Marisah Nieuwoudt. Foto: The Friday Street Club.

Ten einde groei en momentum aan die plaaslike wyntoerismemark te verleen, het VinPro Marisah Nieuwoudt as bestuurder van wyntoerisme aangestel.

Read it in English.

Haar aanstelling vorm deel van ’n wyntoerismestrategie wat samewerking tussen die verskeie belanghebbers in die wyn- en toerismesektor, die regering en privaatsektor bevorder. Die wynbedryf se strategiese raamwerk, bekend as WISE, het wyntoerisme as ’n sleutelprioriteit vir groei in die sektor geïdentifiseer.

“Die wyntoerismestrategie se doel is om die wyn- en toerismesektor byeen te bring om ’n groter deel van internasionale en plaaslike reisigers te lok wat gretig is om wyer as die grense van die welbekende toerismebesienswaardighede te verken, deur aan hulle unieke kulturele, kulinêre en buitelewe-ervarings te bied,” sê Christo Conradie, bestuurder van wynkelders/landbou-ekonomie en wyntoerisme by VinPro.

Marisah is ’n ervare toerismebemarker en navorser met ’n agtergrond in kommunikasie, media- en handelsverhoudinge, digitalerekeningbestuur en verkope. Haar mees onlangse rol in navorsing by Kaapstad-toerisme het haar strategiese en analitiese vaardighede versterk.

“Ek is opgewonde om met hierdie fantastiese produk, naamlik ons wynlande, asook die uitstekende span by VinPro, saam te werk,” sê Marisah. “Ek sien daarna uit om saam met ons streke die wyntoerismestrategie tot ’n aksieplan te transformeer, en om meer plaaslike en oorsese besoekers te oorreed om ons wynroetes te verken en daarna telkens terug te keer.

“Elke streek het ’n sterk gevoel van plek en gemeenskap wat met die landskap, geskiedenis en kultuur van hul dorp of stad saamgeweef is. Dit is ’n groot verantwoordelikheid om ’n besoeker te vind wat die bestemming met respek verken. Dit is egter presies hierdie kompleksiteit van bestemmingsbemarking waarop ek my hart al lank gelede verloor het.” – Persverklaring

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY