Monday, December 8, 2025

Volhoubare haarwurmbestuur

Estimated reading time: 4 minutes

Jare se roekelose dosering het die swakker haarwurmpopulasie uitgewis en daartoe gelei dat wurms wat teen die middels bestand is, vermeerder en oorheers het. Haarwurms broei gewoonlik na goeie reën en warm nagte uit, en beweeg in die dou op groen gras. Wanneer skape die gras vreet, neem hulle die wurms in. Sowat 20 dae later begin die parasiete bloed suig, wat tot bloedarmoede kan lei en selfs vrektes kan veroorsaak.

Doelgerigte, selektiewe dosering moet toegepas word deur skape met bleek oogslymvliese te doseer.

Hier volg ‘n aantal wenke om haarwurm verantwoordelik te bestuur en weerstand te voorkom en verminder.

  • Moet nooit die hele kudde gelyktydig doseer nie. Los die gesondste diere en doseer die res van die kudde.
  • Pas doelgerigte, selektiewe dosering (DSD) toe deur slegs skape met bleek oogslymvliese, ’n sak onder die ken (kwakkeel), swak kondisietellings, diarree (misklonte onder stert) en neusuitloopsel (neuswurm) te doseer.
  • Moenie diere direk na dosering na ’n skoon kamp skuif nie, aangesien die nuwe kamp besmet sal word met weerstandige wurms wat die behandeling oorleef het.
  • Doen gereeld ’n miswurmeiertelling om die parasietvlakke te bepaal.
  • Voer jaarliks ’n miseiertelling-reduksietoets uit om te bepaal watter van die vyf belangrikste middels die beste werk. Sodra die doeltreffendste middel geïdentifiseer is, moet dit verantwoordelik gebruik word. Neem telkens voor dosering en tien dae na dosering monsters om te bepaal of die middel steeds doeltreffend is.
  • Moenie besluite te neem op grond van spesiale aanbiedings of gratis produkte nie. Moet ook nie jou buurman vra nie; vra eerder jou veearts om ’n toets op te stel om die beste middel te bepaal.
  • Gee jou skape genoeg voer en lek, en behandel hulle vir spoorelementtekorte. Versterk hul immuniteit strategies met spoorelemente (Embamin TE V21478) en vitamien A (Embavit V21477) wanneer die moontlikheid van wurms hoër is, soos tydens laktasie, na speen en tydens warm, vogtige weer.
  • Waar moontlik, gebruik slegs middels wat ’n enkele aktiewe bestanddeel bevat. Dit voorkom dat weerstand gelyktydig teen twee of drie groepe aktiewe bestanddele ontwikkel.
  • Kies ramme wat haarwurmweerstand bied, verdraagsaamheid toon en dus saam met parasiete kan leef. Doen herhaaldelike individuele miseiertellings by jong vervangingsramme en merk ooie wat herhaalde DSD benodig vir uitskot. Betrek jou veearts by die seleksie van vervangingsdiere.
  • Behandel slegs jong lammers ouer as ses weke met Moksidektien, drie weke ná die eerste goeie lentereën en wanneer konstante warm nagte voorkom. Doen elke 14 dae ’n Famacha-toets en doseer slegs lammers wat aan die DSD-beginsels voldoen.
  • Hou jou omgewing dop. Moenie kwesbare jaaroue- of speenlammers in kampe met damme, vleie, weidings onder besproeiing, of kampe met hoë haarwurmladings plaas nie.
  • Pas streng biosekuriteit toe. Stoetramme het gewoonlik ‘stoet’-haarwurms weens gereelde dosering. Ander parasiete kan ook ingebring word, soos bruinmaagwurm en longwurm wat uit die winterreënvalgebiede na besproeide weidings kan versprei. ’n Voorbeeld is knoppieswurm wat vanaf die Noord-Kaap na die Noordoos-Kaap oorgedra is.

Haarwurm by lammers

Lammers het by geboorte geen immuniteit teen haarwurm nie. In ’n droë jaar word hulle geleidelik blootgestel en bou so immuniteit op. Hulle kan ondersteun word met kruipvoer, Embamin TE (V21478) en Embavit (V21477).

In ’n jaar met hoë reënval kan besmetting vinnig plaasvind en die lammers oorweldig. Hulle moet met miseiertellings gemonitor word en as ’n skielike styging voorkom, moet die hele kudde met Moksidektien behandel word. Daarna moet hulle elke 21 dae ondersoek en individueel behandel word.

As lammers voor speen ’n ernstige haarwurmbesmetting ontwikkel, kan ’n kombinasie van Moksidektien en Praziquantel gebruik word. Hierdie kombinasie word ook aanbeveel in seisoene met hoë reënval en warm weer tydens lamtyd, wanneer die oudste lammers ses weke oud is.

Miseiertellings moet in alle gevalle voor behandeling en tien dae na behandeling gedoen word om die doeltreffendheid van Moksidektien te bepaal. Ons ondervind dikwels dat genoeg haarwurms oorbly om immuniteit te bevorder. Dit is die enigste tyd wanneer behandeling van die hele kudde geregverdig is. DSD word in alle ander gevalle aanbeveel.

Om die voortgesette doeltreffendheid van Moksidektien te verseker, behoort produkte uit groep een nie gereeld op die plaas gebruik te word nie. Dit help om die ontwikkeling van wurmweerstand te voorkom.

Die sleutel tot volhoubare parasietbestuur in ’n kudde is om saam met jou kuddeveearts te werk en alle besluite op feite te baseer. Moenie raai nie – toets! – Dr Johan van Rooyen, Steynsberg Dierehospitaal

Kontak dr Johan van Rooyen, kleinveekuddegesondheidspesialis, by 082 463 3087 (WhatsApp), of Wandile Khave, kuddegesondheidsbestuurder, by 066 393 6271.

Must read

Katoen-verwysingsprys: Week van 1 tot 5 Desember

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee....

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 48 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these...

RSG Landbou: 8 Desember 2025 – geborg deur BKB

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor haarwurm en ons gesels met Rensgrow Beefmaster oor hulle boerdery. Haarwurm Het jy geweet, haarwurm is...

LandbouRadio: 8 Desember 2025

In Maandag, 8 Desember se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Prof Michiel Scholtz, spesialisnavorser by die Landbounavorsingsraad, praat oor die klimaatslim beesvleiswerkswinkel wat...

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas Trywell in Carnarvon, was die naaswenner van die Noord-Kaapse Jongboer...