Wes-Kaapse RPO: Dit gaan goed met ons rooivleisprodusente

Estimated reading time: 7 minutes

Die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het onlangs sy jaarvergadering op Delsma Plaas naby Riebeek-Kasteel gehou. Buiten algemene sake is daar ook spesifiek na die toekoms van die RPO gekyk en was die tema van die vergadering “die relevansie van die RPO”.

Nico Uys, voorsitter van die Wes-Kaapse RPO, het na afloop van die geleentheid gesê die boodskap was baie duidelik. Die RPO en ander bedryfsorganisasies is hier om te bly. “Ons het nie ‘n ander keuse as om ons bedryfsorganisasies te ondersteun en by te dra tot hul befondsing nie. Die RPO moet aanhou met wat hy doen. Die organisasie maak van onder af op elke vlak ‘n verskil. Die uitdaging is om elke produsent betrokke te kry,” het Uys gesê.

Kyk saam na die Plaas TV-insetsel oor die vergadering hier:

Hy het in sy voorsittersrede gesê dit gaan, buiten in die noordelike dele van die Wes-Kaap, goed met die rooivleisbedryf in die provinsie. “Ons mag nie kla nie.”

Slagtings het na die lang droogte en kuddeboufase teruggekeer na normaal. Slagsyfers het van ongeveer 10 000 skape per week in Mei verlede jaar na 18 000 tot 20 000 per week gestyg. Die nadeel wat die hoër slagsyfer bring is dat die produsenteprys onder druk is, maar met die hoër produksie wat nou moontlik is na die droogte, kan produsente steeds meer geld maak, het hy gesê.

Lees meer oor RPO Noord-Kaap hier.

Kwessies wat rooivleisbedryf raak

Jaco van den Berg, onder-voorsitter van die Wes-Kaapse RPO, het gesê hoewel dit goed gaan met die bedryf, is daar ‘n paar kwessies wat die rooivleisbedryf steeds kwel. “Ons sit nog steeds met die bek-en-klouseer-wolk wat oor ons bedryf hang.” Die Wes-Kaap het nog geen uitbrekings van die siekte gehad nie en hy het produsente bedank dat hulle die nodige biosekuriteit toegepas het om die uitbreking van die siekte te voorkom.

Hy het ook gesê entstoftekorte is een van die mees kritieke probleme wat tans in die bedryf ervaar word. Dit het reeds ‘n groot impak op die bedryf en dit kan vererger as daar nie dringend aandag aan gegee word nie. “Gelukkig is die privaatsektor nou betrokke en is daar vordering gemaak ten opsigte van entstofvervaardiging. ‘n Entstof teen bloutong is byvoorbeeld onlangs geregistreer en daar behoort van Augustus 2023 voldoende hoeveelhede entstof beskikbaar te wees.”

Die onvermoë van Eskom om voldoende elektrisiteit te voorsien het ook ‘n nadelige impak op die rooivleisbedryf. ‘n Voldoende koueketting is van kardinale belang in die bedryf en met die hoeveelheid beurtkrag wat daagliks toegepas word, is die koueketting onder druk en is dit veral die klein sake-ondernemings wat onder groot druk is, het Van den Berg gesê.

Lees meer oor die RPO Noord-Kaap jaarvergadering hier.

Die uitdagings is groter as wat ons dink

Daneel Rossouw, funksionele hoof van landbou by Nedbank, het gesê as die rooivleisbedryf in die toekoms relevant wil bly, en die geleenthede op die uitvoermark wil benut, is daar ‘n paar uitdagings wat oorbrug moet word. “As ons byvoorbeeld kyk na verbruikersvoorkeure en hoe verbruikers dink oor waar vleis vandaan kom, is daar ‘n dinge waaraan die bedryf intern aandag sal moet gee. Die uitdagings is dalk groter as ons dink en gaan baie werk vat om dit oor die volgende paar jaar reg te maak,” het hy gesê.

Hierdie is nie nuwe uitdagings nie. Die kwessie van biosekuriteit en die uitdagings wat daarmee saamgaan is veral ‘n knelpunt. Saam met biosekuriteit is die onbeheerde beweging van diere ‘n baie groot probleem. Dit is ‘n wesenlike uitdaging in die noordelike provinsies se informele sektor waar daar geen reëls en beheer is nie, is dit ‘n groot probleem, het hy gesê.

Nog ‘n kwessie is naspeurbaarheid. In die vrugte- en wynbedryf is daar reeds naspeurbaarheid van die plaas tot op die verbruiker se tafel. Die verbruiker weet presies wat hy/sy kry, wat die gehalte van die produk is, waar dit geproduseer is en in baie gevalle ook onder water omstandighede dit geproduseer is.

Indien jy die rooivleisbedryf hiermee vergelyk, is dit duidelik dat daar nog ongelooflik baie werk in die lewendehawebedryf gedoen moet word om dié bedryf as ‘n volhoubare uitvoerder te vestig. “As ons die uitdagings baasraak en dit positief gebruik om nuwe markte te vestig, sien ek ‘n blink toekoms vir die lewendehawebedryf,” het Rossouw gesê.

Groter uitvoermark vir rooivleis nodig

Dewald Olivier, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisbedryfsdienste, het gesê Suid-Afrika en die res van Afrika eet wel rooivleis. Alles wat ons in Suid-Afrika produseer, word opgeëet. Sowat 96% word plaaslik verbruik en 4% word uitgevoer.

“Die probleem is dat ons nie genoeg vir ons rooivleisprodukte kry nie. Om prysstabiliteit te kry, het ons groter uitvoermarkte nodig.”

Kyk Plaas TV se insetsel oor die Rooivleisbedryfsdienste hier.

Hy het ook gesê dat naspeurbaarheid is nie oplossing vir al die probleme isnie. Dit beteken nie alles sal skielik regkom as jy naspeurbaarheid het nie. Dit is maar net nog ‘n gereedskapstuk wat ons het om sekere goed te kan doen.

Die rooivleisbedryf moet huis opruim

James Faber, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het die RPO se Visie 2030 vir winsgewendheid en met die afgevaardigdes bespreek. Hy het gesê die rooivleisbedryf word gesien as die slapende reus van die Suid-Afrikaanse landbousektor. Met die RPO se Visie 2030 is daar ‘n potensiaal om R12 miljard by die netto waarde van die rooivleisbedryf te voeg, maar dan moet die bedryf sy huis in orde kry.

“Dit is belangrik dat die bedryf sy eie polisieman moet wees. Produsente is die bedryf se ore en oë op die grond. Praat maar oor die buurman wat nie by die reëls hou nie. Dit sal help om struikelblokke rondom sake soos bek-en-klouseer uit die weg te ruim. Dit beteken egter ook dat jy as produsent jou eie huis in orde moet kry en net die regte dinge moet doen,” het Faber gesê.

Meld veediefstal aan, al is dit ‘n frustrasie

Louis Wessels (snr), voorsitter van die Wes-Kaapse Veediefstalkomitee, het gesê veediefstal bly ‘n emosionele saak by produsente. Dit is ‘n probleem wat toeneem en kan net bekamp word as die produsente, die polisie, aanklaers en landdroste saamwerk. Gelukkig is daar in die Wes-Kaap goeie samewerking tussen die verskillende partye.

Hy het ‘n beroep op produsente gedoen om veediefstal aan te meld. “Ek weet dit is ‘n frustrasie, maar dit is al manier om meer toerusting en mannekrag te kry om die probleem te bekamp. Veediewe is meestal in die nag aktief en die lede van die veediefstaleenheid moet dikwels na ure werk om die skelms te vang,” het Wessels gesê. – Hugo Lochner, AgriOrbit

RSG Landbou: 2 Oktober 2023 – geborg deur Plaas Media

Goeie nuus vir landbou en inwoners wat afhanklik is van water uit die Kougadam...

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is...

Strategies for managing seasonal infertility in pigs

Estimated reading time: 7 minutes The phenomenon of seasonal infertility among pigs is real,...

Avoid unilateral changes to the employment contract

Estimated reading time: 4 minutes The employment contract can be of immense value to...