Wes-Kaapse Jongboer van die Jaar-finaliste aangewys

0
419
Agri-tourism

Die finaliste vir die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar 2017 is op Dinsdag 18 April bekendgemaak. Die wenner word op Woensdag 24 Mei aangekondig. Die finaliste is soos volg:

Cornel Landman, plaas Karoolusern, Oudtshoorn

Cornel boer al vir agt jaar op die plaas Karoolusern in die Volmoed-omgewing by Oudtshoorn. Hy is ’n lusern- en graanboer en bedryf ook ’n melkery, lusernmeel-fabriek en voerkraal vir lammers. Toe voëlgriep in Oudtshoorn uitgebreek het, het Cornel sy volstruisboerdery gestaak en ander opsies oorweeg. Met die volop lusern in die Oudtshoorn-omgewing het hy besluit om na ’n volvoermelkery en skaapvoerkrale oor te skakel en het hy lusernlande begin vestig. Dit is hoe die lusernmeel-fabriek ontstaan het. Dit is vir hom belangrik om opkomende lusernboere te help.

Danie Viljoen, plaas Lushof, Prins Alfred’s Hamlet

Danie is die bestuurder van Graaff Fruit se plaas, Lushof, by Prins Alfred’s Hamlet in die Warm-Bokkeveld. Hy boer al vir 20 jaar met kern- en steenvrugte soos pere, appels, perskes, nektariens, pruime en appelkose. Danie sê hy is gebore met ’n passie vir plante, grond, water en alles wat groen is. Danie sê jong boere moet die landbou aantreklik laat lyk om beleggings te lok.

Gert Joubert, plaas Meulrivier, Bo-Kammanassie

Gert is al vir 19 jaar by boerdery betrokke en is die afgelope tien jaar die plaasbestuurder van Meulrivier in die Bo-Kammanassie by George, waar met sagtevrugte, skape en beeste geboer word. Gert is hoofsaaklik verantwoordelik vir die bestuur van die appels, pere en pruime, asook die bestuur van weidings en die veevertakking. Hy is op hoogte van nuwe kultivars, opleistelsels en snoeimetodes, en deel sy kennis gemaklik met ander.

Johann Nel, Hoëkraal-landgoed, Suurbraak

Johann boer al vir agt jaar op Hoëkraal-landgoed naby Buffeljagsrivier in die Overberg met melkbeeste, graan, skape en Boerbokke. Hy is steeds besig met uitbreidings aan die melkery en sedert hy die plaas se bestuur in 2011 oorgeneem het, is die skaapvertakking ook uitgebrei. Deesdae boer Johann ook met Boerbokke om die onbenutte weiding in die klowe doeltreffend te benut.

Sias Reynolds, plaas Kamferskraal, Beaufort-Wes

Sias boer al vir agt jaar op die plaas Kamferskraal by Beaufort-Wes met Angorabokke, Merino’s, beeste en lusern. “Ek is bevoorreg dat my oupa en pa albei uitstekende produsente was en dat ek ’n goeie wegspring gehad het. Ek probeer die boerdery met ’n vars, positiewe aanslag benader en hoewel ek die status quo respekteer, probeer ek ook om die boerdery te laat groei deur buite die boks te dink,” sê hy. Sias sê hy is nie te trots om by ander te leer nie. – Persverklaring

 

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY