Calvinia is skaapwêreld en die laaste naweek in Augustus is almal en alles in en om die dorp in rep en roer wanneer die jaarlikse Hantam Vleisfees op 25 en 26 Augustus plaasvind.

Vanjaar vind dié fees vir die 28ste keer plaas en die hoofdoel daarvan is steeds, soos toe dit in 1990 alles begin het, om die heerlike, geurige skaapvleis van die streek te bevorder. Beslis ’n hoogtepunt op die kalender.

“Die 28ste fees gaan ten spyte van die droogte aangebied word en beloof weer eens om ’n bielie van ’n fees te wees, met heerlike skaapvleis, roosterkoek en eiesoortige vermaak soos het die Hantammers dit kan doen. Ons sien uit na nog ’n suksesvolle Hantam Vleisfees,” sê Lizette Lambrechts van die Hantam Vleisfees.

Feesgangers kan vanjaar uitsien na nege van ons land se top kunstenaars, onder andere Brendan Peyper, Leah, Wicus van der Merwe, Die Klipwerf Orkes, Dillon Lerm, Christo en Cobus, Sam en Calla, Viljoen Retief en Armand Steenkamp.

Om seker te maak dat jy nie vanjaar se fees misloop nie, kan jy jou verblyf bespreek op die Hantam Vleisfees-webblad. Daar is 19 gastehuise om van te kus en te keur. Kaartjies sal by die hekke beskikbaar wees op die dag van die fees en toegang sluit die vasdans en vertonings van kunstenaars in. –Persverklaring

Lees hier oor vorige jare se Hantam Vleisfees: 

27ste Hantam Vleisfees bars uit sy nate

Hantam Vleisfees vier sy 26ste jaar

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY