Estimated reading time: 3 minutes

Die onlangse verbod op die vervoer van beeste, het veeveilings in die land tot stillstand geruk. Dit volg na die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, die beweging van beeste in Suid-Afrika op 16 Augustus vir 21 dae opgeskort het.

Suid-Afrika ervaar tans meer as 100 uitbrekings van bek-en-klouseer, wat plase, voerkrale en kommunale gebiede in KwaZulu-Natal, Limpopo, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat insluit. Die enigste uitsondering sal gemaak word vir beeste wat direk by geregistreerde abattoirs geslag gaan word, vergesel van ‘n veeartsenykundige sertifikaat, en vir beeste wat vir rituele doeleindes geslag moet word.

Lees meer oor die wegholbrande in Limpopo hier.

Vleissentraal moes gevolglik veeveilings wat binne hierdie tydperk val, uitstel of kanselleer, aangesien beeste nie na en van veilings verskuif mag word nie.

Die volgende wysigings is aan nasionale veilings gemaak:

  • Sussex Nasionale Veiling (Bloemfontein-skougronde): 18 Augustus 2022 – Uitgestel na 29 September 2022
  • Charolais Nasionale Veiling (Bloemfontein): 19 Augustus 2022 – Uitgestel na 7 Oktober 2022
  • Simbra Nasionale Veiling (Afridome, Parys): 9 September 2022 – Verander na aanlynveiling op 8 September 2022
  • Nguni Nasionale Veiling: 8 Oktober 2022 – Gekanselleer.

Luister saam na Vleissentraal se AgriOnAir-potgooi oor veevervoer hier.

Wenke vir goeie biosekuriteit

Biosekuriteit op die plaas het ten doel om die risiko dat siektes na jou plaas ‘ingevoer’ word, te verlaag. ’n Geslote kudde is waarskynlik een van die belangrikste faktore wat biosekuriteit kan verbeter. Tweede is om ’n stel maatreëls in plek te hê wat voldoende kwarantyn, gereelde toetsing en inenting teen siektes, beheer van besoekers en voertuie op die plaas, en omgewingsbestuur insluit.

Die invoer van siektes deur onbewustelik siek diere na jou plaas te bring, is seker een van die grootste biosekuriteitsrisiko’s. Die sêding dat ’n mens maklik stoetbosluise of -wurms saam met nuwe diere inkoop, is baie waar.

Daar is gelukkig baie wat die produsent kan doen om dit te vermy, deur byvoorbeeld slegs diere van kuddes te koop waarvan die gesondheidstatus bekend is. ’n Strategie om siektes te identifiseer behoort ook saam met die plaaslike veearts opgestel te word, waarvolgens diere gereeld vir bepaalde siektes getoets word.

Lees meer oor kuddeverbetering by die onlangse Reitz-beesdag hier.

’n Kwarantynstrategie wat lank genoeg is vir onderliggende siektes om tot uiting te kom, of vir akute siektes om genees te word, is ook nodig. Daarmee saam moet inentingsprotokolle in plek wees vir nuwe diere wat die plaas binnekom, voordat hulle aan die res van die kudde blootgestel word.

Jou bestuurstrategie moet ook daarop gerig wees om blootstelling van die diere aan patogene te beperk. Dit behels onder meer die beperking van kontak tussen jou eie diere en dié van die buurman, kontak met wilde diere, en kontak met potensieel besmette voorwerpe soos klere, toerusting, kos en water. Diensverskaffers en besoekers kan ook onbewustelik patogene aan hulle klere of voertuie die plaas binnebring. – Saamgestel deur Elmarie Helberg, Plaas Media.