Sunday, May 28, 2023

Wes-Kaap Jongboer van die Jaar: Só lyk die kandidate

Estimated reading time: 4 minutes

Sewe kandidate het op 23 Mei aanbiedings voor ‘n span beoordelaars tydens die Agri Wes-Kaap/Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie gelewer. Met hierdie geleentheid, wat by Santam Insurance in Bellville plaasgevind het, kon kandidate hul bestuursfilosofie en tegniese vaardighede met ʼn paneel beoordelaars deel. Die paneel het bestaan uit deskundiges vanuit verskeie vakgebiede en sal vanaf 29 Mei tot 1 Junie elke kandidaat op sy plaas besoek.

Lees meer oor die Agri Noordwes jongboerwenner hier.

Die beoordelaars is Inus Oosthuisen, ʼn vrugteprodusent van die Koue Bokkeveld, Sas Oosthuizen, ʼn vee- en pluimveeprodusent van Wellington, André Bloem, arbeidskenner, Pieter Plaatjies van Santam, FNB-landbou-ekonome Arno Cloete en Andries van Zyl, en Jannie Strydom, landbou-ekonoom en uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Lees meer oor die Vrystaat Landbou jongboerwenner hier.

So lyk vanjaar se kandidate

Christi van den Heever (38) boer op die plaas Rietfontein in die Koue Bokkeveld met appels, pere, kersies, wingerd en beeste. Christi streef daarna om winsgewend te bly en mededingend te wees, om markgunstige vrugte van die regte kwaliteit optimaal en volhoubaar te produseer, en om sy boerdery voortdurend te verbeter en aan te pas.

Eben Schellink (30) besit ‘n gemengde boerdery op Driefontein naby Malmesbury en boer hoofsaaklik met koring, kanola en Merino’s. Eben glo ‘n jong boer moet ‘n goeie besigheidspersoon wees wat die volhoubaarheid van hul besigheid kan verstaan en ook die nodige deursettingsvermoë het om tot die beste van hul vermoë te werk en sodoende maksimum uitset te kry.

Johannes Erasmus (33) boer in die Robertson-omgewing met wyndruiwe, sitrus, perskes en groente. Johannes glo in deursettingsvermoë, harde werk, innovering en goeie beplanning. Hy streef daarna om ‘n besigheid te bedryf waarop sy voorgeslagte trots sou gewees het, en wil die plaas so ontwikkel dat verskeie vertakkings mekaar kan aanvul.

Johan Swart (30) boer in die Overbergdistrik naby Riviersonderend met kleingrane (gars, koring, hawer en kanola) en wolskape. Die belangrikste les wat Johan geleer het, is om aanpasbaar en innoverend tydens uitdagende tye te wees. Sy toekomsvisie is om vertakkings op sy plaas uit te brei en optimaal te ontwikkel. Hy wil ook sy werksmag voortdurend bemagtig.

Pieter Janse Gildenhuys (35) besit ‘n gemengde boerdery in die Heidelbergdistrik. Die boerdery bestaan uit kleingraan, koring, gars, kanola en lusernweiding asook ‘n Merinokudde. Pieter glo dat Suid-Afrikaanse boere van die beste in die wêreld is en dat ʼn goeie boer gedrewe en tog nederig is. ‘n Goeie boer is ook iemand wat goed kan beplan, aanpasbaar is, en steeds hoop en glo selfs in moeilike tye.

Ricard Myburgh (31) boer met appels en pere naby Vyeboom in die Overbergdistrik. Sy toekomsvisie is om een van die top vrugteboere in die land te wees. Hy meen goeie tydsberekening is krities en dat ʼn boer sy plaas goed moet ken. Hy is insetgedrewe en wil graag meer tegnologie in sy boerdery gebruik om sodoende volhoubaar te kan boer.

Wimpie van Niekerk (32) bedryf hoofsaaklik ʼn saaiboerdery op Caledon, asook melkbeeste, skape en appels en pere. Wimpie glo dat daar altyd iets is om te leer, en sal nie huiwer om kundiges in die bedryf te nader om sy kennis te verbreed nie. Hy glo dat produsente in Suid-Afrika vasbyters is wat deurlopend planne moet beraam om vooruit te boer.

Die top drie kandidate en die wenner sal tydens ʼn gala-aand op 14 Junie in die Paarl aangekondig word. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap