Die meeste operasies en patrollies fokus op die runners wat vee steel. Daar word ontsettend baie energie, tyd en hulpbronne ingespan deur boere en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om veediefstal te bekamp maar tans is dit ’n verlore stryd. Daar sal van strategie verander moet om die vlaag van veediefstal te stuit. Dit kan slegs gedoen word deur na die omvang, modus operandi van die sindikate, en afsetpunte van gesteelde vee te kyk.

Omvang en waarde van gesteelde vee

Daar is jaarliks meer as 131 000 gevalle van veediefstal wat gerapporteer word. Die Vrystaat alleen het jaarliks ongeveer 4 000 veediefstalsake wat gerapporteer word. ’n Beduidende hoeveelheid veediefstal word nie aangemeld nie, aangesien boere voel dat daar in elk geval niks gedoen gaan word nie, wat beteken dat daar nog duisende gevalle bygevoeg moet word.

Volgens Statistiek Suid-Afrika is die nie-rapportering ten opsigte van veediefstal sowat 70,7%. Unisa beraam die waarde van vee wat gesteel is gedurende 2019/2020 teen sowat R1 179 458 600. Gemiddeld word daar sowat 182 beeste, 282 skape en 138 bokke per dag gesteel in Suid-Afrika.

Die pad tussen Ficksburg en Senekal is gemoniteer en daar was gemiddeld 40 voertuie met waentjies wat skape vervoer het per maand. Die waentjies het ten minste 30 skape op wat op ’n totaal van 14 400 skape per jaar neerkom wat vervoer word, slegs op hierdie roete tussen Ficksburg en Senekal. 

Waar is die afsetgebied?

Die meerderheid van die publiek se opinie is dat die vee wat gesteel word, in die informele nedersettings gebruik word vir kos. Wanneer ons egter na die syfers kyk, is dit duidelik dat daar nie so groot informele mark vir vee bestaan nie. Bheki Cele, minister van polisie, het tydens sy besoek ná die moord op Brendin Horner gevra waarheen die gesteelde vee gaan en hoe die diefstal plaasvind.

Vee word deur runners gesteel wat so min as R500 per nag verdien. Hierdie persone steel genoeg vee om aan die bestelling te voldoen. Hierdie vee word dan óf versteek vir ’n wyle, óf dadelik op bakkies en waentjies gelaai om versprei te word. Skape wat oorbly ná daar aan die bestelling voldoen is, word in die plaaslike informele nedersettings verkoop.

Vee word vir etlike kilometers aangejaag en jong lammers wat die proses stadiger maak word summier doodgeslaan. Vee word dan na buurlande en plase vervoer tot die saak afgekoel het. Burgers van Lesotho is baie keer betrokke by veediefstal in die Vrystaat en boere in Lesotho gaan gebuk onder dieselfde sindikate.

https://agriorbit.com/veediefstal-suid-afrikaanse-statistiek-in-oenskou/

Waar gaan gesteelde vee heen?

Die omvang van veediefstal is net te groot om slegs op die informele mark verkoop te word. Die gesteelde vee word van voor af gemerk en weer in die produksieketting ingebring. Skape word weer op veilings verkoop aan boere, veespekulante en abattoirs. Veediefstal is dus ’n gespesialiseerde, georganiseerde misdaad.

Om veediefstal dus effektief te bekamp sal daar na alternatiewe benaderings of strategieë gekyk moet word. Dit is duidelik dat daar gefokus moet word op die vervoer, afsetpunte, kopers en identifikasie van vee om die hele veediefstalkring te kan destabiliseer. Die Vrystaat se provinsiale SAPD-kantoor het reeds baie in dié verband gedoen. Daar was die afgelope jaar verskeie operasies deur die provinsie gehou.

Een van die operasies het behels dat daar vir ’n paar maande voertuie met waentjies wat vee vervoer voorgekeer is om hulle dokumentasie en vragte na te gaan. Talle van hierdie voertuigbestuurders het nie die korrekte dokumentasie gehad nie. Mettertyd het talle van hierdie persone hul eie brandmerke geregistreer en op dokumentasie gebruik – selfs Lesotho-burgers het hul eie geregistreerde brandmerke.

Boetes is uitgereik maar was vir verskeie redes teruggetrek of bloot nie betaal nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) weier soms volstrek om hierdie persone te vervolg of skrap sake van die hofrol. Hierdie tendens moet ook dringende aandag kry. Sake wat net teruggetrek of geskrap word maak die harde werk van die SAPD ongedaan en ontmoedig hulle om in die toekoms iets aan hierdie probleem te doen. Veeboere dra op die ou end die gevolge van swak vervolging. Sake word eenvoudig terug getrek en al die harde werk van die SAPD gaan verlore. Veeboere is die wat al die verliese moet dra van swak vervolging.

Al hoe die probleem daadwerklik opgelos sal word, is om te verseker dat die oortreders voor die hof gebring word. Dokumentasie en eienaarskap van vee sal noukeurig nagegaan moet word en oortreders moet vervolg word. Veediefstal moet as georganiseerde misdaad ondersoek word, met die nodige kundiges. – Persverklaring, Saai