Estimated reading time: 2 minutes
Drie vasberade en dinamiese jongboere, wat elkeen ’n aanwins vir hul onderskeie gemeenskappe is, gaan mekaar die stryd aansê om as Vrystaat Landbou se 27ste Jongboer van die Jaar aangewys te word.
Vanjaar se kandidate is:
- Hansie Müller (36) van Viljoenskroon.
- Hennie Geldenhuys (37) van Excelsior.
- Lukas Lessing (26) van Marquard.
Hansie Müller van Viljoenskroon boer reeds die afgelope 18 jaar, waarvan sewe jaar op sy huidige plaaseenheid wat hy self aangekoop het bestee is. Hy is passievol oor sy voerkraal en werk saam met sy vrou, Adrie, volgens sy persoonlike leuse: “Not the biggest, but the best”. Benewens die voerkraal, bedryf hy ook ʼn saaiboerdery. Hansie glo dat kinders elke aand ’n bord kos moet hê en is daarom by verskeie gemeenskap-aksies in sy omgewing betrokke. Hy is ’n lid van die brandvereniging en is ook by landelike veiligheid betrokke.
Hennie Geldenhuys van Excelsior boer – in sy woorde – reeds van kindsbeen af en het ’n ware passie vir wat hy doen. Hy glo dat jy die vrugte pluk van jou harde werk en is daarom nie bang om moue op te rol en self in te spring nie. Hennie is die besturende direkteur van die familie se stroopkontrakteur-onderneming en bedryf ook sy eie saaiboerdery. Hy is deel van die plaaslike veiligheidsektor wat gereeld saam met die polisie patrollie ry. Hy en sy vrou, Franciske, ondersteun die plaaslike kleuterskool, kerke en gemeenskapaksies.
Lees meer oor die 2022 Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar hier.
Lukas Lessing van Marquard boer al vir tien jaar en wil níks anders doen nie. Hy meen die feit dat sy pa hom van jongs af by besluitneming betrek en vryheid gegee het, het positiewe resultate gelewer. Hy is tans die algemene bestuurder van die familietrust. Hy bedryf hoofsaaklik ’n saaiboerdery (mielies, soja en sonneblom) en ’n kleiner veevertakking. Lukas en sy vrou, Marné, is betrokke by hul plaaslike kerk asook die plaaslike aftree-oord, en Lukas huiwer nie om self plaaspaaie te skraap waar dit nodig is nie. Hy glo daarin dat sy werkers voordeel trek uit hul insette tot die boerdery, dat hulle versorg is en hul werk geniet.
Die wenner word op 18 April 2023 in Bloemfontein aangewys en dring outomaties deur tot Agri SA/Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie. – Persverklaring, Vrystaat Landbou