Estimated reading time: 3 minutes
Boerderygemeenskappe en die landbousektor in die Vrystaat gaan ten gronde weens die gebrek aan die polisie se vermoëns in terme van kapasiteit en hulpbronne om veediefstal effektief te bekamp.
Om dié leemte aan te spreek, het Vrystaat Landbou vanaf 1 Julie vanjaar ’n privaat ondersoek-inisiatief ingestel.
Volgens Jakkals le Roux, voorsiter van Vrystaat Landbou se Landelike Veiligheidskomitee, is georganiseerde sindikate betrokke by miljoene rande se veediefstalmisdaad, en het die SAPD se veediefstaleenhede as gevolg van gebrekkige hulpbronne nie die vermoë om vinnig by misdaadtonele op te daag en sake op te los nie. Dit is op grond hiervan dat Vrystaat Landbou ’n miljoen rand bewillig het om ’n privaat ondersoekspan daarmee te taak om die polisie met ondersoeke te help en probleme op te los.
Die projek het op 1 Julie afgeskop in samewerking met LVG Sekuriteit, en sal aanvanklik op die Fezile Dabi-distrik, wat dorpe soos Parys insluit, fokus. Die doel van die projek, verduidelik Le Roux, is om privaat ondersoekers wat by die Private Security Industry Regulatory Authority (PSiRA) geregistreer is by die hoë misdaad-dorpe in te skakel.
Die privaat ondersoekers is almal oud-polisiemanne en sal veral bystand verleen by die bewaring van die misdaadtoneel, afneem van A1-verklarings, aanmelding van die saak by die SAPS, kontak en samewerking met die betrokke speurder, oorhandiging van die bewyslas, en die soektog na die gesteelde vee. Dit is egter belangrik dat, vir so ’n saak om aangepak te word, alle vee óf gebrandmerk óf getatoeëer is.
Kyk na Plaas TV se insetsel oor veediefstal.
Gratis vir Vrystaat Landbou-lede
Die diens, beklemtoon Le Roux, word gratis aan ten volle opbetaalde Vrystaat Landbou-lede verskaf en word deur verskeie rolspelers en borge befonds. Nie-lede van Vrystaat Landbou sal ook van die diens gebruik kan maak, maar sal ’n vasgestelde bedrag van R10 00 per saak in ’n spesiale veiligheidsfonds moet inbetaal.
Volgens Pieter Kempen, vise-voorsitter van die Landelike Veiligheidskomitee, is die dorpe wat deur privaat ondersoekers gediens sal word Heilbron, Mafube, Villiers/Cornelia, Kroonstad/Steynsrus en Parys/Sasolburg. Hy sê die privaat ondersoekers is reeds in die relevante veediefstal-wetgewing en misdaadtoneel-hantering opgelei.
Peet Swanepoel, afgetrede kaptein in die Nasionale Veediefstal-eenheid, is die provinsiale koördineerder van die PSiRA-geregistreerde ondersoekers. Hy is op Parys gebaseer en kan by 066 407 7899 gekontak word; sy epos is peetswanepoel86@gmail.com.
Opbetaalde lede van Vrystaat Landbou word versoek om ’n volmagvorm waarop hul lidnommers verskyn, te voltooi en aan Swanepoel deur te gee. Nie-lede kan die vasgestelde bedrag betaal en die bewys van betaling na Swanepoel se selfoon stuur. Volgens hom is die stappe om te volg as ’n veediefstal plaasgevind het eerstens om met hom in verbinding te tree, tweedens om die plaaslike polisiekantoor te kontak om die saak aan te meld, en derdens om alles moontlik te doen om die misdaadtoneel te beskerm deur mense en vee daarvan weg te hou.
Wat die identifisering van misdaadsindikate betref, sê hy dat hulle tans besig is om al die beskikbare inligting in die vorm van organogramme te verwerk om patrone en persone te identifiseer en te verbind. Taxi’s en voertuie met sleepwaens word hoofsaaklik in die nag gebruik en beweeg dan vroegoggend na die afsetpunte in hoofsaaklik Gauteng. Daar is reeds verskeie mense en afsetpunte geïdentifiseer in en om gebiede soos Sebokeng, Randfontein, Westonaria en Krugersdorp. Elke nuwe insident word ontleed en die inligting met bestaande inligting geïntegreer.
Hulle beoog om hierdie privaat ondersoek-inisiatief kwartaalliks te evalueer, sê Le Roux, en dit dan na ander hoë misdaad-dorpe in ander distrikte uit te rol. Die inisiatief, beklemtoon hy, kan net suksesvol wees as almal ’n positiewe bydrae lewer, alle vee wetlik gemerk is, en sake by die SAPD aangemeld word. – Izak Hofmeyr, AgriOrbit