Vrystaat Landbou (VL) waarsku boerderygemeenskappe om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om hul mielieplantasies teen diefstal te beskerm. Dit volg nadat agt boerderygemeenskappe (Allanridge, Bothaville, Bultfontein, Koppies, Odendaalsrus, Vierfontein, Virginia en Welkom) reeds onder dié tipe misdaad deurgeloop het. Arrestasies is by Allanridge, Bultfontein en Virginia uitgevoer.

Mieliediefstal is ʼn hoogs georganiseerde misdaad wat deur groepe en sindikate bedryf word.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike veiligheidskomitee, sê dat boere tans besig is om mielielanderye te stroop en die feit dat mielies ryp is vir gebruik, maak dit ʼn gesogte kommoditeit vir kriminele wat in groot groepe saamwerk, die mielies steel en in dorpsgemeenskappe en of woonbuurte verkoop.

“Inligting dui daarop dat tot 20 persone, wat gewapen is met pangas en messe, op mielieplantasies toesak en mielies vanaf landerye stroop. Die mielies word in sakke geplaas vir bakkies om later na afsetgebiede te vervoer.” Le Roux wys uit dat dié misdaad gepaard gaan met enorme finansiële verliese vir boerderypraktyke, om nie eens te praat van die veiligheidsrisiko wat dit vir boere, hul werkers en selfs sekuriteitswagte inhou wat die landerye moet beskerm en die diewe moet konfronteer nie.

Lees meer oor Vrystaat Landbou (VL) se planne vir landbou veilingheid hier

“Mieliediefstal soos wat dit in die Vrystaat voorkom, is ʼn hoogs georganiseerde misdaad wat deur groepe en sindikate bedryf word. Dit is nie slegs ʼn misdaad waar mense wat honger is, ʼn paar mielies vanaf landerye onregmatig neem nie. Afsetgebiede, markte en geld wat hande wissel, is hier ter sprake.”

Intussen noem dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL, dat van die boere in die geteikende areas aangedui het dat hul tot soveel as R100 000 per maand vir sekuriteitswagte betaal om hul mielieplantasies op te pas en te probeer beskerm teen die geweldige ontploffing van kriminaliteit. Buys meen dié addisionele veiligheidsuitgawes, tesame met verhoogde insetkostes, kan voedselsekerheid definitief in die wiele ry.

VL het ’n dringende versoek aan die polisie op die hoogste vlak gerig om dié tipe misdaad met die nodige erns in die Vrystaat te bejeën. Dit is ʼn seisoenale misdaad wat jaarliks voorkom en wat ʼn groot negatiewe impak op volhoubare boerderypraktyke laat.

Meer oor die Vrystaat se verwagte mielieoes hier

Die polisie is versoek om op grondvlak hul misdaad voorkomingsaksies in die hoë misdaadareas met boerderygemeenskappe se aksies te belyn, ten einde die tipe misdaad te voorkom, te bekamp en effektief aan te spreek. Boere word ook versoek om hierdie tipe misdaad so gou moontlik by hul plaaslike polisie vir die nodige optrede aan te meld. – Persverklaring, Vrystaat Landbou