
Estimated reading time: 4 minutes
Na ’n afwesigheid van drie jaar kon die Weidingsvereniging van Suider-Afrika (WVSA) onlangs vir die 57ste keer sy jaarlikse kongres aanbied. Die drie-dag kongres en twee dae van werkswinkels het saam oor ’n volle werksweek gestrek.
Die eerste werkswinkel het op die gebruik van wolkverwerkingsplatforms (cloud computing) vir omgewingsanalises gefokus, terwyl die tweede oor beleid en praktyk rondom hulpbronbestuur en -bewaring gehandel het.
Volgens die uittredende president van die vereniging, dr Igshaan Samuels van die Landbounavorsingsraad (LNR) in die Wes-Kaap, was die kongres op twee vlakke besonders. Aan die een kant het die Covid-pandemie organisasies gedwing om virtuele kommunikasie te verbeter, met die gevolg dat die kongres op ’n hibriede basis aangebied kon word, met bykans ewe veel kongresbywoners aanlyn as in persoon.
Sprekers vanuit ander dele van die wêreld kon ook deelneem, sonder om die reiskoste na die Aldam-konferensiesentrum in die Vrystaat aan te gaan.
Aan die ander kant het die kongres weereens die hoë vlak van navorsing in veld- en weidingsbestuur weerspieël, en het die program ’n goeie balans van verskillende brandpunte in die bedryf gehandhaaf.

Lees meer oor kleinvee en weiding hier.
Samewerking en kontinuïteit
“Een van die voordele van kongresse is die geleentheid vir navorsers om te netwerk en notas te vergelyk. Heel dikwels lei hierdie informele gesprekke tot samewerkingsprojekte in die toekoms,” het hy gesê.
’n Baie verblydende aspek was die aantal jong navorsers wat hul projekte en resultate voorgelê het. “Ek dink ons vereniging verteenwoordig ’n gesonde balans van jong en gesoute navorsers. Die kongres bied die ruimte waarbinne jong navorsers met gerespekteerde lede van die bedryf kan skouers skuur. Dit dra by tot die konstitusionele kennisbasis wat belangrik is vir kontinuïteit in die bedryf.”

Covid-19 bied ‘sabbatsverlof’
Een van die ironiese voordele van die Covid-pandemie was dat baie navorsers skielik die tyd gehad het om van hul navorsingsresultate op te skryf en in wetenskaplike artikels te publiseer. Heelwat artikels het dus die afgelope drie jaar die lig gesien. Dit is uiters waardevol omdat die kennisbasis in die bedryf aansienlik verbreed is.
Die kongres het uit 14 sessies bestaan, met temas wat gewissel het van klimaatsverandering tot bosindringing en indringerspesies, bewaring en herstel van veld, die onlangse sprinkaanplaag in dele van die land, aangeplante weidings, weidingstelsels vir veldherstel, veldekologie en -bestuur, asook vee- en wildbestuur.
Lees meer oor die Suidwesdoring-probleem in die Noord-Kaap hier.
Waak teen radikale ingryping
Die gasspreker tydens die opening van die kongres was pas-afgetrede prof Nico Smit van die Departement Vee-, Wild- en Weidingswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy het oor sy 36 jaar as navorser in savanna-ekostelsels, met spesifieke klem op bosverdigting, uitgebrei.
Hy het gewaarsku dat pogings om bosverdigting met radikale maatreëls te probeer neutraliseer, waarskynlik eerder tot erger verdigting sal lei. Die antwoord lê eerder in ’n konserwatiewe lang-termyn benadering.
Die vereniging het hom tydens die kongres vereer met ’n toekenning vir sy jarelange diens aan die bedryf.

Lees meer oor hoe Agri Noordwes ernstige landbou-kwessies takel hier.
Navorsing wat herlei na praktyk
Volgens dr Francois Deacon van die Universiteit van die Vrystaat en voorsitter van die reëlingskomitee vir die kongres, was die bydraes wat die onderskeie sprekers gemaak het van wêreldklas gehalte. “Gras bly die basis van enige veeboerdery. Dit is waarom navorsing rondom die doeltreffende en volhoubare aanwending van hierdie hulpbron so belangrik is, en waarom elke veeboer voortdurend op hoogte van nuwe navorsingsresultate moet bly,” het hy gesê.
Die Weidingsvereniging van Suider-Afrika stel hom ten doel om die volhoubare bestuur van veld en aangeplante weiding in ’n veranderende wêreld te verbeter. Dit word gedoen deur die publikasie van hoë-gehalte navorsing, ’n jaarlikse kongres waar hoogstaande wetenskaplike referate aangebied word, vertaling van die wetenskap in goeie beleid en praktyke, en menslike kapasiteitsontwikkeling om veld en weiding te bestudeer en bestuur.
Dit voorsien ook ’n forum vir transdissiplinêre debat tussen verskeie velde en ondersteun besluitnemers om die verwantskappe tussen ekostelsels, wêreldwye verandering en menslike welstand te verstaan. – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, stuur ’n epos na info@grassland.org.za of besoek www.grassland.org.za.