voëlgriep
Gevalle van die H5-variant van die hoogs aansteeklike voëlgriep toon sedert laat verlede jaar ’n afname op kommersiële plase. Foto: Christal-Lize Muller.

Gevalle van die H5-variant van die hoogs aansteeklike voëlgriep (HPAI) het sedert Oktober verlede jaar ’n afname op kommersiële hoenderplase getoon, maar daar word steeds ’n beroep op produsente gedoen om uiters waaksaam te wees.

Volgens Izaak Breitenbach, algemene bestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, word die risiko vir verdere uitbrekings verhoog weens die feit dat wilde voëlpopulasies wat die virus kan versprei, steeds positief toets. Hy sê die situasie rakende uitbrekings prut nou en dit is goeie nuus vir die bedryf. Maar Suid-Afrika is steeds nie buite gevaar nie. Die risiko ten opsigte van die hoogs aansteeklike voëlgriep sal slegs verdwyn sodra wilde voëlpopulasies negatief toets.

Uitbrekings op kommersiële plase

Die eerste uitbreking is verlede jaar in April op ’n kommersiële lêhoenderplaas naby Ekurhuleni aan die Oos-Rand aangemeld en sowat 240 000 henne is van kant gemaak. Breitenbach sê dit is gevolg deur ’n toename in gevalle in verskeie provinsies wat in Augustus verlede jaar ’n piek bereik het. Vandaar het ’n stelselmatige afname gevolg, en teen Oktober verlede jaar het infeksies van kommersiële hoenders tot en met Januarie 2022, ’n redelike afname getoon. “Ons kry steeds een of twee uitbrekings tweeweekliks op kommersiële plase,” sê Breitenbach.

Die meeste uitbrekings verlede jaar onder kommersiële hoenders het in die Wes-Kaap voorgekom, gevolg deur Gauteng en KwaZulu-Natal. Breitenbach sê in die geval van Gauteng is dit nie die presiese grens nie, want van die uitbrekings was in Noordwes op die grens van Gauteng. 

Volgens Breitenbach is altesaam 3,1 miljoen siek hoenders verlede jaar van kant gemaak. Tweederdes daarvan was kommersiële lêhenne wat tafeleiers produseer en en-derde was braaikuiken-verwante hoenders wat die virus opgedoen het.

Toetsing van wilde voëls

Hy verduidelik dat wilde voëlpopulasies as ’n voorkomingsmaatreël vir voëlgriep getoets word in ’n poging om te probeer vasstel waar dié siekte volgende kan uitbreek.

“As daar wilde voëls positief is met voëlgriep, dan weet ons daar is ’n risiko in daardie gebied.”

Wilde voëls, hoofsaaklik watervoëls en veral valke, toets nou positief in die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal. 

Volgens Breitenbach is infeksies wat nou onder hoenderpopulasies voorkom se oorsprong vanaf wilde voëls. Dit verskil van die situasie in 2017 waar infeksies se oorsprong op hoenderplase self was, en na ander hoenderplase versprei het. Dit was nie die geval met die uitbrekings in 2021 nie, waar infeksies se oorsprong vanaf veral watervoëls soos eende was en na hoenderplase oorgedra is.   

Breitenbach sê daar is deur virustipering vasgestel dat wilde voëls met die virus in Suid-Afrika se infeksie vanaf Europa afkomstig is. Met plaaslike voëls wat positief toets, is dit duidelik dat daar ’n potensiële bron van infeksie bestaan.

Streng biosekuriteitmaatreëls

Biosekuriteitsmaatreëls word by hoenderhokke op plase opgeskerp sodra wilde voël-populasies in ’n nabygeleë gebied positief toets vir voëlgriep. Die toetsing vind plaas deur monsters van die wilde voëls se mis te neem.

Breitenbach sê hoenderhokke op plase in gebiede waar wilde voëls positief getoets het, word onmiddellik as ’n voorkomende maatreël aan verhoogde biosekuriteit onderwerp. Produsente maak ook seker dat hoenders wat moontlik blootgestel kan word se weerstand goed is, en dié hoenders word getoets om vas te stel of hulle voëlgriep het. Vrylopende hoenders (free range) word dan in hokke gehou en nie meer buite toegelaat nie. Toegang tot hokke word streng beperk.  

Noue samewerking met die staat

Hy sê daar is goeie samewerking tussen die hoenderbedryf (produsente), en die staat in terme van die toetsing van wilde voëls en hoenderpopulasies op kommersiële plase en by kleinboere as  voorkomingsmaatreëls. Die departement versamel sy eie inligting, maar produsente toets ook hul eie hoenders op plase, en selfs wilde voëls en kleinboere se hoenders in hul direkte omgewing.

Voëlgriep is ’n beheerde siekte, wat produsente verplig om die department daarvan te verwittig wanneer ’n uitbreking voorkom. As daar byvoorbeeld ’n positiewe uitslag by wilde eende in ’n gebied is,  moet produsente wat daarvan bewus is die departement in kennis stel en omgekeerd.  

Streng beheermaatreëls

Streng beheermaatreëls geld steeds, en word toegepas met uitbrekings van voëlgriep op plase. Wanneer steekproewe toon daar is hoenders wat positief toets, word dit by ’n staatsveearts aangemeld en die geraakte hoenders word onder kwarantyn geplaas. Geen hoenders of eiers mag die plaas verlaat nie en verdere toetsing vind dan plaas. Sodra ’n positiewe uitslag bevestig word, moet die siek hoenders op die plaas van kant gemaak word. Dít word volgens internasionaal aanvaarde standaarde gedoen in samewerking met staatsveeartse en die Nasionale Dierbeskermingsvereniging.

Situasie in die buiteland

Breitenbach sê verskeie Europese lande soos Nederland, Duitsland, Frankryk en Spanje gaan nou onder die H5-variant van die voëlgriepvirus gebuk, en sukkel om dit af te skud.

“Dit maak ons in Suid-Afrika bekommerd, want as Europa sukkel om die siekte af te skud kan ons ook moontlik sukkel om daarvan ontslae te raak,” sê Breitenbach. Tog is Suid-Afrika nou in die middel van sy somer, en die algemene verwagting is dat minder hoenders siek word in die somer as in die winter.  

Al is daar ’n afname in uitbrekings, word Suid-Afrika se uitvoersituasie negatief geraak omdat geen hoender na Suid-Afrika se grootste uitvoerland, die Verenigde Arabiese Emirate, en ander Afrika-lande,  uitgevoer mag word nie.

Volgens Breitenbach is dit ook hoogs onwaarskynlik dat die H5-variant van die voëlgriepvirus na die mens kan versprei, omdat die virus eers moet muteer om na mense oorgedra te word. Daar was ’n geval in Japan waar iemand positief getoets het, maar in die algemeen hou dié variant nie ’n direkte gevaar vir die mens in nie.

Vir meer inligting, kontak Izaak Breitenbach by 060 938 9635 of stuur ’n epos na izaak@sapoultry.co.za. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit