Pieter Möller skryf die volgende in ‘n onlangse uitgawe van Veeplaas:

Die lewe het baie uitdagings waarvan soveel positief is, dat dit eintlik ’n boek sal volmaak om alles op te noem. Iemand het eendag gesê dat ’n mens jou lewe kan lei net soos jy wil, maar dat jy dit net een keer kan doen. Jy gaan dus aan die einde van die dag óf geestelik bankrot wees, óf jy sal vooruit kan kyk na ewige dividende. Hoe jy dus jou beleggings hier op aarde gaan hanteer, sal bepalend wees vir die lewe hierna.

Daarom is dit so belangrik dat ons nie tyd en energie moet mors op onbenullighede wat ons eintlik van stryk bring en op die verkeerde koers plaas nie. Die uiterste wanhoop wat baie van ons in hierdie tye ervaar omdat ons juis glo daar is nie hoop nie, beklem ons harte.

Staan saam en skreeu saam

’n Paar maande gelede het ek self ook min hoop gehad vir ons land met van die eienaardige besluite wat ons leiers neem en die rigtings wat hulle inslaan. Maar terselfdertyd het my besoeke aan ’n paar skole, waar ek met die jeug en leiers van môre te doen gekry het, asook ’n paar kuiertjies by landbouverenigings en jagtogte by vriende se plase, my weer opnuut baie hoop gegee vir ons toekoms.

Ons moet net saamstaan en weer vir dieselfde span skreeu – die wenspan! Ek vermoed dit is omdat daar ’n klomp All Black- en Aussie-ondersteuners in ons land is, dat ons moed begin verloor het. Terloops, die meeste van daardie ondersteuners was nog nooit buite die land se grense nie!

Daarom het ek steeds een lewensles wat ek by my pa geleer het, diep binne-in my hart gebêre: Ek ondersteun die plek, gemeenskap, skool, universiteit, span en wat ook al daar waar ek bly. Dis my mense en my span. Nie die klomp oorsee of anderkant die rivier nie.

Doen jou beleggings plaaslik

Goeie beleggings lewer goeie dividende. As ek plaaslik in ons eie mense en produkte belê, gaan ek verseker uiteindelik in ’n beter toekoms vir almal belê. En daarmee saam ’n uitklophou plant op die aaklige hoenders, suiwelprodukte en rooivleis wat maar net hier op ons landjie se hawens en grense gestort word, terwyl ons eie mense se besluitnemers en beleidbepalers dikwels net ’n blinde oog gooi en anderkant toe kyk.

Ons moet dit oorweeg om dalk een of ander tyd ook demonstratief ons misnoeë te kenne te gee, soos die Franse boere ’n paar jaar gelede gedoen het toe hulle hul melk in die strate gaan uitstort het.

Die toenemende oproepe van politici dat die grond teruggegee moet word, raak ook nou afgesaag. Identifiseer met klinkklare bewyse diegene wat kwansuis die grond gesteel het, en laat ons aanbeweeg. Verdeel sommer terselfdertyd die onbenutte regeringsgrond, en plaas ons kundige boere daar om as mentors op te tree en ’n “Vrede melk-fiasko” te voorkom. O ja, en hou die Guptas ver weg van die grond en projekte. Moenie eens toelaat dat hulle daar naby trou of verloof raak nie.

Weerstaan die storms

Só steek ons lewenstorms soms sonder waarskuwing op, en dikwels lei dit tot depressie of ’n gevoel van smart en mislukking. Aan die ander kant het die gelowiges egter hoop, ten spyte van ongunstige omstandighede.

Soms laat ons toe dat ons vryheid van spraak net ’n manier word om ons persoonlike denke en voorkeure te lug. En dit op sigself kan ’n gevaarlike speletjie word. Kyk maar net na die mense in ons eie omgewing wat onlangs swaar boetes opgelê is oor wat hulle op sosiale media kwytgeraak het.

Soms staan sekuriteitsvoertuie en selfs ambulanse op eienaardige plekke in ons stede, wat ons dikwels laat dink dit is ’n mors van belastingbetalers se geld. Maar hierdie voertuie staan juis gereed om dadelik in noodgevalle te kan reageer. Ons moet dus nie wanhopig wees oor waar ons onsself bevind nie. Ons is geplaas presies waar die Here ons wil hê en daarom moet ons gereed wees om Sy opdragte te gehoorsaam.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY