Estimated reading time: 3 minutes
Debbie Bester (39) is vandeesweek as Senwes se nuwe hoof uitvoerende beampte aangewys. Sy sal die leisels op 1 April 2025 by die aftredende HUB, Francois Strydom (64), oorneem.
Danie Minnaar, voorsitter van Senwes, sê na ‘n 7-maande werwingsproses het Senwes se raad eenparig op Bester besluit. “Die direksie het gesoek na ‘n persoon met visie, wat in spanverband kan werk en wat die vertroue van die belanghebbendes het. Natuurlik was onkreukbare integriteit en empatie ook geweldig belangrik.”
Bester het reeds diep spore in Senwes se strategiese beplanning gespeel. Minnaar sê sy het veral ‘n groot rol in die verlede gespeel om te verseker dat daar die groep se kostes fyn dopgehou word en die klem deurgaans op doeltreffendheid geplaas word. “Dié gepaste aanwending van kapitaal in alle vorme asook die meting daarvan het ons groep al baie verbeter en het al deel geword van ons strategiese besluitneming.”

Plaaslike én internasionale ervaring
Bester is gebore en getoë in die Vrystaat en het haar loopbaan in finansies by PriceWaterhouseCooper (PWC) afgeskop. Sy het onder meer in Amerika gaan werk om daar internasionale ervaring op te doen.
Uiteindelik het sy teruggekeer na Suid-Afrika en het sy ‘n betrekking by die Suidwes Groep aanvaar. Daar het sy die korporatiewe leer geklim en is eers bevorder tot groep finansiële bestuurder en in Julie 2019 is sy as hoof finansiële beampte aangestel.
Na die samesmelting tussen Suidwes en Senwes in Oktober 2020 het sy die rol van finansiële direkteur by Hinterland beklee en is in Julie 2021 aangestel as uitvoerende bestuurder: Groeprapportering en Korporatiewe Finansies. Debbie het vir ‘n tydperk waargeneem as hoof finansiële beampte waarna sy in 2023 bevorder is tot uitvoerende bestuurder: Finansies en Besigheidsheidsontwerp. In hierdie rol het Debbie gefokus op groeitransaksies en die verbeterings van besigheidsprosesse vir ‘n periode van 2 jaar waar sy waardevolle ondervinding opgedoen het om besigheidkompleksiteite te verstaan in die hoogs diverse Senwes Groep.
Al dié ervaring het haar ‘n ideale kandidaat vir die HUB-pos gemaak. “Haar kennis en ondervinding asook begrip van die sektor is baie goed, omdat sy al langer hierin betrokke is,” sê Minnaar. “Die direksie het eenparig besluit om Bester aan te stel na ‘n omvattende onafhanklike opvolg- en werwingsproses.”
Strydom tree af
Na 14 jaar in die rol van HUB het Strydom besluit om af te tree.
Minnaar het hom bedank vir die uitstaande tydperk wat hy dié rol beklee het en geloof vir die uitstaande groei en suksesse wat die groep bereik het gedurende dié tyd.
Strydom se suksesvolle loopbaan het in 2001 by die maatskappy begin, waar hy aanvanklik met die bestuur en uittrede van sekere besighede in die groep gehandel het.
In Junie 2002 word hy bevorder tot die hoof operasionele beampte voordat hy in Augustus 2010 bevorder word tot HUB van die groep. “Ons bedank Francois vir sy lojale diens oor die afgelope 24 jaar en sy waardevolle bydrae om die Senwes Groep op te bou tot die suksesvolle besigheid wat dit vandag is.”
Onder Strydom se leiding het Senwes een van die grootste landboumaatskappye in Suid Afrika geword met besighede regdeur sewe van die nege provinsies asook met ‘n John Deere landboutoerustingbesigheid in Duitsland.
Hoewel Bester die leisels op 1 April 2025 by Strydom oorneem, sal hy tot 31 Julie 2025 steeds beskikbaar wees om ‘n gladde oorgang en oorhandiging van leierskap te verseker.
Bester is die eerste vrou wat in dié rol in die maatskappy sal dien. – Susan Marais, Plaas Media