Tuesday, October 8, 2024

Vroeë rumenontwikkeling bied langtermynvoordele

Estimated reading time: 4 minutes

’n Goed ontwikkelde en ten volle funksionele rumen stel herkouers in staat om voer vir optimale produksie te benut. ’n Kalf of lam word egter nie met ’n funksionele rumen gebore nie.

Om gesonde kalwers en lammers suksesvol en ekonomies groot te maak, is dit nodig dat hul rumens (grootpense) vroeg reeds ontwikkel, sodat hulle vaste voer kan begin verteer en hul voedingsafhanklikheid van melk kan verminder.

Daar is baie voordele verbonde aan die aanmoediging van vroeë rumenontwikkeling, aangesien die kalf of lam dan minder geneig is om spysverteringsteurnisse te ontwikkel en die risiko vir vrektes aansienlik afneem. Melk is ’n ‘duur’ voer vir jong diere, terwyl weiding baie goedkoper is. Ruvoer (weiding, hooi) moet vanaf geboorte beskikbaar wees en met konsentrate (graan, korrels) aangevul word om die rumen te ontwikkel en groei te ondersteun.

Die langtermynvoordele van rumenontwikkeling vanaf ’n jong ouderdom, sluit in die moontlikheid om vroeër te speen, verhoogde weerstand teen speenskok, verbeterde massatoename (teikenmassas word makliker bereik) en verminderde voerkoste, omdat die kalf lae-koste produkte soos ruvoer meer doeltreffend kan benut.

Eerste voeding en die rumen

Die dieet wat aan die jong herkouer voorsien word het ’n direkte uitwerking op die ontwikkeling van sy rumen. Die kalf of lamvoedingsprogram is ’n belangrike aspek in die oorgang van ’n sogende na ’n herkouende dier.

In jong kalwers en lammers is die rumenpapille onderontwikkeld. Daarby is die spierlaag van die rumen en die bloedvate minimaal, en is die rumenwand dun en effens deursigtig. Kalwers en lammers benodig ’n fisies en funksioneel ontwikkelde rumen om aan latere volwasse produksie-eise te voldoen. Die jong rumen sal egter onontwikkeld bly indien die regte voeding en aanvullings nie voorsien word nie.

Die rol van vlugtige vetsure

Die produksie van vlugtige vetsure is noodsaaklik vir die ontwikkeling van die rumenpapille. Die teenwoordigheid en absorpsie van vlugtige vetsure dryf rumenepiteel-metabolisme en stimuleer rumenontwikkeling. ’n Deurlopende teenwoordigheid van vlugtige vetsure handhaaf dus die groei, grootte en funksie van die rumenpapille.

Melk of melkvervanger is aanvanklik die primêre dieet van kalwers en lammers, maar dit beperk die liggaam se vermoë om rumenontwikkeling te stimuleer. Navorsing oor rumenontwikkeling fokus vandag op dieetmanipulasie, en daarom probeer ons om die tempo en omvang van die ontwikkeling te optimaliseer.

Goeie rumenontwikkeling is
permanent en moet vroeg in
die herkouer se leeftyd
aangespreek word.

Vastekos-inname stimuleer rumenmikrobiese groei en proliferasie, terwyl die produksie van vlugtige vetsure rumenepiteel-ontwikkeling inisieer en onderhou. Konsentrate en diëte wat stysel, sellulose en minerale bevat, verhoog die tempo van rumenontwikkeling.

Droë voere is hoofsaaklik verantwoordelik vir die ontwikkeling van die rumen. Die vertering van grane gee aanleiding tot die vorming van die vlugtige vetsure botter- en propioonsuur. Bottersuur dra hoofsaaklik tot die ontwikkeling van die rumenpapille by, asook die bloedvate wat die rumen bedek. Die verhoogde produksie en absorpsie van bottersuur en propionaat stimuleer epiteelontwikkeling in die rumen.

Daar kan ook van natuurlike byvoeding gebruik gemaak word om rumenontwikkeling te stimuleer, byvoorbeeld sekere probiotika-mengsels. Ruvoer of growwe voere lewer die ‘krap’-effek wat met die ontwikkeling van die rumenwand en-spiere help.

Nuwe produkontwikkeling

Goeie rumenontwikkeling is permanent en moet vroeg in die herkouer se leeftyd aangespreek word. Vandag bestaan daar ook natuurlik ontwerpte produkte om rumenontwikkeling aan te help. Natuurlike produkte wat selektiewe rumenmikroorganismes bevat, kan aan kalwers en lammers doseer word om rumenontwikkeling te bevorder. Die toediening van hierdie produkte tussen die ouderdom van 14 en 30 dae, sal die ontwikkeling van die rumen ondersteun en versnel.

Lees meer oor rumengesondheid.

Megasphaera elsdenii is ’n bakteriese spesie van die rumen wat laktaat gebruik om bottersuur te produseer. Soos genoem is bottersuur een van die belangrike vlugtige vetsure wat by die ontwikkeling van die rumen betrokke is.

Aangesien laktaat volop in die rumen van jong kalwers en lammers is, is die toediening van M. elsdenii aangewese om bottersuurproduksie te verhoog en sodoende die ontwikkeling van die rumen te bevorder. Gesels gerus met jou plaaslike veearts vir meer inligting in dié verband. – dr Johan van Rensburg (BVSc MRCVS), besturende direkteur, ABE Biotech

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rensburg by 082 336 5498 of johan@abebiotech.co.za.

Popular stories