Kuilvoerkompetisie
Kuilvoerbunkers by Westend Landgoed.

Die agtste Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie was ’n reusesukses en ‘n voormalige ‘kuilvoerkoning’ het vanjaar weer die septer geswaai. Hano Lombard van Westend Landgoed en sy bestuurder, Pieter Barnard, kraai vir die vierde keer koning met ‘n mieliekuilvoerbunker wat die mieliekategorie en algehele kompetisie gewen het.

Read it in English

Elanza Fouché van Saamstaan Boerdery en haar bestuurder, Robbie Eksteen, het skoonskip gemaak in die voersorghumkategorie, met Johan Mostert van Dassenvaley wat eerste plek in die hawerkategorie behaal het.

Plaas Media se kuilvoerkompetisie, wat jaarliks onder die vaandel van Veeplaas en Stockfarm aangebied word, het dié keer gespog met 103 inskrywings – die meeste nóg sedert sy ontstaan – asook twee nuwe prysborge.

Vanjaar se borge

Santam Landbou was vanjaar weereens die naamborg van die kompetisie, en het reeds bevestig dat hulle weer aanboord is vir 2022 se negende kuilvoerkompetisie. Twee nuwe borge het vanjaar hul buiging gemaak: Labworld en Claas/Kempston Agri. Labworld was reeds voorheen betrokke as diensverskaffer wat die ontleding van die kuilvoermonsters betref, maar het vanjaar ook as borg opgetree met aansienlike waardetoevoeging wat die monsterneming betref. Claas/Kempston Agri het al die toerusting wat deel vorm van die monsternemingsproses, geborg.

Soos in ander jare het verskeie deelnemende maatskappye as prysborge vir die algehele wenner, kategoriewenners, asook vir tweede- en derdeplekkandidate in die kategorieë opgetree. Vanjaar se borge was Pannar Saad, Nutribase, Strapping & Profile, Kemin Industries en Hurwitz Farming. Een van die vereistes van prysborgskap is dat die borg ook kuilvoer moet inskryf.

Kuilvoerkompetisie
Borge en rolspelers in the Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie wat die aanlyn-aankondiging van die kuilvoerkoning saam Plaas Media gekyk het. Agter van links is Timo van der Vyver van Kempston Agri, wat die borg CLAAS SA verteenwoordig het, Emil Pretorius van die naamborg Santam Landbou, Elrisa Taljaard, laboratoriumbestuurder van Labworld wat ‘n borg is en ook die monsteranalise hanteer het, Hanlie Kroese, Santam Landbou, Heinrich Meyer, eienaar van Strapping and Profile Manufacturers en borg, en Lynette Louw, uitvoerende hoof van Plaas Media, die kompetisie-eienaar.

Plaas Media sal ook binnekort ‘n nuwe borgaansoekproses bekendmaak. Prysborgskappe is baie gewild en dit was nodig om ‘n formele proses daar te stel sodat verskillende deelnemende maatskappye die geleentheid kan kry om pryse te borg. Hou die pers dop vir meer inligting hieroor.

’n Rekordgetal inskrywings

Uit die rekord 103 inskrywings was 72 mieliekuilvoer, 18 kleingraankuilvoer (hawer), sewe voersorghumkuilvoer en ses kuilvoerbale (toetskategorie). ’n Totaal van 23 maatskappye en produsente het hul kliënte of eie plase ingeskryf. Elf van die maatskappye was nuwe toetreders tot die kompetisie.

Maatskappye wat deelgeneem het is AFGRI Veevoere, Nova Voere, Welgemoed Plaas, Kemin Industries, RCL Foods/Epol, Nutribase, Meadow Feeds Paarl en Meadow Feeds Natal, Winterstorm Investments, Pannar Saad, Sparta Baby Beef, Strapping & Profile, EC Contracting, Kameeldrift Voere, Hurwitz Farming, Saxeni Agric, White Gold Farms, Malati Farm, JW Nel & Seun Boerdery, Lactimar, Mas Corporation, Limpopo Dairies, Pioneer, en Envarto.

Twee van hierdie maatskappye neem al van die eerste jaar af ononderbroke in die kuilvoerkompetisie deel – AFGRI Veevoere, wat tot op datum die meeste inskrywings gehad het en elke jaar deelneem, asook Sparta Beef, wat elke jaar inskryf en die wenners van die heel eerste kompetisie was.

Die monsternemingsproses

Monsterneming is deur vier studente van verskillende plaaslike universiteite uitgevoer – Gerrit Putter en JG Els van die Universiteit van die Vrystaat, Timothy Chilemba van die Universiteit van Pretoria, en Henlo Smit van die Universiteit van Stellenbosch. Richardt Venter van AgSci Unlimited, koördineerder van die kompetisie, het die studente vooraf in die monternemingsproses opgelei.

Kuilvoerkompetisie
Kuilvoer word gesny op Westend Landgoed. Aspekte soos snylengte asook kuilvoerkompaksie word baie ernstig opgeneem.

Die monsters is deur dr Elrisa Taljaard en haar span by Labworld getoets. Die data-ontleding is deur die stigter en beskermheer van die kompetisieprotokol, prof Robin Meeske van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Outeniqua Navorsingplaas, gedoen.

Wenners in die kuilvoerkompetisie

Kompetisie onder vanjaar se inskrywings was straf, veral in die mielie- en hawerkategorieë. Die hawerkategorie het drie vorige kategoriewenners onder die top vier finaliste opgelewer, terwyl die mieliekuilvoerkategorie drie vorige kategorie- en algehele wenners onder die top vyf finaliste gehad het. Die top tien mielie-inskrywings was gelyk verdeel tussen bunkers en silosakke.

Kuilvoerbale was weereens as ’n toetskategorie aangebied en ’n nuwe wenner is vanjaar gekroon:

  • 3de plek: Emje Ferreira van Saxeni Holdings, ingeskryf deur Saxeni Agric. Hulle was ook die toetskategoriewenner in 2020.
  • 2de plek: Kempen Nel van JW Nel & Seun Boerdery, eie inskrywing.
  • 1ste plek: Burger Marais van Exact Silage, ingeskryf deur Kameeldrift Voere.

Die voersorghumkategorie spog ook met ’n nuwe wenner dié jaar:

  • 3de plek: Pieter Hamman van Berg en Dal Boerdery, vir sy grondbunker wat deur AFGRI Veevoere ingeskryf is.
  • 2de plek: Jarren Hurwitz van Hurwitz Farming, wat een van hul kuilvoersakke ingeskryf het. Hulle was ook die sorghumkategoriewenner in 2019 en 2020.  
  • 1ste plek: Elanza Fouché van Saamstaan Boerdery, vir ’n grondbunker wat deur AFGRI Veevoere ingeskryf is.  

In die hawerkategorie het ’n vorige kategoriewenner weer sy plek bo ingeneem:

  • 3de plek: Awie Erasmus van De Draay, vir ’n kuilvoerhoop wat Meadow Feeds Paarl ingeskryf het. Hy het die kategorie in 2019 gewen.
  • 2de plek: Bull van Rensburg van Groenwei Boerdery, vir ’n grondbunker deur EC Contracting ingeskryf. Bull was die 2020-wenner van hierdie kategorie.
  • 1ste plek: Johan Mostert van Dassenvaley, vir sy grondbunker wat deur AFGRI Veevoere ingeskryf is. Hy het die kategorie in 2018 gewen.

Die mieliekategorie verwelkom ook ’n vorige kategorie- en algehele wenner terug in die eerste en tweede plekke:

  • 3de plek: Ian Gerber van Gerber Boerdery Trust, vir ’n sementbunker deur AFGRI Veevoere ingeskryf.
  • 2de plek: Shane Simpson van Simpson & Son Farming, vir sy grondbunker wat Meadow Feeds Natal ingeskryf het. Shane was die mieliekategoriewenner én algehele wenner in 2020.
  • 1ste plek: Hano Lombard van Westend Landgoed, vir ’n grondbunker wat deur Nutribase ingeskryf is. Hano en sy span by Westend Landgoed het in 2017, 2018 én 2019 ook hierdie kategorie en die algehele kuilvoerkompetisie gewen.
Kuilvoerkompetisie
‘n Kuilvoermonster wat tydens die monsternemingsproses by Westend Landgoed geneem is.

Gelukwensinge aan al die wenners in die onderskeie kategorieë, maar ook die deelnemers wie se kuilvoer jaar na jaar merkbaar verbeter. Skaf gerus die Januarie-uitgawe van Veeplaas aan om meer te lees oor die kompetisiedata en -tendense, en skakel op die Plaas TV YouTube-kanaal in om na die aankondiging van die wenners te kyk. – Persverklaring, Plaas Media

Vir meer inligting oor 2022 se kompetisie asook borgskappe, kontak Deidré Louw by 066 231 2430 of deidre@plaasmedia.co.za.