Estimated reading time: 5 minutes
Een van die hoogtepunte van die Clanwilliam-ekspo was die landbou-oggend wat deur meer as 150 mense bygewoon is. Inligting oor landelike veiligheid, landboubeleid, en praktiese boerderybestuurswenke is tydens die geleentheid met die gehoor gedeel.
Die veiligheid van landelike gebiede is een van die hoofprioriteite van die Wes-Kaape regering het Anroux Marais, die Wes-Kaapse LUR vir polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, gesê. Gemeenskapsveiligheid kan ongelukkig nie net met wetstoepassing bereik word nie. Dit vereis aktiewe deelname van alle inwoners, gemeenskapsgebaseerde organisasies, sakelui, en plaaslike veiligheidstrukture.
“Ek is bewus daarvan dat die meeste boere reeds te veel in veiligheid belê en wil dus ’n beroep op alle rolspelers in landelike gebiede doen om nie in silo’s te werk nie. Span julle kragte saam en wend ’n meer gekoördineerde poging aan om landelike veiligheid te verbeter.”
Miljoene vir plaaslike veiligheid
Volgens Marais is die Wes-Kaapse regering ernstig daaroor om veiligheid in sy landelike gebiede te verbeter en het in die 2024/25- en die 2025/26-boekjaar miljoene rande aangewend en begroot om sigbare polisiëring te versterk, en vinnige reaksievermoë in landelike munisipaliteite te verbeter. Haar departement het onderneem om die kapasiteit van plaaswagte te verbeter om veediefstal, plaasaanvalle, en ander landelike misdade te verhinder. In die 2025/26-boekjaar is R5,9 miljoen begroot om plaaswagte en buurtwagte te ondersteun.
Die ministerie beoog ook om in die komende maande ’n toegeweide landelike veiligheidskoördineerder aan te stel vir ’n meer gefokusde benadering tot landelike veiligheid. Die veiligheidskoördineerder sal hom daarvoor beywer om ’n kollektiewe front teen landelike misdaad te fasiliteer, het Marais gesê.

Fokus op die positiewe
Jannie Strydom, die hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, het klem op die primêre en sekondêre landboubedrywe se substansiële bydrae tot die plaaslike ekonomie gelê. “As ons landbou uit ons landelike gebiede haal, is die kans dat ons landelike gebiede en ons dorpies gaan oorleef, skraal.”
Hy het gewaarsku teen die uitdra van ‘n negatiewe boodskap aan veral jong boere. “Ons fokus daagliks so op die negatiewe en mis eintlik die mooi van die landbou. Die boodskap wat ons as leiers in georganiseerde landbou en ook as ouer boere aan die jong boere moet oordra, is dat hulle deel is van ’n belangrike sektor in die Wes-Kaap en dat alles in die landbou nie net negatief is nie.”

Onteiening die warm patat
Strydom het klem gelê op die feit dat Agri Wes-Kaap teen die Onteieningswet gekant is. “Daar moet geen twyfel daaroor wees nie.” Die regsadvies wat Agri Wes-Kaap gekry het, is om nie nou hof toe te gaan nie.
Senior advokate se advies is om nie nou die konstitusionaliteit van die Onteieningswet in die hof te beveg nie. In artikel 25 van die Grondwet word daar reeds tot ’n mate voorsiening vir onteiening gemaak. Daarom is daar net ’n skrale kans om ’n saak oor die konstitusionaliteit van die Onteieningswet te wen.
“In die konstitusionele hof het jy net een kans. As jy die saak nou verloor, sal jy moeilik in die toekoms sukses met ander sake behaal wat ons met ’n feitestel kan wen. Ons is dus baie versigtig om nou ’n saak in die konstitusionele hof te maak”, het Strydom gesê.
Mynbou ’n groot kopseer
Strydom het ook gewys op die probleme wat mynbou- of prospekteringaansoeke vir boere inhou. In die Wes-Kaap is sowat 250 000ha in gedrang. “Van die aansoeke kom van dieselfde individue, maar net onder ander maatskappye en al afleiding wat ons kan maak, is dat daar met aansoeke gespekuleer word. Hulle dien soveel as moontlik aansoeke in en as hulle suksesvol is, gaan hulle mark toe om dit te verkoop.”
Agri Wes-Kaap is in ’n gesprek met die Departement van Minerale en Energie om die aanvanklike aansoekproses baie strenger te maak en seker te maak dat die persoon wat aansoek doen, die finansiële vermoë het om met die mynbouaktiwiteite aan te gaan indien sy aansoek slaag, het Strydom gesê.
Ondersteun jou buurman
Jan le Roux van die Le Roux-groep, ’n produsent, verpakker, en uitvoerder van tafeldruiwe en steenvrugte, en ook die Landbouskrywers Suid-Afrika se 2021 se Boer van die Jaar, het daarop gewys dat daar ’n wanopvatting bestaan dat jou buurman jou kompetisie op die uitvoermark is. “Dit is nie waar nie. Die kleinhandelaar oorsee gee nie om van wie die vrugte kom nie.”
“Die Suid-Afrikaanse boer se kompetisie is Chili, Peru, en die ander lande wat in ons tydgleuf na ons uitvoermarkte uitvoer. Al is dit moeilik, moet Suid-Afrikaanse boere bymekaar staan en mekaar help, want die swakste produk uit Suid-Afrika, en nie die beste nie, bepaal ons prys,” het Le Roux gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media


