oogmerk om ʼn ekonomie te vestig wat tot die welvaart van alle Suid-Afrikaners sal bydra.

Die ideaal is om ʼn natuurlewe-ekonomie te skep wat met 10% per jaar sal groei tot minstens in 2030 en waarin teen 2030 minstens 30% van die ondernemings op 5 miljoen hektaar deur voorheen benadeeldes besit sal word en 4 000 voorheen benadeeldes klein, medium en mikro-ondernemings in die natuurlewe-ekonomie sal besit. Die oogmerk is om in die tyd 100 000 nuwe werkgeleenthede te skep.

Identifiseer grond

Die eerste inisiatief is om 10 miljoen hektaar grond te identifiseer en te oormerk vir die hervorming van die natuurlewe-ekonomie deur middel van ʼn grond-oudit. Die tweede is om ʼn wildlewe ondersteuningseenheid tot stand te bring om bestaande ondersteuningsmeganismes te gebruik om nuwe toetreders tot die bedryf by te staan.

Hierdeur word beoog om teen 2030 minstens 300 000 stuks wild in swart besit te plaas met ʼn jaarlikse mikpunt van nog 15 000 stuks wild. Sedert die totstandkoming van die Lab het die regering 768 stuks wild uit ʼn moontlike 1 000 geskenk waarvan min gevestig is weens probleme met die vang- en vervoerkoste.

Hy het gesê daar is groot uitdagings om die jeug by die wildbedryf betrokke te kry. Altesame 3,8 miljoen jeugdiges is werkloos en meer as 50% van die jeug het nog nooit gewerk nie. Meer as 65% van die werkloses in SA is jeugdiges, 55% van hulle het nie matriek nie en swart meisies ly die ergste onder werkloosheid. Werkgeleenthede in die wildbedryf vereis spesifieke vaardighede.

Sy vrae was: Hoe verseker ons hervorming, vrywillig of deur wetgewing, hoe bereik ons werkbare vennootskappe tussen gemeenskappe en die private sektor en hoe lok ons beleggings na die bedryf om dit inklusief te maak?

Entrepreneurs gekort

Christo van der Rheede van Agri SA het gesê daar is geleenthede vir entrepreneurs in die wildbedryf. Trouens, sonder entrepreneurs gaan die bedryf nêrens kom nie. Die entrepreneur in die wildbedryf moet bereid wees om kapitaal te waag om ʼn wins te maak. As hy met iemand anders se geld werk, het hy niks om te verloor nie. Daarby moet hy bereid wees om mense in diens te neem en te ontwikkel, tegnologie doelgerig te gebruik en om vindingryk ekonomiese hulpmiddels volhoubaar in verbruikersgoedere te omskep.

Daarvoor is ʼn visie en missie, ʼn waardestelsel, bemarkingstrategie, finansiële bestuur, produkte en/of dienste, goeie administrasie, voldoende infrastruktuur, veiligheid en sekuriteit, monitering, evaluasie en goeie kommunikasie en ondersteuning nodig. Baie mense loop geleenthede mis omdat dit in oorpakke geklee is en na werk lyk, het Christo gesê.

Tydens ʼn paneelbespreking was dit duidelik dat grondbesit en finansiering die grootste struikelblokke is. ʼn Woordvoerder van ʼn kommersiële bank en die Landbank het gesê hulle is besig om stelsels en strategieë te ontwikkel wat die uitdagings, wat eie is aan die Afrika-tradisie, te kan hanteer. – Andries Gouws, Veeplaas

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY