Beefmaster SA het onlangs tien Beefmasterverse aan Weston Landboukollege oorhandig as deel van die Veeplaas Skole-stoetveeprojek. Dié projek behels dat verskeie landbouskole en -kolleges in die land in samewerking met spesifieke telersgenootskappe stoeterye by die opvoedkundige instellings op die been bring as deel van hul opleiding.

Die skoolhoof van Weston Landboukollege, Douglas Robertson, het Beefmaster SA en Veeplaas bedank vir die vestiging van die Beefmasterstoet. “Ons waardeer die ondersteuning van beide Beefmaster SA en Veeplaas aan Weston opreg, veral die vertroue wat hulle het dat ons in staat sal wees om voort te gaan met die teel van stoetdiere. Dit sal waardevol wees vir die opvoeding van die seuns by Weston wat nou aan beide ’n stoetkudde en ’n kommersiële kudde blootgestel gaan word.”

Die voorsitter van Beefmaster SA in KwaZulu-Natal, Dave Armitage, sê dié telersgenootskap is bevoorreg om betrokke te wees by hierdie projek wat deur Veeplaas van stapel gestuur is. “Dit is ’n wonderlike geleentheid vir ons om ons ras aan talle jong toekomstige landboukundiges bekend te stel. Ons sien uit na ’n lang, gelukkige en suksesvolle samewerking, en is baie gretig om op enige moontlike manier betrokke te raak om verder te help.”

Izak Hofmeyr, streekbestuurder van Veeplaas in die Oos-Vrystaat en KwaZulu-Natal, het dit beklemtoon dat Veeplaas, net soos Weston en Beefmaster SA, met bemagtiging gemoeid is. “Kennis is mag, en ons almal kan hierdie land vorentoe neem deur onsself met kennis te bemagtig. Dit is ’n groot voorreg om deel van hierdie stoetveeprojek te wees en ons beste wense vergesel die leerders en toekomstige stoettelers.”

Tien dragtige verse, waarvan sommige intussen gekalf het, is deur verskeie telers in die omgewing geskenk.

Veeplaas Blouskool Santa Gertrudis-stoet gevestig

Veeplaas Wagpos Simbrastoet word gebore

Brafords nou deel van kurrikulum by Morgenzon Landbou-akademie

Veeplaas stoetveeprojek bekendgestel

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY