Volhoubare boerdery: ’n Winsgewende en verantwoordelike keuse

63

Estimated reading time: 4 minutes

Volhoubaarheid is nie net ’n metode om by veranderinge aan te pas en die huidige en toekomstige generasies se behoeftes te versoen nie, dit is ook ’n metode om meer winsgewend te kan boer.

Dit, in ’n neutedop, was die boodskap van ’n regstreekse paneelbespreking wat op die Nasie in Gesprek-verhoog by Nampo Kaap plaasgevind het. Herman de Kock, uitvoerende hoof van verkope en diens by Nedbank Kommersiële Banksake het dié paneelbespreking gefasiliteer. Die paneellede was dr Johann Strauss van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, dr Tara Southey, stigter en uitvoerende hoof van die presisielandboumaatskappy, TerraClim, Fanie Ferreira, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie (MPO) en Shelly Fuller, programbestuurder vir volhoubare landbou by die Wêreldnatuurlewefonds Suid-Afrika (WWF SA).

Finansiële lewensvatbaarheid is die grootste, mees onmiddellike voordeel

Die paneellede het almal volhoubaarheid bepleit en verskeie voorbeelde gegee van produsente wat finansieel voordeel trek uit goeie rentmeesterskap van hulpbronne. Ferreira, wat ook onlangs die wenner van die MPO Nedbank Rentmeesterskap-toekenning vir 2023 aangekondig het, het dit kortliks gestel: Volhoubaarheid is gelykstaande aan winsgewendheid vir melkprodusente.

“Hierdie jaar het al ons finaliste genoem dat die finansiële lewensvatbaarheid van volhoubare boerdery die grootste voordeel is. Hoewel hulle begryp dat die aanvanklike belegging groot is, en die reis vyf tot tien jaar kan neem, pluk hulle reeds die vrugte daarvan om eerder saam met die natuur te werk as daarteen.”

Fuller stem saam: “Ons Bewaringskampioeneprogram is ’n vennootskap van meer as 20 jaar tussen Nedbank, die WWF en die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die doel is om te verhoed dat wingerde die Wes-Kaap se unieke floraryk bedreig en moedig herlewingsboerderypraktyke aan.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf staan nou bekend as ’n markleier, met 95% van ons wyne wat volhoubaar onder die bedryf se omgewingsertifiseringskema, Geïntegreerde Produksie van Wyn (IPW), geproduseer word. Selfs nadat hulle die ergste droogte in dekades beleef het en ’n voortdurende veranderende klimaat trotseer, kon die meeste plase wat deel is van die Bewaringskampioeneprogram, hul produktiwiteit volhou en hul besighede van krag tot krag laat gaan.”

Strauss, wat navorsing oor bewaringslandbou lei, sê dat produsente wat van konvensionele na volhoubare boerdery oorgeskakel het, die Wes-Kaap tussen 2002 en 2020 ongeveer R440 miljoen in omgewingskade  onkostes bespaar het. Hierdie navorsing is ’n prioriteitsprojek van die Wes-Kaapse SmartAgri-plan.

 “Die drie boublokke van volhoubare boerdery – minimale grondversteuring, biodiversiteit deur wisselbou, en grondbedekking met lewende gewasse of oesreste – is eenvoudig en kostedoeltreffend oor die lang termyn. Interessant genoeg, op plase waar hierdie beginsels toegepas word, is daar bewyse dat die grond se veerkragtigheid toeneem as jy die oes-opbrengste en herstelperiodes van die erge droogtes van 2015, 2017 en 2019 met mekaar vergelyk.

Tegnologie maak meer volhoubare boerdery moontlik

Nog ’n aspek waaroor die paneel saamgestem het, is die rol van innovasie en versameling van groot data om produsente in staat te stel om met minder hulpbronne steeds meer te produseer en volhoubaar te boer.

Southey glo dat dit nou belangriker as ooit tevore is om data te gebruik om besluite te neem en planne te beraam om by klimaatsverandering en markverskuiwings aan te pas en die impak te demper. Sy het TerraClim gestig terwyl sy navorsing vir haar PhD in wingerdbou en klimaatsverandering gedoen het, en ontdek het dat daar onvoldoende klimaatsdata beskikbaar was.

“Ons fokus nou daarop om ’n geïntegreerde klimaat-, geografiese inligtingstelsel-, afstandswaarneming- en gewasdatabasis te bou om beleidmakers van hierdie noodsaaklike inligting te voorsien. Dit sal ook produsente help om die veranderinge wat hulle gewasse ondergaan te verstaan, en gevolglik ingeligte besluite te neem en aan te pas.

Ferreira is dit eens dat tegnologie ’n belangrike rol speel in die verbetering van opbrengste en die neem van slim besluite. “Ek het in die 1980’s in die suiwelbedryf begin, toe daar meer as 28 000 melkprodusente in Suid-Afrika was. Nou is daar minder as 900, maar hulle produseer meer melk met minder koeie as al daardie produsente saam. Daar is deesdae soveel verwikkelinge in die bedryf, soos koeibestuurstelsels, digitale melkstalstelsels en vooruitgang in genomika wat beter teeluitkomste dryf. Dit alles gee melkprodusente die voorsprong om hul opbrengste te maksimaliseer en hul diere beter te versorg.”


Kyk die onderhoud hieronder:


Fuller glo sterk in volhoubare boerdery. Sy sê dit kom op die volgende neer: “Produsente sien die voordele om met die natuur saam te span – soos ’n sakevennoot – en om die natuur se dienste te bewaar en te benut. In hierdie lig, en met die stygende insetkoste, word die keuse vir volhoubare boerdery makliker en belangriker as die uitslae.”

Dink groter. Dink Nedbank Kommersiële Banksake.

Stuur ’n e-pos na agriculture@nedbank.co.za om meer uit te vind.

Nedbank logo