Estimated reading time: 4 minutes
’n Intensiewe voedingsprojek wat goeie dividende op ’n Karoo-plaas lewer, het uitgeloop op ’n inligtingsdag wat gesamentlik deur BKB en The House of Fibre aangebied is. Die doel daarvan was om lig op die projek te werp en oor die algemeen te kyk na maniere waarop produsente hul Angorabok-boerderye se winsgewendheid kan verhoog.
Die byeenkoms het op Aloedale plaasgevind, waar Fourie de Jager die afgelope vyf jaar ’n intensiewe, data-gekombineerde voedingsprojek op sy Angora-kudde toepas. Hy het aan besoekers verduidelik hoe hy ’n paar jaar gelede, te midde van ’n fel droogte, verskillende opsies oorweeg het om sy klein- en jongbokkieverliese te beperk, en om sy bokke se algemene gesondheid en veselproduksie te verbeter.


Dit het hom by dr Chris Landman van Landman-gesondheidsdienste uitgebring, en saam het hulle daarin geslaag om die kudde se welstand op ’n volhoubare wyse te verbeter – soveel so dat Fourie se klein- en jongbokkie-verliese tot onder 4% gedaal het. Die voedingsprojek hou ook verskeie ander voordele in, soos ’n verbeterde uitgroeipotensiaal en om bokke wat geneties uitval, reeds vroeg te identifiseer.



Van die ander sprekers was Jordi van Hasselt van Hasselt Boerdery, wat oor waardetoevoeging tot ’n Angora-boerdery gepraat het, Pierre van der Vyver, algemene bestuurder by The House of Fibre, wat die huidige marktendense bespreek het, en Isak Staats, BKB se hoofbestuurder van wol en sybokhaar, wat oor nuus uit die natuurlike veselkantoor gesels het.
Kyk meer van die Angora-voedingsprojek op PlaasTV hier.
Vir meer inligting, kontak The House of Fibre by 041 503 3460, of BKB by 041 503 3111.