Die afgelope somer was katastrofies vir die meeste veeboere met reën wat te laat of gladnie opgedaag het nie. Roofdiere het waarskynlik feesgevier met die wild en vee wat natuurlik gevrek het, maar nou lê die lamseisoen vir baie boere voor en die rooijakkalse en rooikatte lek hul lippe behoorlik in afwagting af. Die Predasiebestuursforum (PMF) is gerat om veeboere van raad en inligting te voorsien vir die bekamping en voorkoming van predasie.

’n Baie positiewe onlangse wending is die aanbod van drie koöperasies om jakkalswerende sifdraad teen groot afslag aan boere beskikbaar te stel. Boere wat reeds hul lammerkampe met sulke draad beveilig het, dui aan dat predasie drasties afgeneem het. Daar is steeds diegene wat glo dat die doodmaak van roofdiere om hul bevolkings te verklein, die enigste werkbare oplossing is. Wetenskaplike navorsing en basiese ekologiese beginsels dui daarop dat dit ’n vergeefse poging is, aangesien ’n spesie wat onder druk kom, daarvoor vergoed met ’n verbete teelpoging.

Daarom verkondig die PMF, sedert sy ontstaan, die beginsel van geïntegreerde roofdierbestuur, waarin alle aspekte van ekologiese bestuur, kuddebestuur, voorkoming en remediërende aksies inmekaargeweef word om predasie op ’n aanvaarbare vlak te bring. As doodmaak van roofdiere werklik so doeltreffend was as wat sommige mense glo, was die rooijakkalse en rooikatte lankal uitgewis, maar tot op hede het ons nog nie die oorlog gewen nie.

Veral die lammerkampe op plase moet so gou as moontlik met ordentlike jakkalswerende sifdraad toegespan word sodat dit roofdiere toegang tot die kampe ontsê. Afwerende bestuursmaatreëls soos beskermende diere, klokkies, reukhalsbande en dies meer moet ook gebruik word om roofdiere van vee af weg te hou. In meer intensiewe boerdery-omstandighede werk die beskermende honde ook uitstekend terwyl alpakkas, donkiehingste en blesbokke weer in die ekstensiewe areas hul deel bydra om jakkalse en rooikatte van vee weg te hou.

Niel Viljoen, wat namens die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) geakkrediteerde opleiding oor predasiebestuur aanbied, het bewys dat predasie met feitlik 80% verminder kan word as die proses slim en korrek aangepak word. Die PMF het ’n Beste Praktyke-dokument op die webtuiste www.pmfsa.co.za onder ‘knowledge library’ waarin die hele geïntegreerde predasiebestuur verduidelik word. – Dr. Gerhard Verdoorn, PMF.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY