
Estimated reading time: 3 minutes
Daar is oor die algemeen steeds ’n positiewe verwagting dat die Vrystaat, wat bekend is as die land se grootste mielie-produserende streek, hierdie seisoen ’n goeie oes kan lewer. Dít is ondanks reënskade aan gesaaides wat vroeër vanjaar in sekere produksiegebiede in die provinsie voorgekom het.
Omstandighede verbeter na vloedskade
Vrystaat Landbou (VL) se president, Francois Wilken, sê sommige saaiboere in die westelike gedeelte van die provinsie het erge vloedskade aan hul oeste opgedoen. Dit sluit gebiede by Bultfontein, Hoopstad, Wesselsbron en Bothaville in.
Gesaaides in hierdie gebiede is erg beskadig en in sommige gevalle vernietig. Volgens Wilken het hewige reën en vloedskade ook sy tol in gebiede in die Oos-Vrystaat geëis, maar weens redelike sonskyn- en hitte-toestande die afgelope tyd, was daar ’n mate van herstel. Ook in die westelike gebiede het omstandighede in sekere gebiede verbeter.
Hy sê dit bly egter steeds moeilik om die werklike omvang van die skade te bepaal. “Dit is een van daardie jare waar sommige van die produsente ’n rekord-oes gaan hê, terwyl ander tot so min as géén oes gaan hê nie.” VL het vroeër vanjaar ná die baie reën aansoek gedoen dat gebiede wat die swaarste getref is, as rampgebiede verklaar word. Dit is egter nog nie deur die regering uitgevoer nie.
Afname in mielie-aanplantings in die Vrystaat
Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se hersiene oppervlakte- en eerste produksieskatting vir somergraangewasse vir die 2022-seisoen toon dat die geskatte oppervlakte onder mielies in die Vrystaat 1,22 miljoen hektaar is. Dié hersiene oppervlakteskatting vir die Vrystaat is 105 000ha minder as die vorige seisoen se 1,32 miljoen hektaar waarop mielies aangeplant is. Die oppervlakte onder witmielies is 826 500ha en 395 000ha is onder geelmielies.
Daarmee saam is die verwagte mielie-oes van die provinsie 6,08 miljoen ton. Dit is 944 750 ton minder as die vorige seisoen se finale oes, waar 7,03 miljoen ton deur die Vrystaat gelewer is. Die produksieskatting vir witmielies is 3,71 miljoen ton en 2,37 miljoen ton vir geelmielies.
Minder oppervlakte onder mielies in die land
Die hersiene oppervlakteskatting toon ook dat minder mielies dié produksie-seisoen oor die land heen aangeplant is, teenoor die vorige seisoen. Die hersiene oppervlakteskatting onder mielies is 2,61 miljoen hektaar, wat bykans 142 000ha minder is as wat die vorige seisoen aangeplant is. Dit is egter 3 800ha meer as die voorlopige oppervlakteskatting wat in Januarie vanjaar vrygestel is. Die geskatte oppervlakte onder witmielies het ’n afname van 0,3% teenoor aanplantings van die vorige seisoen getoon. Geelmielies se oppervlakteskatting beloop 1,04 miljoen hektaar. Dit is bykans 2% minder as die vorige seisoen.
Kleiner mielie-oes word verwag
Die nasionale oesskatting vir mielies in die 2022-produksie-seisoen is 14,53 miljoen ton. Dit is 11% of 1,78 miljoen ton minder as die vorige seisoen se oes van 16,32 miljoen ton. Die produksieskatting van witmielies is 7,5 miljoen ton, wat meer as 12% minder is as die vorige seisoen. Produksie van geelmielies word op 6,99 miljoen ton geraam, wat sowat 9% minder is as die vorige seisoen se 7,71 miljoen ton. Die geskatte opbrengs is 5,56ton/ha teenoor die vorige seisoen se opbrengs van 5,89ton/ha. Vir meer inligting, skakel Wilken by 051 444 4609 of besoek www.vrystaatlandbou.co.za. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit