HomeAgri NewsWaterwese verloor waterregte-appél met koste in Konstitutionele Hof

Waterwese verloor waterregte-appél met koste in Konstitutionele Hof

Estimated reading time: 2 minutes

Nege konstitusionele regters het vanoggend eenparig met koste teen die Departement van Water en Sanitasie (DWS) beslis oor die oordraagbaarheid en verhandeling van waterregte.

Regter Mbuyiseli Madlanga het tydens sy uitspraak gesê dat DWS vir die regskoste van beide partye se regsadviseurs moet pa staan.

“Ons het hierdie wen regtig nodig gehad, want dit onderstreep die feit dat Suid-Afrika se water aan alle landsburgers behoort en dat die regering bloot die bewaarhebber is, nie die alleeneienaar nie,” het Janse Rabie, beleidshoof vir natuurlike hulpbronne by Agri SA, kort na die uitspraak aan AgriOrbit gesê.

Lees meer oor wêreldwye watersekuriteit vir landboubedrywighede.

‘n Lang regspad

Die saak het vroeg in 2018 ontstaan na aanleiding van ‘n DWS-omsendbrief waarin die Departement probeer het om watergebruiksregtehouers te ontneem van die reg om die gebruiksregte oor te dra.

Agri SA het die omsendbrief se wetlikheid in twyfel getrek en die saak is in die Pretoria Hooggeregshof aangehoor, waar daar in die staat se guns beslis is.

Die organisasie het egter teen die saak appél aangeteken en die saak is weer na die Bloemfonteinse Appélhof geëskaleer. Daar is dié keer op 8 November 2021 in die landbouers se guns beslis, toe die Appélhof beslis het dat waterregtehouers geregtig is om sulke regte oor te dra ooreenkomstig die bepalings van die Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 36 van 1998) en dat handel in sulke regte nie verbied word of onwettig is nie.

Die departement het egter gekies om teen hierdie besluit te appélleer.

Lees meer oor die monitor van die Vaal- en Oranjerivier-stelsel.

Water behoort aan almal

Rabie sê Suid-Afrika het baie grond, maar min water en daarom is dié natuurlike hulpbron so noodsaaklik vir landbou. “Dit kan regtig die sektor lamlê as ons dit nie mooi oppas nie.”

Die kommer onder landbouers was die DWS se aanslag dat produsente nie onderling waterregte (onder die wakende oog van ‘n waterbestuursraad) mag verhandel nie, maar dat DWS self wou besluit wie waterregte mag bekom, indien ‘n produsent nie daarvan wou gebruik maak nie.

“Dié uitgangspunt was problematies, omdat ‘n grondeienaar altyd ‘n risiko neem as hy of sy ‘n waterreg sou prysgee. Daarom glo ons dat dit net regverdig is dat ‘n grondeienaar vergoeding moet ontvang vir dié risiko wat geloop word.” – Susan Marais, AgriOrbit

Must Read

Cream of the crop recognised during yield competition

Estimated reading time: 2 minutes The best of the best was recently crowned at Grain SA’s Grow for Gold Awards ceremony held in Johannesburg....