Die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) sal voortgaan met gesprekke met die SAPS en ander owerhede om praktiese en redelike oplossings vir administratiewe probleme wat wettige vuurwapeneienaars met die vuurwapenlisensieringsproses ervaar.

Die vereniging is teleurgesteld met die Grondwetlike Hof se uitspraak op 7 Junie 2018, wat die uitspraak van regter Ronel Tolmay in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in 2017 omgekeer het. Haar uitspraak het behels dat seksies 24 en 28 van die Vuurwapenbeheerwet ongrondwetlik verklaar is.

Die Grondwetlike Hof se uitspraak bring glad nie verligting vir die sowat 300 000 vuurwapeneienaars wat bloot vergeet het om hul vuurwapenlisensies betyds te hernu nie. Dit dwing dié eienaars om hul vuurwapens by ’n polisiekantoor in te handig om vernietig te word. Die huidige wetgewing maak geen voorsiening vir dié mense om hul vuurwapenlisensies te hernu nie.

Fred Camphor van SA Jagters sê die Grondwetlike Hof het op die grondwetlikheid van seksies 24 en 28 van die wet gekonsentreer, en glad nie aandag gegee aan ander beperkings en probleme wat met die wet geassosieer word nie. “Hoewel die hof die chaotiese administrasie en bestuur van die wet erken het, is geen oplossing voorgestel om enige van die probleme wat vuurwapeneienaars ervaar, op te los nie.”

SA Jagters se saak oor die ongrondwetlikheid van seksies 24 en 28 van die Vuurwapenbeheerwet het op die volgende beginsels berus:

  • Die wet is irrasioneel en vaag oor die beginsels en proses van lisensiering.
  • Ongelyke behandeling van vuurwapeneienaars bestaan.
  • Oortreding van die eiendomsklousule in die Grondwet.

Die Grondwetlike Hof het al drie beginsels verwerp en beslis dat seksies 24 en 28 nie ongrondwetlik is nie.

Die regsgeding tussen SA Jagters en SAPS volg op baie jare se frustrasie en probleme vir vuurwapeneienaars oor die hernuwing van lisensies en onsekerhede oor die SAPS se interpretasie en toepas van seksies 24 en 28 van die wet.

Die implikasie van die uitspraak

Die beslissing beteken dat alle vuurwapens waarvan die lisensies verval het, en dié waarvoor hernuwingsaansoeke betyds ingehandig is, nou as onwettig geag word. Die eienaar van so ’n vuurwapen kan dus krimineel vervolg word vir die onwettige besit van ’n vuurwapen.

Daarbenewens bied die huidige weergawe van die wet en die Grondwetlike Hof se uitspraak geen moontlikheid vir die herlisensiering van so ’n vuurwapen nie. Dit dwing vuurwapeneienaars om die vuurwapens by hul naaste polisiekantoor in te handig. Hulle kan dan aansoek doen vir vergoeding vir die ingehandigde vuurwapen, maar sal dit nie noodwendig ontvang nie aangesien die besluit oor vergoeding by die registrateur lê.

Die enigste moontlike alternatiewe oplossing is dat ’n vuurwapenlisensie-amnestietydperk aangekondig word. Vroeër vanjaar het die SAPS aangedui dat hulle beoog om ’n amnestietydperk van 1 Junie tot 30 November aan te kondig. “So ver as wat ons kennis strek, is geen aansoek betyds by die Parlement ingehandig vir die goedkeuring van ’n amnestietydperk nie,” sê Camphor.

As ’n amnestietydperk wel aangekondig word, maak die wet vir die volgende voorsiening:

  1. Wettige vuurwapens (insluitend dié waarvan die lisensies verval het) moet by die SAPS ingehandig word.
  2. ’n Vuurwapeneienaar sal nie vervolg word vir die onwettige besit van die vuurwapen nie.
  3. Die SAPS sal dan ballistiese toetse op die vuurwapen doen om vas te stel of dit in enige misdade gebruik is. As die vuurwapen aan ’n misdaad gekoppel kan word, kan die eienaar vir die misdaad vervolg word, maar steeds nie vir die onwettige besit van die vuurwapen nie.
  4. Die eienaar kan in die amnestietydperk aansoek doen vir ’n nuwe lisensie vir die vuurwapen wat ingehandig is.
  5. As die aansoeker aan al die vereistes voldoen, kan die SAPS ’n nuwe lisensie uitreik en die eienaar kan die vuurwapen by die polisiekantoor gaan haal.

Sonder die amnestietydperk kan vuurwapeneienaars wie se lisensie veral het, vir die onwettige besit van ’n vuurwapen vervolg word. Hoewel die regter gesê het hy twyfel of die SAPS mense sal vervolg wat vrywillig vuurwapens inhandig, het hy geen wettige beperking daarop geplaas of die SAPS beveel om die mense nie inhegtenis te neem nie.

Mense wat hul vuurwapens inhandig, het nie die opsie om vir ’n nuwe lisensie aansoek te doen nie, aangesien die wet nie voorsiening maak vir die herlisensiering van ’n vuurwapen wat onder dié omstandighede ingehandig is nie. Die regter het in sy uitspraak gesê dat die polisie nie die jurisdiksie het om ’n vuurwapen te berg totdat ’n nuwe lisensie uitgereik is nie.

Seksie 137 van die wet maak voorsiening vir vergoeding vir ’n persoon wat gedwing is om sy vuurwapen in te handig. Regulasie 92 bepaal die omvang van die vergoeding. Dit is belangrik om kennis te neem van die feit dat die registrateur die gesag het om te besluit of vergoeding betaal of nie. Vergoeding in die gevalle word beperk tot ’n maksimum van R500 vir ’n handwapen en R1 000 vir ’n geweer. Die bedrae is ver onder die waarde van die vuurwapens.

Camphor sê wetsgetroue burgers het geen ander keuse nie as om hul vuurwapens waarvan die lisensies verval het, in te handig. “Die vraag is steeds of die SAPS die kapasiteit en vermoë het om die groot hoeveelheid vuurwapens wat na verwagting ingehandig sal word, te berg.”

SA Jagters oorweeg nog die volle impak van die uitspraak asook ander moontlikhede om die saak op te los. “Die hoogste hof in die land het gepraat. Ons sal verder met die minister en ander owerhede in gesprek tree om ’n pragmatiese benadering te bespreek en om die voortslepende probleme op te los,” sê hy. – Persverklaring

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY