Vrystaat Landbou (VL) se jongboer van die jaar word op 12 April 2018 by ’n gala-aand in Bloemfontein aangekondig. Die finaliste is in Februarie deur VL se beoordelaarspaneel, waarvan prof Pieter Fourie van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie die sameroeper is, op hul plase besoek.

Afdelings waarin hulle beoordeel word, sluit onder meer in toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking en gemeenskapsbetrokkenheid. Die belangrikste maatstawwe is bestuursfilosofie en hoe tegniese vaardighede aangewend word om dit toe te pas.

’n Woord met die finaliste

Volgens Hendrik Theron, ’n Bonsmara-boer van die plaas Wolwekop naby Dewetsdorp, bou jong landbouers aan ’n toekoms vir hul nageslag. “Jong landbouers is die opkomende leiers en dryfkrag in plaaslike gemeenskappe,” sê hy.

Reece Dedwith, ’n melkboer van die plaas Rockridge naby Parys, sê jong landbouers het ’n verantwoordelikheid om die negatiewe persepsies oor landbou te verander. “Hulle het ook ’n verantwoordelikheid om die nasie kos te gee en tot die bruto binnelandse produk by te dra.”

Wessel Hattingh, ’n saaiboer van die plaas Dipkraal naby Heilbron, sê: “Jong landbouers is ’n baie belangrike skakel in die opleiding van opkomende landbouers en in die grondhervormingsproses.” Hy meen die toekoms van landbou is in hul hande.

Volgens Nelius Ferreira, ’n Bonsmara-boer van die plaas Grootdraai naby Harrismith, is jong landbouers onmisbaar. “Want elke mens het die landbouer drie keer per dag nodig.” Hy meen hulle is ook die kern van die ekonomie. – Persverklaring

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY