’n Wond wat met spykerwurm (brommerlarwes) besmet is.

Brommers en vlieë val onder die familie Diptera en gaan deur vier fases in hul lewensiklus, naamlik die eier, larf, papie en volwasse vlieg/brommer. Eersgenoemde drie stadiums is onvolwasse stadiums.

Read this in English.

Huis-, stal- en gesigvlieë is die vernaamste tipe vlieë wat op plase aangetref word. Hul getalle kan geweldig verhoog in die somer, gedurende nat toestande en wanneer kompos en mis beskikbaar is. Elke kilogram mis of kompos kan tot 5 000 vlieglarwes bevat. Hierdie vliegspesies irriteer diere en veroorsaak dat hul voerinname afneem. Hulle kan potensieel ook siektes soos brusellose, ooginfeksies, salmonella en mastitis oordra.

Brommers is ’n lastige plaag wat nie net siektes kan oordra nie, maar ook groot weefselskade aan diere kan aanrig. Volwasse brommers kom vrylewend voor, maar die maaiers (onvolwasse stadium, ook bekend as “spykerwurm”) voed op diereweefsel.

Doeltreffende beheer

Piretroïed-bevattende dippe of opgietmiddels soos Decaspot 0,5% (G1447), Clout (G1447), Triatix Plus Pour-on (G3434) en Decatix 3 (G1348) is doeltreffend teen vlieë. Hou die omgewing skoon, herstel waterlekke en sprei kompos en mis uit sodat dit droog word. Lokaas met vlieggif kan in bakkies uitgesit word.

Brommers moet beheer word deur karkasse te verwyder. Eiers word in karkasse gelê en broei onder gunstige omstandighede binne agt tot twaalf ure uit. Larwe kan binne drie dae klaar gevoed en vervel wees, en nog agt dae later kan die papiestadium voltooi wees en as ’n volwassene te voorskyn kom.

Onder ongunstige toestande, soos in die wintermaande, kan hierdie proses egter met ’n paar maande vertraag word. Brommers se getalle neem veral ná die eerste lentereëns toe, maar neem dan weer in die warm somermaande af en styg weer in die herfs.

Veterinêre belang

Verskeie soorte brommers word in verskillende stadiums na verrottende dieremateriaal gelok. Groenbrommers, koperstertbrommers en bloubrommers daag gewoonlik eerste by ’n karkas op, waar hulle voed en eiers lê. Hierdie brommers speel ook ’n rol in die verspreiding van miltsiekte oor groot afstande. Die larwes van dié brommers het oorwegend gladde liggame.

In sommige toestande pas primêre brommers aan om op lewende dieremateriaal, eerder as op karkasmateriaal, aan te teel. Hierdie omstandighede vind veral plaas wanneer daar langdurige vog in die wol van skape is, wat ontbinding van die wol en boonste vellae veroorsaak (klontwol).

Skape waarvan die wol gedurig nat is, is veral vatbaar. Omstandighede wat hiertoe aanleiding kan gee, is diarree, sweterigheid in velvoue, vagvrot, ander wonde en lang wol rondom die peester of vulva.

Nadat ontbinding en die teenwoordigheid van primêre brommers veroorsaak het dat dieremateriaal begin versap, word sekondêre brommers (gestreepte brommers) gelok. Hierdie larwes is “harig” weens uitsteeksels op hul liggame. In gevalle waar primêre brommers lewende diere aanval, vergroot die larwes die wond verder deur tonnels in die lewende weefsels in te grawe.

Goeie higiëne

Ektoparasietmiddels kan in gevaartye vir brommers (September tot Maart in die somerreënstreek, of Maart tot Augustus in die winterreënstreek) op skape gespuit word en kan in samewerking met goeie higiëne op die plaas ingespan word in die stryd teen brommers. Goeie plaashigiëne sluit in om karkasse vroegtydig te verbrand of te begrawe. Probeer sover moontlik wonde voorkom wat brommers sal aanlok. Diere se sterte moenie te lank of te kort wees nie. Die wol op die broekgedeelte kan ook geskeer word, veral by ooie.

Dipmiddels kan spesifiek op hoë-risiko dele van die liggaam (soos die broekarea of rondom wonde) toegedien word. ’n Ideale middel wat brommeraanvalle verhoed, is Expel Plus Jetting Fluid (G4027), wat Novaluron bevat en ’n insekgroeireguleerder is wat voorkom dat die onvolwasse stadiums tot volwassenes kan ontwikkel. Dit bevat ook ivermektiene, wat rooikopluise en brommermaaiers met kontak doodmaak en ’n nawerkende aksie het. Expel Plus Jetting Fluid bied beskerming teen brommeraanvalle vir tot 16 weke.

By skape wat reeds deur larwes aangeval is, moet die wol rondom die wond geskeer, soveel larwes as moontlik moet uitgeskraap en die wond moet ontsmet word. Expel-wondsproei (G3245) is ideal vir wondbehandeling. Dit bevat deltametrien, wat spykerwurms in die wond voorkom, en dit ontsmet die wond terselfdertyd. Langwerkende antibiotikums kan ook help om besmette wonde vinniger te laat genees. – dr Sumari Potgieter, tegniese en produkbestuurder by Afrivet

Vir meer inligting en verwysings, skakel 012 817 9060 of 0860 VEEARTS, of besoek die webtuiste www.afrivet.co.za.

Afrivet

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY