Wildbedryf geskok oor mishandeling van wild op Verkeerdevlei-plaas

Estimated reading time: 4 minutes

Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) het die omstandighede waaronder ‘n luiperd vir meer as vyf maande in ’n piepklein vervoerwa aangehou is, ten sterkste veroordeel.

“Dis ‘n skreiende skande en die verantwoordelike persoon of persone moet met die volle krag van die gereg vasgevat word,” het Richard York, uitvoerende hoof van WRSA, aan AgriOrbit gesê. “Hierdie tipe wreedheid teenoor diere plaas die hele bedryf in ’n swak lig en dit moet met wortel en tak uitgeroei word.”

Haglike toestande

York het gereageer op ‘n persverklaring wat die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging op 1 Maart uitgereik het. Luidens die verklaring het inspekteurs van die Bloemfonteinse DBV, Virginia DBV en die Vrystaatse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, in Januarie ‘n skokkende ontdekking gemaak toe hulle ‘n wildsplaas, waar daar met predatore geteel word, in die Verkeerdevlei-area besoek het.

Die reuk van urine, ekskresie en ontbinde karkasse is tesame met ‘n luiperdwyfie in ‘n 2m x 1,5m-sleepwaentjie gevind. Hoenderkarkasse is blykbaar deur die waentjie se klein gleufies vir die dier gevoer.

Buiten vir die groot kat, het die inspekteurs ook twee bakoorvosse en sewe dassies gekonfiskeer. Die luiperd is na die Old Chapel-dierekliniek in Pretoria geskuif, waar dit onder die sorg van dr Peter Caldwell aansterk. Die dier sal later na ’n goedgekeurde reservaat oorgeplaas sal word.

Arrestasie gemaak

Op 22 Februarie het owerhede die plaas weer besoek en is ’n 55-jarige man gearresteer en aangekla van veelvuldige oortredings van die Dierebeskermingswet, 1962 (Wet 71 van 1962).

Sewentig wilde diere is op die plaas gekonfiskeer, waar daar blykbaar met predatore geteel is. “DBV-inspekteurs, veeartseny-personeel en wetstoepassers was geskok om die haglike toestande te beleef waaronder talle wilde katte en bakoorvosse in vuil hokke aangehou is,” lui die persverklaring, wat aanvoer dat die diere aan talle gesondheidsrisiko’s blootgestel was.

Bloemfontein DBV se hoofinspekteur, Reneit Meyer, sê dit was ‘n emosionele dag en die toestande waaronder die diere moes oorleef is hartverskeurend. “Dit was wel verblydend om te weet dat ons aksies die diere se toekoms sal verbeter.”

Reputasieskade vir die hele bedryf

Gerhard Heyneke, voorsitter van WRSA, sê wildboere is daartoe verbind om volgens streng reëls en regulasies, in oorleg met die owerhede, op te tree ter wille van die welstand van die diere en die wildekonomie. Daarom moet die bedryf sorg dat enige wangedrag so vinnig as moontlik in die kiem gesmoor word.

“As ‘n vereniging is ons daartoe verbind om etiese, volhoubare wildboerderypraktyke te bevorder wat dierewelsyn vooropstel. Om enige dier oor ‘n lang tydperk in ‘n wildsleepwa aan te hou is onaanvaarbaar,” sê York en voeg by dat hierdie hokke uitsluitlik ontwerp is om ‘n gesedeerde dier vir translokasiedoeleindes binne ‘n kort tydperk te vervoer.

“Wildboerdery speel ‘n deurslaggewende rol in Suid-Afrika se bewaringspogings en is ‘n beduidende bydraer tot die land se ekonomie. Die bedryf se reputasie is egter op die spel weens gevalle van dieremishandeling soos hierdie.”

Lees meer oor die toekomsplanne vir die wildbedryf.

Reputasieskade vir wildbedryf

York sê enige skade aan die bedryf – reputasie of andersins – stel nie net WRSA se voortgesette bewaringswerk in gevaar nie, maar bedreig ook die werksekerheid van meer as 400 000 landelike Suid-Afrikaners.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Predatore-assosiasie (SAPA) ook die aksies van die oortreder(s) verdoem. “Elke wildprodusent en wildbewaarder moet die welvaart van diere prioritiseer en aan die land se wetgewing in dié verband voldoen,” het die organisasie in ‘n persverklaring gesê.

Beide WRSA en SAPA het die publiek aangemoedig om enige dieremishandeling by die betrokke wetstoepassers aan te meld.

Hierdie is ‘n ontwikkelende storie en verdere inligting sal bygewerk word soos dit bekend word. – Susan Marais, AgriOrbit

Popular stories