Vivo
Die Vivo Boerebemarkingsdag groei sterk en raak ʼn boerefees van formaat met 160 groot sake-ondernemings gekoppel aan die skou.

Estimated reading time: 2 minutes

Die Vivo Boerebemarkingsdag groei sterk en raak ʼn boerefees van formaat. Vanjaar het 160 groot sake-ondernemings gekoppel aan die landbou uitstallings aangebied, teenoor die 110 van verlede jaar. Daar was ook talle kleiner deelnemers wat veral kos en drinkgoed aangebied het.

CT van der Merwe, voorsitter van die reëlingskomitee, sê die boeredag het die voormalige Aartappelfees vervang en dit het ten doel om boere van die hele omgewing die geleentheid te gee om op ʼn ander vlak te kommunikeer, besigheidsverhoudinge te vestig, en terselfdertyd kennis te maak met die nuutste tegnologie wat vir die verskillende vertakkings van boerdery in die omgewing beskikbaar is.

Lees meer oor die 2023 Bloemskou hier.

ʼn Tipiese voorbeeld is die beskikbaarheid en aanwending van hommeltuie in boerderye in die algemeen, en besproeiingsboerdery in die besonder wat vanjaar groot aandag getrek het. Daar was praktiese demonstrasies sodat boere kon sien presies hoe dit werk.

Daarby is die oogmerk om geld in te samel vir die CVO Skool Vivo, wat sonder enige staatshulp sowat 200 kinders van alle ouderdomme bedien. Stephanie van der Merwe, bemarker van die boeredag, sê van die kinders kom van so ver as die Weipe-besproeiingsgebied wat sowat 100km ver is.

ʼn Belangrike uitvloeisel van die boeredag is dat dit die ekonomie van die omgewing, wat swaar op toerisme leun en erg deur die Covid-pandemie getref is, ʼn hupstoot gee.

Die stalletjies waar kos en drinkgoed verskaf word, is aan kerke en hulporganisasies beskikbaargestel en die biertent is vanjaar aan ʼn ander private skool gegee om te bedryf sodat hulle ook geld kan insamel. Ondernemings wat huisvesting aanbied, vind ook groot baat.

Lees meer oor die onlangse Ede Holsteins-boerdedag hier.

Die oogmerk is om die boeredag nóg verder uit te brei en die moontlikheid dat dit uiteindelik as die Nampo van Limpopo bekend kan word, is nie uitgesluit nie, sê Stephanie.

CT voeg by dat hy dink hulle slaag grootliks in hul doelstellings om groter samehorigheid onder boere te bevorder, die nuwe tegnologie bekend te stel, en die ekonomie te stimuleer. – Andries Gouws, AgriOrbit