biosekuriteit
Van links is dr Shaun Morris, prof Frikkie Maré, Anelie Swemmers van VKB, Nico Buys (RPO Vrystaat voorsitter), Rachel Cloete, John Finlayson, Neil de Klerk van VKB, James Faber (voorsitter van die Nasionale RPO) en Jan Hendrik Liebenberg (RPO Vrystaat vise-voorsitter)

Estimated reading time: 2 minutes

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Vrystaat se jaarlikse kongres het op 15 Junie in Bloemfontein plaasgevind met ’n fokus op naspeurbaarheid en biosekuriteit. Nico Buys, voorsitter van die RPO Vrystaat, het klem op die makro-faktore wat rooivleisproduksie beïnvloed, gelê asook die invloed daarvan op vleispryse.

James Faber, voorsitter van die nasionale RPO, het gesels oor die RPO se Visie 2030 vir winsgewendheid. “Met dié visie is daar ’n moontlikheid om R12 miljard, in die volgende dekade, by die nettowaarde van die rooivleisbedryf te voeg, mits die bedryf homself organiseer en die probleme en uitdagings verstaan,” meen hy.

Lees meer oor RPO hoof se aftrede.

Dr Shaun Morris het oor biosekuriteit op plaasvlak gepraat. Hy raai produsente aan om op hoogte te bly van plaaslike en staatsbeheerde siektes, asook siektes wat in die streek voorkom. “Die toepassing van biosekuriteit op plase is die verantwoordelikheid van die produsente. Dit is van uiterse belang dat produsente hulself en die arbeiders beskerm teen siektes wat van dier tot mens oordraagbaar is, veral bek-en-klouseer. Dié virus word deur mense oorgedra en bly tot 48 uur, in die mangels” sê Morris.

Rachel Cloete het gefokus op die belangrikheid van naspeurbaarheid en biosekuriteit. Produsente moet versigtig wees waar hulle diere aankoop en die bestuur daarvan. Diere moet geïsoleer word voordat hulle by die kudde gevoeg word. “Die produsent is veronderstel om die nodige bio-sekuriteits verklaring siektetoetse aan te heg wanneer diere deur middel van veilings en agente verhandel word”.

Lees meer oor die onlangse RPO Noord-Kaap se kongres.

Met ’n vee-naspeurbaarheidstelsel word volledige rekords van die eienaarskap en beweging van vee deur elke stadium van die diere se lewens behou. Daarom is dit van kardinale belang dat so ’n stelsel betroubaar is. Rachel en John Finlayson, wat ’n inleiding oor die Australiese industrie se naspeurbaarheid gegee het, het albei beklemtoon hoe belangrik dit is om diere te merk. “Hoewel LITS (Lifestock Identification and Traceability System) ’n naspeurbaarheidstel is wat die beweging van diere aanteken, is dit nie ’n kuddebestuurstelsel nie,” meen hulle.

Prof Frikkie Maré het gepraat oor die rooivleisprys en die drywers daarvan. Hy het op die oorsake van die wisselvalligheid in die pryse gefokus. Hoë insetpryse, swak naspeurbaarheid en beurtkrag, veral by abattoirs om die kragopwekker se kostes te dek, verhoog pryse.

Vir meer inligting kontak gerus: wesselse1@ufs.ac.zaElené Wessels, Universiteit van die Vrystaat